Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Eens ’n dwelmverslaafde op straat; nou ’n berader vir verslaafdes: ‘God het my nooit gelos nie’

“Ek het van God af weggedraai, maar Hy het my nie gelos nie. Daarom is ek vandag nog hier.”

Só getuig Daniela Beukman, ’n gerehabiliteerde heroïenverslaafde.

’n Vuil lewe en ’n skoon hemp

Daniela vertel van ’n foto wat haar tot stilstand geruk het: Fotograaf Pieter Hugo het haar destyds op straat genader om vir ’n foto te poseer. Sy moes ’n kraakvars wit hemp aantrek, pêrel-oorbelle aansit en ’n string pêrels om haar nek hang. Haar songebrande, verweerde gesig het skerp hierteen afgesteek.

Sy vertel: “Ek het daardie wit hemp net so oor my vuil lyf aangetrek; my denim en skoene was stukkend. Ek moes die hemp ná die tyd teruggee.”

LEES OOK: Dwelmverslaafde, bosslaper, dief: ‘Sonder God is dít weer my voorland’

Daardie foto is dwarsoor die wêreld uitgestal. Op ’n dag het Daniela die foto in ’n galery in Kaapstad gesien. “Dit was asof my lewensreis my tot daar gelei het, tot op daardie oomblik. Eensklaps was God se planne vir my duidelik. Dit was ’n asemrowende belewenis.”

Nagte in Joe Slovo is veiliger as op straat

Sy vertel dat sy maar 16 was toe sy begin het om dagga te rook. Daarna was dit net afdraand – tot by ’n heroïen-naald op 22.

Sy het langer as 16 jaar ’n stryd teen dwelms gevoer. Sy was tuis tussen ander verslaafdes. Ook haar man Allen het dwelms gebruik.

“Alle verslaafdes het slegs eens doel voor oë,” vertel Daniela, “en dit is om geld in die hande te kry om hul verslawing te voed.” Sy sê sy het gereeld geld onder vals voorwendsels by mense in die hande gekry. Sy het selfs by haar familie gesteel ten einde dwelms te koop.

In daardie tyd het sy haar gereeld in die Joe Slovo-informele buurt in Langa, Kaapstad, bevind. Daar was dit dikwels veiliger om te slaap as op straat. “Dis ook waar ek my dwelms gekry het.”

Die dwelms het haar donker oomblikke en gevaarlike situasies laat beleef. Haar huwelik was in die moeilikheid en sy was alleen op straat. Om haar het mense gesterf – sommige van ’n oordosis, terwyl ander bloot aan die slaap geraak en nooit weer wakker geword het nie. Daniela het elke dag vir haar lewe gevrees. In daardie stadium het sy skaars 45 kg geweeg.

Toe ’n vriend oplaas hulp aanbied, het Daniela en Allen dit aangegryp. Hulle is met ’n bus na die Hope Again-rehabilitasiesentrum in Potchefstroom, waar hul behandeling begin het.

Ná nege dae se onttrekking het Daniela gesmag na die een of ander opkikker. Sy vertel: “Ek kon aan niks anders dink as my behoefte aan dwelms nie. Maar daardie dag het ek ’n besluit geneem. Ek het besef dat as ek by die hek uitstap ek nie weer my pad terug sal kry nie. Ek was siek en sat daarvoor om siek en sat te wees.”

Daarop het sy haar na God gewend en alles in sy hande gelaat.

Daniela en Allen het nooit weer teruggekyk nie. Hulle het pas 18 jaar se getroude lewe gevier.

Ná die rehabilitasie voltooi is, het Daniela by die sentrum aangebly. Sy het as vrywilliger gewerk en haar tussendeur as berader bekwaam. “Deesdae,” lag sy, “wanneer ek aan die wilde kant van die lewe wil loop, drink ek ’n Red Bull.”

Op ’n goeie plek

Daniela sê sy is lief vir die lewe, en sy vertel graag haar storie. Sy getuig oor haar geloof. Sy vertel ook hoe sy en Allen weer hul twee kinders, Kyle (30) en Alex (16), se vertroue moes wen. En hoe hulle as gesin aan genesing moes werk.

Daniela se ma en suster moes die kinders versorg toe sy en Allen in die sentrum was. Daniela vertel: “My kinders het baie trauma beleef. Ek en Allen moes hulle om vergifnis vra en hulle die geleentheid gee om hul seerkry met ons te deel.”

Die vier praat deesdae openhartig met mekaar. “En deur God se genade is my kinders nou op ’n goeie plek,” sê hul ma.

Intussen het die sentrum vir Allen gehelp om werk te kry in Durban. Daniela het vir dieselfde maatskappy gewerk totdat sy haar opleiding as berader voltooi het.

Allen het onlangs ’n oorplasing Kaapstad toe gekry. Daniela sê hulle het twee jaar lank vir dié geleentheid gebid. “Maar ons maak nie ons eie planne nie; ons steun op God en sy plan vir ons.”

Wanneer Daniela deesdae die verkeersligte sien waar sy eens gestaan en bedel het, herken sy nie meer daardie deel van haar lewensreis nie. Sy sê ook dat destyds se emosies nie meer ’n rol in haar lewe speel nie. “Ek dink nie meer daaraan nie. God het my nuut gemaak; ek is ’n ander mens. Die afgelope vyf jaar het ek dit nooit oorweeg om weer dwelms te gebruik nie.”

Daniela, Allen en Alex wys hulle drie katkinders. Foto verskaf

’n Gebroke mens met ’n storie

As berader is dit vir Daniela belangrik om ’n veilige ruimte te bied aan die mense met wie sy ’n herstelpad stap. Sy gun hulle die tyd om hulleself te vind, om te groei. Hoewel almal nie noodwendig so ver afdwaal soos wat dit met haar en Allen die geval was nie, onthou sy altyd dat sy te doene het met ’n gebroke mens met ’n storie.

Dis vir haar belangrik dat hulle weet dat sy hul stryd verstaan.

Die pad na herstel is wel persoonlik, maar dis iets wat nie alleen aangepak kan word nie. Daniela sê sy verstaan die trauma van ’n verslaafde se geliefdes. Alhoewel die verslaafde hulp nodig het en daar gewoonlik op sy of haar herstel gefokus word, het die gesinslede ook berading nodig. “Die teenoorgestelde van verslawing is ’n verbintenis met ander mense.”

Haar raad aan ’n verslaafde wat op soek is na ’n uitweg is om nie moed op te gee nie. Om uit te reik. “Daar is hoop en hulp. As jy so ver geval het, is die enigste pad boontoe.”

Die berading wat sy bied, sê Daniela, hou ook vir haar op koers. “Jy vergeet van die pyn en van die nagevolge. Wanneer ek ’n pad saam met ’n verslaafde stap, help dit my ook.”

Links is hoe Allen gelyk het voor rehabilitasie. ’n Groot kontras teenoor Allen vandag (regs). Foto verskaf

‘Ek het geweet Hy het my lief’

Vandag is Daniela veel meer as ’n gerehabiliteerde dwelmverslaafde. Sy is uitgesproke oor haar reis en haar oorwinnings, en sy is ’n toegewyde Christen. Sy vertel dat sy selfs in die donkerste tye nooit aan God se liefde vir haar getwyfel het nie. “Ek het geweet Hy het my lief. Hy het my nooit gelos nie; dis hoekom ek vandag steeds hier is. Hy het die regte mense oor my pad gestuur.”

Die Beukman-gesin is nou net meer as twee maande terug in die Kaap. Daniela lag wanneer sy vertel hoe hulle die pad Kaap toe met hul drie katte  aangepak het.

Oor die toekoms is sy egter doodernstig: “Ek en Allen het streng reëls vir mekaar gestel. As een van ons ooit weer dwelms gebruik, sal die ander een loop. Ons kinders verdien beter.”

  • Daniela is ’n gesertifiseerde berader. Sy gebruik haar reis van hoop en genesing om ander te help. Sy nooi enigeen wat sukkel met verslawing en wat hulp soek om haar te kontak by danielahope1@gmail.com.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF