Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘My hart is flenters,’ sê ma oor 12-jarige se selfdood ná boeliegedrag

“Ek voel alleen en het nie vriende nie. Niemand is lief vir my nie. Ek is ’n loser!”

Dít was die woorde wat die 12-jarige Herman Odendaal bykans vyf jaar gelede in ’n briefie vir sy ouers agtergelaat het. Hulle het dit gevind nadat hy sy eie lewe geneem het.

Volgens sy ma Arina was Herman, haar enigste seun, se dood die gevolg van aanhoudende boeliegedrag by die skool. Dié mishandeling het reeds die vorige jaar begin.

Herman was ’n rooikop met baie sproete, en hy is daaroor gespot. Ook omdat sy voete groot was vir sy ouderdom. Hy het ’n nr 10-skoen gedra.

LEES OOK: Vrou rig houtkruis op ná mislukte selfdood: ‘Jy hoef nie ook die doringkroon te dra nie’

Hy was ’n kop langer as die meeste van sy klasmaats. Hy is fisiek geboelie maar het nooit teruggeslaan nie, al het hy oor ’n oranje belt in karate beskik. Hy wou niemand te na kom of seermaak nie.

’n Sagte kind met ’n groot hart

Arina Odendaal (43) woon deesdae in Odendaalsrus in die Vrystaat. Sy praat openlik oor dié swaar tyd in hul gesin se lewe. “My moederhart is in duisende stukkies,” sê sy vandag. “Die skuldgevoelens rý my. Ek moes dinge vroeër raakgesien het, ek moes fyner opgelet het.

“Herman was ’n sagte kind met ’n groot hart. Hy het altyd ander mense probeer help. Hy was ’n dromer, passievol oor rugby, en wou eendag vir die Springbokke uitdraf. Hy wou ook boer.

“Sy ander belangstelling was mes-makery. Hy het daarvan gehou om met sy hande te werk en dinge reg te maak. Hy was daarom gek oor sy laaste Kersgeskenk – ’n eie toolbox.”

Volgens Arina was Herman diep gelowig. Hy het ’n noue verhouding met God gehad. “Ek het hom baie aande ná slaaptyd nog gekry waar hy Bybelstudie doen.

“Ons twee het ’n baie hegte ma-en-seun-verhouding gehad. ’n Oop verhouding, waarin ons oor alles kon gesels. Herman en sy ousus Jo-Ri, sy is nou 19, was ook erg oor mekaar. Hulle het soms koppe gestamp, maar kon ure lank gesels en speletjies speel.”

Volgens Arina het Herman die grond aanbid waarop sy pa Johan loop. Hulle het dikwels saam gaan visvang en graag oor rugby gesels, oor sport in die algemeen en oor boerdery.

‘Meer as wat ons besef het’

“Die geboelie op skool het hom meer geraak as wat ons ooit besef het. Hy het ons daarvan vertel en ons het dit by die skool gaan rapporteer. Hulle het geluister en sou werk maak daarvan.

“Maar ek vermoed dit het juis die probleem vererger. Daarom het ons besluit om hom die volgende jaar, wanneer hy hoërskool toe sou gaan, by ’n ander skool te gaan inskryf.”

Volgens Arina het Herman voor sy selfdood nie anders as gewoonlik opgetree nie. “Herman was ’n stil kind, soms emosioneel. Dit was sy geaardheid. Boonop was dit Covid-19-tyd en ons het sy frustrasies daaraan toegeskryf.

“Maar ja, ons het definitief sekere tekens misgekyk. Veral toe hy sy bed in sy kamer toegepak het sodat dit ’n klein hokkie gevorm het. Hy het hom meer en meer begin afsonder, ook van ons, sy eie mense.”

‘Ek het op Johan geskreeu’

Op Sondag 19 Julie 2020 het die gesin se lewe vir altyd verander.  

Arina vertel: “My man Johan onthou dat hy dié oggend vir Herman hoor werskaf het in die kombuis. Hy was besig om vir hom ontbyt en tee te maak. Daarna is hy buitentoe om te gaan speel. Ek het daardie oggend laat geslaap en eers so halftien wakker geword. Ek het Johan gevra of Jo-Ri en Herman al wakker is om vir ons koffie te maak.

“Hy het toe op Herman geroep, maar daar was geen reaksie nie. Gewoonlik kom hy dadelik as ons hom roep. Ek het toe opgestaan om te kyk waar hy is. Sy hondjie was alleen in sy kamer, wat vir my vreemd was.

“Toe ek by die agterdeur uitkyk, het dit gelyk asof hy langs die boom op sy knieë staan. Ek het hom geroep. Daar was geen reaksie nie. Eers toe ek nader gaan, het ek die tou om sy nek gesien.

“Ek het op Johan geskreeu en hy en Jo-Ri het by die huis uitgestorm. Ons het die tou om sy nek losgemaak en hom die huis probeer indra, maar hy was net te swaar.

“Ek en Jo-Ri het dadelik noodhulp begin toepas en daarmee volgehou totdat hulp opgedaag het. Die dokter het hom dood verklaar.

“Ek was histeries en het hard gegil.”

Jo-Ri het die briefie in Herman se bedkassie gekry. Sy het dit gelees en vir haar pa gegee. Hy het dit vir Arina se suster gegee wat dit aan die polisie oorhandig het.

“Ek het nooit die briefie gesien nie,” sê Arina. “Maar die woorde ‘ek het geen vriende nie en niemand is lief vir my nie,’ het my hard geslaan. Ons was tog ’n liefdevolle gesin en Herman het wel ’n beste maatjie gehad.”

‘Ek was stom van verdriet’

“’n Mens se lewe verander soos handomkeer as jou kind sy eie lewe neem. Die leemte, die gebrokenheid, die gemis. Die drukkies! Dis iets wat ek nooit gedroom het ooit met my sal gebeur nie. Geen ouer verwag so iets nie.”

Hoe het sy weer die mas opgekom?

“Jy neem dit eers sekonde vir sekonde, en later dag vir dag. Dit vreet jou lewendig op. Jy leef met ’n konstante warboel emosies: bittere hartseer, woede, verwyt.

“Ja, ek is soms kwaad vir die Here. Ek blameer Hom, maar ek glo ook dat jy vir God moeilike vrae  mag vra. Soos ‘hoekom?’ Dat jy eendag wel antwoorde sal kry.

“’n Mens mag met die Here worstel. Maar jy mag nie jou geloof verloor nie, want dan sal jy ten gronde gaan.

“Ek het ’n lang tyd nie gebid of my Bybel gelees nie. Ek kon nie. Ek was stom van verdriet. Maar ek het mettertyd weer met die Here begin praat en my Bybel gelees. Ek is steeds lief vir Hom, maar dit bly ’n worstelstryd.

“Tog sien ek die goeie dinge wat Hy doen, hoe Hy my dra, my in sy liefde toevou.”

’n Houtkruis waar die boom was

Die gesin het besluit om die boom waar Herman hom opgehang het af te kap. Hulle het ’n houtkruis daar geplant. “Ter herinnering aan Herman. Om sy lewe te vier, om hom te vereer.  

“Dan was daar die leë kamer. Dit het ses maande geduur voordat ek sy klere kon wegpak. Ek het baie van sy goedjies net so in bokse saam met ons getrek nadat ons drie jaar gelede weg is uit Kestell en ons in Odendaalsrus kom vestig het.”

Arina vertel dat die gemeenskap wonderlik ondersteunend was. “Hulle het kos aangedra, ons gereeld kom besoek. ’n Anonieme skenker het selfs Jo-Ri se skoolgeld vir die jaar betaal. Die mense wou ons vertroos en bystaan.”

‘Uiteindelik is ek maar net ’n ma’

“Dit het my baie gehelp om oor Herman te praat.

“Daar was ook baie kinders wat briefies en boodskappe aan ons gestuur het. Kinders wat dankie gesê het dat Herman die houe namens hulle gevat het as hulle ook geboelie is. Dit was vir ons baie spesiaal.

“Ons kry steeds swaar, ons mis Herman elke dag. Daar is elke dag ’n ietsie wat ons met hom wil deel. Veral Jo-Ri mis hom baie. Sy sal dikwels sê: ‘As Herman maar net eerder met my kom praat het …’

“Dis al amper vyf jaar later. Ek moet sommige dae steeds sekonde vir sekonde hanteer. Want ek sal altyd die klank van sy stem mis. Sy glimlag, wat ’n hele vertrek kon opvrolik. En sy grappies.

“Dan troos ek my daaraan dat ek hom eendag weer sal sien.

“Want uiteindelik is ek net ’n ma, wat haar kind oneindig liefhet en hom baie mis.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►