Ek kan van my stoep af sien hoe die Kaapse wewers hul nessies in die groot palmboom se takke bou. Dit bly vir my een van die wonderlikste dinge wat in ons erf gebeur. Hoe die voëls met klein takkies in die bek vlieg, heen-en-weer, heen-en-weer. Takkie ná takkie weef hulle, totdat daar ’n perfekte nes vorm aangeneem het.
Jy kan elke dag sien hoe fluks hulle vorder. Waar daar eers net ’n paar grashalms hang, verskyn daar later ’n ingewikkelde struktuur, een wat vir seker deur ’n meestervakman gemaak is.
Onlangs het die wind besonder sterk gewaai, en die volgende oggend het een van die nessies onder die boom gelê. My seuntjie het dit opgetel en van alle kante bekyk. Hy het die fyn verweefde grasstroke met sy vingers gestreel.
Ek vra toe: “Dink jy dat jy ook so ’n nessie sal kan bou?”
Sonder huiwering het die antwoord gekom: “Nee! Dis te moeilik.”
’n Paar oomblikke later het hy gevra: “Mamma, hoe weet die voëltjies hoe om dit te doen? Hulle het dan nie eens hande nie!”
LEES OOK: Die hemel drup dou
Ek verduidelik dat God die plan vir daardie nessie in hul binneste geskep het. Ons noem dit instink. Die voëltjies hoef nie skool toe te gaan om te leer weef nie, en niemand bring vir hulle bouplanne of wys vir hulle YouTube-video’s nie. Tog weet hulle presies wat om te doen. Die Skepper het daardie vermoë in hulle geplaas.
Die wewer se nes is meer as ’n versameling grashalms; dis ’n plek waar nuwe lewe beskerm word, waar kwesbare kuikens gevoed en warm gehou word, waar hulle veilig kan groei totdat hulle eendag gereed is om self te vlieg.
Meer as kunstige weefwerk
Ek het onlangs iets besonders geleer oor die Jode se verstaan van God se teenwoordigheid. In die Judaïsme word daar soms na God se inwonende teenwoordigheid as shekhinah verwys. Dié Hebreeuse woord is afgelei van ’n werkwoord wat beteken “om te woon”, “om te vertoef” of “om jou te vestig”.
Dit beskryf God se nabyheid aan sy mense. In hierdie woord word nie bloot God se bestaan uitgedruk nie, maar spesifiek ’n God wat by hulle kom woon het.
Wat my ook getref het, is dat dieselfde werkwoord gebruik word om te beskryf hoe voëls hulle in ’n boom se takke kan vestig. En skielik het die nessies in my palmboom vir my meer as bloot kunstige weefwerk geword; dit was nou die beeld van ’n God wat nie eenkant bly nie, maar wat Hom by sy mense kom tuismaak.
God gee Homself
Die Bybel is vol hiervan. In elke Bybelboek word ’n verhaal vertel van ’n God wat begeer om by sy mense te woon. In die Ou Testament belowe Hy sy teenwoordigheid aan sy volk. Jesaja profeteer oor Immanuel wat sou kom, dit is “God met ons”. Hierdie profesie het in Jesus van Nasaret ’n werklikheid geword.
Die Evangelieskrywer Johannes sê dat die Woord mens geword en onder ons kom woon het. God tree toe tot ons wêreld. Hy deel in ons vreugde, ons pyn en ons gebrokenheid. Hy bly staan nie op ’n afstand nie; Hy kom woon tussen ons.
Hy bied nie bloot beskerming nie; Hy gee Homself. Hy is nie net die Een na wie ons vlug wanneer die storms opsteek nie; Hy is die Een by wie ons tuis is.
’n Woning van geslag tot geslag
Ons leef in ’n tyd waarin baie van die dinge waarop ons vertrou, erg broos is. Ons gesondheid, ons verhoudings, ons loopbaan, ons finansies, ons beste planne.
Die nessie wat uit die boom gewaai is, herinner my telkens aan hierdie broosheid. Al is dit hoe kunstig geweef, is dit steeds kwesbaar. Wind en weer, mot en roes … Ons is uiteindelik magteloos teen die kragte wat op ons losgelaat word.
En die nessies wat ten spyte van die storms steeds in die palmboom agtergebly het, sal ook nie vir altyd hou nie. Op ’n dag sal die takkies begin verweer en die grasstroke uitrafel.
Gelowiges weet dat God nooit belowe het dat ons die lewe se storms sou vryspring nie. Maar ons hoef nie sy teenwoordigheid teen ons veiligheid af te speel nie. Hoor hoe help die Psalmdigter ons wanneer hy bely: “My Heer, U was vir ons ’n woning van geslag tot geslag” (Ps 90:1 – 2020-vertaling). Wat kan beter (of mooier!) wees as dit?
Dis die les wat die Kaapse wewer my hierdie jaar geleer het: Ons kan nie veiligheid vir onsself skep nie, al werk ons ook hoe hard en hoe noukeurig. Ons veiligheid is geleë in God wat Hom by ons kom vestig het. Die God wat by ons kom woon het, Hy wat die voëls geleer het hoe om hul nes te bou, het ook vir ons ’n tuiste voorberei – in Homself.
En dit is ons grootste troos: In ’n meedoënlose wêreld waar woeste winde waai, het ons tuisgekom by Hom wat ons woning is.
Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.





















