Wanneer jy na die 41-jarige Garrow Coetzee se storie oor sy verlede luister, kry jy behoorlik hoendervel. Dit klink soos ’n draaiboek vir een van daardie soort flieks wat gemaak word met die doel om te skok.
As 14-jarige seun in Parow was hy reeds ’n alkoholis. Op 15 was hy ’n dwelmverslaafde. En in graad 11 het sy dwelmvoorsiener sy voorraad tydens skoolpouse soos ’n wafferse Mr Delivery kom aflewer. Voordat die onttrekkingsimptome te erg geword het …
Maar dis nog niks.
Verbeel jou hierdie toneel: ’n Man, panga in die hand, en ’n vrou het sopas ’n bejaarde vrou in haar huis oorrompel. Hulle wou haar en haar bedlêende man doodmaak en hul besittings steel, onder meer die motor.
LEES OOK: ‘Ek het nooit gedink ek sou dié prys betaal nie’
“Gelukkig het iemand ons gesien en die polisie gebel. Dié het ons daar betrap.”
Maar die slagoffer sê: “Shame, kyk hoe lyk die kinders! Kan hulle nie eers iets eet nie?”
Dit alles vertel Garrow Coetzee terwyl hy in die LiG: God se krag in my krisis-ateljee oor God se goedheid getuig. Hy vertel verder van daardie oggend: “Dit was vir my so ’n onwerklike oomblik. Ek het gedink: Ons het nou net hier by jou huis ingebreek om jou dood te maak, en jy nooi ons vir ontbyt!
“Maar die polisie hét toe ons boeie afgehaal, en ek en my destydse vrou en die polisie het om hierdie ou tannie se kombuistafel gesit en ontbyt geëet. Daarna het sy gesê: ‘God is lief vir julle. En ek hoop êrens verander dinge in julle lewe.’”
Dinge hét toe vir Garrow verander. Hy het in daardie stadium reeds ses jaar lank op straat gewoon. Ná twee maande in die tronk het hy weer op straat beland – maar dié keer het hy nie weer mense beroof of enigiets gesteel nie. Hy vertel: “Ek het met God ’n ooreenkoms aangegaan. Ja, my werklikheid was toe steeds dat ek ’n dwelmverslaafde was en op straat gewoon het, maar ek het nie meer ander mense te na gekom nie.”
Om aan die lewe te bly het hy met ’n bordjie by ’n verkeerslig gaan staan en bedel. “Of ek was een van daardie irriterende mense in die parkeerterrein wat met ’n láng storie kom geld vra.”
Garrow, wat vandag in Houtbaai woon, vertel hy het twee jaar lank só vasgebyt. Maar hy het ook begin bid en gesê: “God, ek probeer.”
Hy het gewonder wanneer dinge dan vir hom gaan verander …
Op ’n dag het hy geryloop. En iemand wat, soos hy dit stel, aan God gehoorsaam was, het hom opgelaai en vir middagete genooi. Só het Nelis Engelbrecht, ’n fotograaf, ’n pad met Garrow begin stap. Garrow se uitgesproke behoefte was eenvoudig: “Ek kort hulp, nie geld nie.”
Hy is in ’n restourasiesentrum opgeneem. Daarna is hy na ’n sogenaamde “halfway house”. Dit was vir hom die brug tussen sy ou en sy nuwe lewe.
Hy het op ’n wonderbaarlike manier werk gekry, vertel hy. Misdaadrekord en al. “Dinge het begin vorentoe gaan. Daar was steeds uitdagende tye. Maar my manier van ‘cope’ met die lewe het verander.”
“Happy!” is hoe Garrow vandag sy lewe beskryf. Hy is reeds sowat 11 jaar lank “skoon”. Hy is in April 2017 met Melanie getroud en is nou die trotse pa van drie kinders. “God het my vrou vir my gegee; ek het haar nie gekies nie. Ek wéét dus ek het die regte vrou,” lag hy.
“Omdat ek ’n ander kant van die lewe en ’n ander kant van God gesien het, is my verwysingsraamwerk heel anders as baie ander mense s’n. Hulle sal dalk ’n moeilike maand beleef, skuld maak, en miskien dink dis die einde van die wêreld. Ék weet ek het nie al hierdie dinge nodig nie. Ek het agt jaar lank met eintlik niks nie oor die weg gekom. Ek wil wel vir my gesin gee wat hulle nodig het.”
Maar, vertel Garrow, wat hy wel nodig het, is sy verhouding met God. “Daar is mense wat dieselfde pad as ek loop en ná 20 jaar steeds sê hul stryd is dag-vir-dag. Maar ek is bevry. Dis nie my identiteit nie.
“En die enigste rede waarom ek arrogant genoeg is om dit te sê, is omdat ek in God gegrondves is. As ek Hom nie as die middelpunt in my lewe hou nie, is my verlede moontlik weer my voorland …”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.