Sy is ’n tenger 16. Sy sit op haar bed se rand, ’n glas water in haar hand en ’n berg pille op die spieëltafel. Die briefie is reeds geskryf en in haar ma se bedkassie gesit. Die glimlag, wat sy daagliks op haar gesig plak, het plek gemaak vir hoe sy regtig voel. Skuldig. Gebroke. Uitsigloos.
“Hoe verloor ’n mens op 16 jou lus vir die lewe?” vra Elvira Joubert. Sy sit in haar RVLTN (Revelation)-koffiewinkel in Heidelberg, Gauteng. Sy is ’n suksesvolle sakevrou, gelukkig getroud, ma van twee.
“’n Mens verloor jou lus vir die lewe wanneer jy die vyand se leuens glo,” antwoord sy haar eie vraag, en vertel haar storie. Sy was skaars ’n jaar oud toe haar pa sy eie lewe geneem het. “Nog lank daarna het ek geglo dis mý skuld. Dat ek te ‘moeilik’ was en dat hy daarom besluit het om ons te verlaat.”
Dit was eers op haar troudag dat Elvira besef het presies hoe kwaad sy vir haar pa was. Toe sy in die paadjie afstap kansel toe, het die woede in haar opgestoot. Sy het gedink: “My biologiese pa moes vandag hier gewees het, maar hy is nie.”

Gelukkig was stiefpa Gert, wat Elvira “’n engel uit die hemel” noem, aan haar sy. Toe Pa Gert per ongeluk op haar trourok se soom trap, het sy ’n waarheid oor stiefpa’s besef: Hulle kies om óf in jou lewe in te trap óf daaruit.
Sy moes haar biologiese pa vergewe, dít het sy geweet. Toe skryf sy ’n brief. Dit het kwaai begin: “Pappa, vanaand mis ek Pappa, maar ek ken jou nie … Ek weet nie wie jy was nie.” Sy het geskryf dat sy graag sou wou weet hoe hy geklink, geloop en geruik het. En dat sy wonder of hy met haar kinders sou wou speel en hulle sou liefhê. “Of sou Pappa opgee, soos met my?”
LEES OOK: ‘My hart is flenters,’ sê ma oor 12-jarige se selfdood ná boeliegedrag
Verderaan in die brief het haar hart, en haar woorde, sagter geword. Sy het onder meer geskryf: “Ek is jammer dat ek nie kon ‘bye’ sê nie. Jammer ek kon nie vir Pappa van Jesus vertel nie. Ek het gedink ek moes Pappa red, maar vandag weet ek slegs Jesus red.” Dan dié sleutelsin: “Vanaand, met my hele hart, vergewe ek Pappa, ek spreek jou vry.”
Die leemte in haar hart
Maar dit het lank geduur om die leemte in haar hart op die regte manier te vul. Sy vertel: “As ek die horlosie kon terugdraai, sou ek aan my tienerself sê: Moenie jou waarde in ’n man gaan soek nie. Jou ware identiteit lê elders.”
Op hoërskool was Elvira omring deur vriende. En nooit sonder ’n kêrel nie. “Ek was die partytjie-meisie. Die ‘lewe’ in die groep. Die hokkiekaptein, nie omdat ek goed was nie, maar omdat ek die gees in die span gebring het.” Sy het altyd gelag, was altyd vrolik. “Maar hierbinne was ek stoksielalleen. Sielsgebroke.”

Sy was 16 toe die destydse Woodstock-fees Heidelberg toe gekom het. “My goeie Christen-ma het my belet om te gaan.” Natuurlik het sy nie geluister nie, en daardie aand het sy haar maagdelikheid verloor. Die ‘morning after’-pil wat sy by die staatskliniek gaan haal het, het nie haar gewete gesus nie.
“Ek het so vuil gevoel. Goedkoop en nikswerd.” Omdat sy boonop bereid was om ’n moontlike lewetjie dood te maak, was haar skuldgevoel nog groter. Daarom die poging om haarself om die lewe te bring. “Dis die hart se bedoeling wat saak maak, en my bedoeling was verkeerd.”
Tog het sy toe reeds van beter geweet. Lank voor die Woodstock-makietie, en jare daarna, het Elvira keer op keer haar hart vir die Here gegee. Net om telkens weer daarvan te vergeet.
Die Heilige Gees se vuur
“Op ons wittebrood het alles eensklaps verander,” onthou sy. Sy en haar man Christo het daardie oggend in die kombuis gestaan. “Ek, met ’n sigaret in die hand, terwyl ek drank in my koffie wou gooi. Skielik was daar ’n geweldige brandgevoel in my hart, dit was soos ’n heilige vuur wat in my brand.”
Sy het vir Christo gevra: “Waarmee is ons besig? Is hierdie regtig die soort lewe wat ons wil lei?” Met dié woorde het sy omgedraai en haar ma gebel. Sy wou weet wat die vreemde gevoel in haar hart kon wees.
Haar ma het gejuig: “My kind, dit is waarvoor ek al jare lank my knieë deurbid. As vandag in woorde opgesom kan word, sal dit wees: ‘This is the day the Lord has made, I will rejoice and be glad in Him!’”
Elvira het besef dis die vuur van die Heilige Gees wat in haar binneste gebrand het. En tot vandag toe brand dit steeds hoog. “Soos vuurwerk het dit, in ’n oogwink, my passie en roeping aan die brand gesteek.”
Haar ma het altyd gesê dat Elvira eendag ander vroue sal bemagtig. “Maar ek het bly wonder: Wanneer, en hoe?”
Die antwoord het in 2020 gekom, die jaar van Covid-19. Terwyl restaurante reg oor die land hul deure gesluit het, het Elvira en Christo gehoor dat die Here vir hulle sê: “Maak ’n koffiewinkel oop, en noem dit Revelation.” Hulle het besluit om dit RVLTN te spel.
Elvira vertel: “Terwyl ons bou en breek, verf en mooi maak, het ek duidelik in my geestesoog gesien hoe die sitplekke gevul word deur mense wat kom om God se rus en vrede te ervaar. Ek het gesien hoe huwelike herstel, hoe familielede, broers en susters, met mekaar versoen word. Hoe nuwe netwerke gebou word en mense oor kultuurgrense heen mekaar se hande vat.”
Die plan was ook dat die koffiewinkel ’n platform moet wees waar die gemeenskap met hul talente kan kom woeker, mits die Here al die eer daarvoor kry. En so is die eerste werksessie gereël: ’n ‘royal icing’-koekieversierklas.
Die begin van groot dinge
“Wat beteken ‘royal’ vir jou?” was die vraag in haar hart. Mooi blink krone met edelstene, natuurlik! En so het Elvira begin om na sulke krone te soek. Uiteindelik kon sy vyf opspoor – maar daar het vier-en-twintig vroue vir daardie eerste sessie opgedaag. Hoe nou gemaak?
“Vyf is genoeg vir vandag,” het die Here haar gerusgestel.
Dit was ’n onvergeetlike dag, en die begin van groot dinge. Elvira onthou hoe sy na die eerste vrou toe gestap het. “Die vrou het haar oë toegemaak en onbedaarlik begin huil. Toe ek die kroon op haar kop sit, het die Here bevestig: ‘Elvira, dít is jou doel op aarde.’”
Voortaan sou sy ander vroue aan hul waarde voor God herinner, en aan hul identiteit in Jesus.
By elke kroningsgeleentheid wat sy sedertdien oor die ganse Suid-Afrika hou, en binnekort ook in die buiteland, beleef sy dit: “Daar gebeur iets baie spesiaal wanneer ek ’n kroon op ’n vrou se kop sit. Haar gesig verhelder. Sy onthou weer sy is ’n Koningskind.”
Dié bediening het sedertdien uitgebrei, en ook mans en kinders word gekroon. En pa’s kroon hul dogters.
Haar doel met dié kronings?
Om die besef in mense aan te wakker dat hulle goed genoeg is, dat Jesus hulle raaksien. Op ’n simboliese wyse word elkeen se unieke passie en roeping geaktiveer, in hul gesin, hul vriendekring, hul werkomgewing en hul gemeenskap.
Elvira sê: “Ons weet nie meer wie ons is nie omdat ons vergeet het wie s’n ons is. Die duiwel steel ons identiteit voordat ons besef wat ons waarde is en hoe groot ons potensiaal is. So steel die Bose as ’t ware ons asem.”
‘Mamma, ek is so jammer’
Sy dink terug aan die tiener wat eens op ’n tyd wou ophou asemhaal. “Ek het die pille een vir een begin sluk.” ’n Handvol op ’n slag was te moeilik. Maar dié traumatiese proses het te lank geduur – en toe het Elvira die res in die toilet afgespoel. Niemand sou weet nie …
Maar iemand het wel geweet: haar ma, wat die briefie in haar bedkassie ontdek het.
Amper twee dekades later is Elvira aan die briefie herinner. Sy vertel: “Dit was by nog ’n kroningsgeleentheid. My ma en sussie het voor in die gehoor gesit. Ek was nog op die verhoog besig om te praat toe die Here dit op my hart druk: ‘Dis tyd om jou ma om verskoning te vra.’”
Elvira het daardie destydse brief onthou. “Ek het nooit gedink hoe dit my ma sou laat voel nie. Sy het haarself jare lank verwyt omdat haar dogter, net soos haar man, selfdood wou pleeg.”
Met ’n oorweldigende gevoel van deernis en berou het Elvira haar ma reguit in die oë gekyk en gesê: “Mamma, ek is so jammer. Vergewe my, asseblief.”
Dit was woorde wat genees en heelgemaak het. Elvira sê: “Ek het geleer dat die Here eers iets in jou kom doen voordat Hy dit deur jou doen. Dit wat die Here deur ons pyn en oorwinnings vir ons kom gee – wysheid, begrip, vergifnis, genade – is nooit net vir onsself bedoel nie; Hy gee dit ook met iemand anders in gedagte.”
Vandag deel Elvira krone van identiteit, roeping en oorwinning aan ander uit, en haar stukkende verlede lê ver agter haar. Daarvoor gee sy die Here al die eer.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















