Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek moes leer om op ’n sagte manier vir my huwelik te veg,’ vertel vrou ná haar man se ontrouheid

FOTO’S: CNiel Photography

Odette Ungerer, ’n ma van Benoni, sit in die vroegoggendse verkeer op pad na haar twee spruite se kleuterskool. Sy ry elke dag dieselfde roete. Maar vanoggend vang haar oog die woorde op die groot advertensiebord langs die pad, en dit tref haar in die hart: NIKS IN DIE WÊRELD IS STERKER AS SAGTHEID NIE.

Sy sluk aan die knop in haar keel en besef oombliklik: “Here, U praat mos nou met mý …”

Die grootste geveg in haar lewe

Odette se verhaal weerspieël nie net die krag van vergifnis nie, maar ook hoe ’n gebroke huwelik deur God gered is. En hoe dit kon plaasvind deur die stryd op God se sagte manier aan te pak en nie op die wêreld se hardekwas-manier nie.     

Die Ungerers se lewe was op die oog af perfek. Hulle was ’n pragtige gesin wat in ’n droomhuis gewoon het. Hulle het ’n suksesvolle sakeonderneming gehad. Asook ’n groot vriendekring saam met wie hulle oor naweke tot laatnag gekuier het.

Odette vertel: “Sondae het ek en my man Dewalt dikwels moeg en halfbabelaas in die kerk gesit. Maar ten minste was ons daar. Daardie boksie is getiek.”

Maar die krake het begin wys, en op hul seuntjie se eerste verjaardag het Odette se hele wêreld inmekaargetuimel. “Vir die eerste keer in my lewe het ek geweet hoe dit voel om ’n gebroke hart te hê,” onthou sy.

LEES OOK: ‘Ons is saam, maar ons woon apart’

Want daardie aand het Dewalt gebieg: “Ek sien nie meer kans nie; die verantwoordelikhede is te veel. En … ek het jou nie meer lief nie.”

Dit was ’n verskriklike ontnugtering. “Ek was stomgeslaan. Ek kon my ore nie glo nie. Dit was nie mý man nie; iets groots was fout. Maar wat?”

Sy het stil-stil in die bed geklim en die nag se ure omgehuil. “Teen die volgende oggend wou ek weet wat aangaan. Ek was bereid om alles in die stryd te werp om uit te vind, enigiets om my huwelik te red.” Die grootste geveg in haar lewe het begin. “Ek het begin klink soos die vrou wat in Spreuke met ’n druppende kraan vergelyk word.”

Haar aanhoudende geneul – “wat is fout, wat gaan aan?” – het haar man wel tot by ’n ontstellende erkenning gedryf: “Ja, daar is iemand anders. En ja, ek wil skei.”

Die volle omvang van dié bekentenis was egter veel erger as wat Odette haar kon indink. Haar man het nie bloot ’n buite-egtelike verhouding met ’n veel jonger vrou aangeknoop nie, hy het ook ál meer begin drink. Hy het pornografie gekyk, hy het begin dwelms gebruik. En hy het baie geld, wat hulle nie gehad het nie, op die ander vrou uitgegee.

Dit het geblyk dat hy hom in ’n diep depressie-gat bevind het. Al dié dinge was sy manier om te ontvlug, om sy probleme te probeer hanteer. Odette het gou besef dat haar uitdagings te groot was om alleen te dra en sy het na ander oplossings begin soek. “Die Here het ingegryp, en ek het toe na ’n getuienis geluister van ’n vrou in ’n soortgelyke situasie. Haar huwelik is gered. Dit was asof die Here daardeur vir my wou sê: ‘As Ek dit vir haar kon doen, kan Ek dit vir jou ook doen.”

‘Jy moet sag wees, behandel hom met liefde’

Hierop het Odette haar lewe, en die hele situasie, aan die Here oorgegee. Sy het Hom gesmeek: “Help my om my huwelik te red!”

Sy onthou die daaropvolgende stryd nog goed: “Dit was ’n daaglikse keuse om alles in God hande te plaas. Ook om, ten spyte van die omstandighede, op sy beloftes te vertrou.”

Dit was nie maklik nie.

“Ek het dit aanvanklik heeltemal verkeerd hanteer. Ek het met woorde geveg – geraas, gedreig, my man met die Bybel probeer oorrompel. Soms het ek voor Dewalt gaan staan en stukke uit die Bybel voorgelees oor wat met hom sal gebeur indien hy nie ophou met waarmee hy besig was nie.” 

Dit het niks gehelp nie. Inteendeel. Odette en die kinders moes later uit die huis trek sodat die ander vrou in hul droomhuis kon kom bly. “Ons sou destyds ’n sepie soos Days of our Lives ’n ding of twee kon wys!”

Toe breek die oggend aan toe sy verby die advertensiebord ry … en die woorde het soos ’n openbaring in haar hart geval. “Dit het gevoel soos die Here wat in my oor fluister en sê: ‘Jy moet sag wees. Behandel hom met liefde, deernis en sagmoedigheid. En vergewe. Vergewe hulle al twee.”

Odette was verdwaas en wou uitroep: “Here, sien U dan nie wat hier gebeur nie! Die verhouding gaan steeds voort, en my man het geen berou nie!”  

Tog het sy besluit om gehoorsaam te wees. Om die belofte te glo dat die Here hul huwelik sou red.

Vergifnis is ’n keuse, nie ’n gevoel nie

Odette vertel: “Ek het elke oggend gekies om my man en die ander vrou te vergewe. Ek het dit selfs in my dagboek neergeskryf.”

Sy sê sy het ook uit die Bybel begin bid, met woorde wat in ooreenstemming is met God se wil vir hul huwelik. Soms het sy gevas, en sy het selfs vir Dewalt gesalf terwyl sy vir hom ingetree het. “Sommer sy afbeelding op ’n troufoto, met ’n bietjie kookolie. Dis tog jou hart se bedoeling wat saak maak.”

’n Vlammetjie hoop het begin flikker toe die geleentheid opduik om ’n huwelikskamp by te woon. Odette het ’n ooreenkoms met haar man aangegaan: “Kom saam op die kamp – en as jy daarna steeds wil skei, sal ek die nodige vorms onderteken.”

Daardie Saterdagmiddag het die Here Dewalt se hart aangeraak en hy het hom laat doop. Odette was oorstelp van vreugde en dankbaarheid. “Maar,” sê sy, “ek wens ek kon vertel ons het teruggekom huis toe en dat alles toe perfek gewerk het.”

Dit het nie.

Hulle het stelselmatig alles verloor. “Al die dinge waarvoor ons so hard gewerk het: die huis, ons karre, die meeste van ons vriende, en later ook die sakeonderneming. Uiteindelik was Dewalt werkloos.

“Dit alles was die gevolg van verkeerde keuses in die voorafgaande maande.”

Die gesin moes ’n jaar lank hul intrek in ’n tweevertrek-opslaanhuisie neem. En ’n motor leen om oor die weg te kom. Odette vertel: “Soms het ek die yskas oopgemaak en gewonder: Wie gaan vanaand eet en wie gaan kyk? Maar ek was so bly my man was terug by ons dat ek nie omgegee het wat ons alles in die proses verloor het nie.”

Die Here was getrou. In hul nuwe situasie was Hy tasbaar teenwoordig. “Verskeie mense het begin kos aandra. Ek moes later ’n ekstra vrieskas leen. En Dewalt het ’n uitsonderlike geloofspad begin stap. Sy lewe het op elke vlak soos handomkeer verander.”

Die paartjie het ook ’n nuwe geestelike tuiste gevind: die Maranatha Community Church in Kempton Park. Odette vertel: “Die eerste Sondagoggend daar het ons op die galery gaan sit. Die tweede keer onder – maar heel agter. Teen die derde Sondag was ons heel voor. Ons sit Sondae steeds daar; dis nou meer as ’n dekade later. Hierdie kerkfamilie het ons met liefde omvou en oorweldig. Daar was geen veroordeling nie. Net opregte omgee en aanvaarding. Dit was wonderlik!”

Odette en Dewalt het ál meer by die kerk betrokke geraak. Hulle het eers by ’n selgroep aangesluit, en later as leiers in die selgroep gedien. Hulle het elke kursus bygewoon en uiteindelik deel van die gemeente se leierspan geword.

“Dewalt is waarskynlik een van die min mense wat ’n week voor die Covid-19-inperking ’n nuwe werk gekry het toe hy as een van die gemeente se pastore aangestel is.”  

Wanneer sy vandag op alles terugkyk, sê Odette, is sy verstom oor die wonderwerk wat God in hul lewe gedoen het. “Ons huwelik is sterker as ooit. God het elke gebed beantwoord. En ek weet nou dat volkome vergifnis ná ontrouheid moontlik is wanneer ’n mens die pad hand aan hand met die Here stap.”

“En,” voeg sy by, “sommige mense sê ek is amazing om so iets te moes deurmaak en steeds getroud te kon bly. Dan antwoord ek só: ‘Nee, die Here is amazing. Hierdie is uitsluitlik sy handewerk.’ Ek en Dewalt dank Hom elke dag vir sy liefde, goedheid en genade, want Hy het alles kom herstel.”

*Lees Maandag 4 September Dewalt se getuienis.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.