Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Kerstradisies – maak dit (nog) saak?

Die Kersseisoen is ’n tyd vir samesyn, feesvierings en vreugde. Ons sien die hele jaar daarna uit. Maar nou het die laaste gaste gegroet, die geskenkpapier is weggegooi en die Kersversierings is weggepak. En jy wonder: Het daar iets gebeur wat blywende waarde het? Moet ons nie weer (krities) na ons Kerstradisies kyk nie?

Dink ’n keer mooi: Hoe goed ken jou kinders die Geboorte­verhaal?

Hoewel dié ou, ou verhaal in vele huise op Kersdag voorgelees word, word die rykdom daarin nie altyd behoor­lik benut nie.

Hier is ’n voorstel: Lees gerus in die Adventtyd elke aand ’n gedeelte uit die Geboorteverhale. Jy kan selfs ’n soort lees-plan opstel, een wat met Ou Testamen­tiese profesieë oor die Messias begin, wat die hoogtepunte van Jesus se lewe insluit en met sy hemelvaart eindig.

Verdiep en verryk jul leeservaring met allerlei aktiwiteite. Wees kreatief: Laat die kinders die verhale illustreer, voeg die teks daarby en bind alles saam. Kopieë van sulke “boeke” is uitstekende geskenke vir grootouers. Julle kan ook die kunswerke lamineer vir plekmatjies op die Kerstafel, of dit skandeer en verklein met die oog op aan­staande jaar se Adventkalender.

LEES OOK: Op die plek … rus! ’n Geskenk aan jou jong soldaatjie

Julle kan tonele uit jul Skrifvoorlesings op ’n rol onbedrukte koerantpapier teken of skilder. En siedaar: kleurvolle tuisge­maakte geskenkpapier, asook ’n geleent­heid om oor herwinning te gesels!

Kersopvoerings is groot pret. Sluit die aand af met samesang en ’n Betlehem-piekniek. Doen vooraf navorsing oor watter versnaperinge en drinkgoed op jul spyskaart behoort te wees – dalk iets soos vye, dadels, olywe, bokkaas en druiwesap. En as julle avontuurlustig is en die nodige kennis het: Diffundeer wierook-en-mirre-olie vir ’n multisensoriese ervaring.

’n Dankbaarheidsfles is ’n handige manier om Jesus se geboorte deur die jaar te herdenk. Jy kan só te werk gaan: Versier ’n groot fles. Plaas dit op ’n toeganklike plek, saam met strokies gekleurde papier – een kleur per gesinslid. Moedig mekaar aan om gereeld dié sake waaroor julle dankbaar is op die strokies te skryf en dit in die fles te plaas. In Desember kan julle die fles oopmaak, die strokies lees, en papierkettings daarvan maak.

Uiteraard hoef die projek nie ’n jaar lank te duur nie; julle kan bloot ’n lys met seëninge opstel.

Die Koningskind verjaar

Vanessa Myers van Family Faith Builders reken dat ’n “verjaardagpartytjie vir Jesus” – kompleet met uitnodigings, versierings, koek en speletjies – die kleingoed oor die ware betekenis van Kersfees inlig.

Klink dit na te veel werk? Slaan dan die partytjie oor, maar sorg dat elkeen drie geskenke vir Jesus gee:

  • ’n klein handgemaakte presentjie om onder mekaar uit te ruil, byvoorbeeld ’n Bybelboekmerk;
  • iets wat aan ’n behoeftige mens of kind uitgedeel kan word;
  • ’n handgeskrewe belofte om ’n liefdestaak te onderneem, of ’n vrug van die Gees te kweek. Bêre die briewe tot die volgende Kersfees.

‘Dis saliger om te gee …’

Dis nie so moeilik om jou kinders te leer dat Kersfees oor veel meer gaan as om geskenke te ontvang nie. Probeer gerus die volgende:

Kies elke jaar ’n liefdadigheidsprojek vir die hele gesin. Oorweeg alle gesinslede se voorstelle; afwisseling hou dinge interes­sant. Het julle verlede jaar by ’n ouetehuis musiek gemaak en gesing? Gaan stap dan vanjaar met die plaaslike dierebesker­mingsvereniging se honde, en neem som­mer ’n blik tuisgebakte hondebeskuitjies saam.

’n Tuisskoolgesin in my omgewing het die vorige Kersfees lekkergoedkieries vir die padwerkers geneem wat die stop-en-ry-punte moes beman op ’n pad wat vroeër vloedskade gely het.

Hoekom lekkergoedkieries? het ek gevra.

“Want dit lyk soos ’n J vir ‘Jesus’. Én soos ’n herderstok,” het die jongste ver­duidelik.

Is jy steeds op soek na ’n oulike manier om jou spruite aan te moedig om barmhartig te wees? Prakseer so twee maande voor Kersfees ’n krip en sny geel papier in dun strokies. Verduidelik aan die kinders dat jul doel is om die krippie so gemaklik moontlik te maak deur dit met strooi te vul. En elke keer wanneer ’n ge-sinslid ’n liefdesdaad verrig het – selfs iets so eenvoudig soos om ’n winkeldeur vir ’n vreemdeling oop te hou – word dit op ’n geel strokie geskryf. So bly almal op die uitkyk vir geleenthede om ander te help. Hoe wonderlik is dit nie! Dit stimuleer kreatiewe denke oor goeie dade (oftewel, “random acts of kindness”).

’n Toegedraaide pop kan op Kersdag, as julle wil, die Jesuskind verteenwoordig.

Baie gesinne neem elke jaar ’n spesiale foto vir hul gedrukte of digitale Kers-kaartjies. Soms is dié kaartjie ’n nuusbrief-in-die-kleine oor die jaar se hoogte- en laagtepunte. Oorweeg dit om vanjaar ’n verdere stap te neem en vra elke gesinslid vir ’n kort, kragtige getuienis wat daarin opgeneem kan word.

Janine Visser vertel: “Ons gesin sorg vir video’s of foto’s om ons vriende en familie op Facebook ‘n geseënde Kers­fees toe te wens. Ons probeer dit met ’n Kerslied afrond, wat vir hulle ’n profetiese stem in die Kersgety laat opklink.”

Vul jou Kerskous met liefde. Gee jou kinders elke Kersfees ’n brief saam met hul geskenke. Doen moeite om uit te wei oor hoe trots hulle jou die afgelope jaar gemaak het. Sê mooi dinge oor hul gesindheid, hul karaktereienskappe en hul gedrag, eerder as hul prestasies.

’n Leë plek aan tafel?

Moes julle die afgelope jaar ’n geliefde aan die dood afstaan?

Hang ’n ekstra Kerskous op wanneer die Adventtyd begin en vra almal om hul geliefkoosde herinneringe en stories oor jul geliefde, asook selfgeskryfde brie­fies, daarin te plaas. Lees die briefies op Kersoggend voordat julle die geskenke oopmaak.

’n Idee-allegaartjie

  • Volg ’n “omgekeerde” Adventkalen­der: Versier ’n groot boks en plaas elke dag iets daarin. Hou dit vol vir die 25 dae voor Kersfees en plaas daagliks ’n item daarin, nuutgekoop óf ’n eie besit­ting wat julle skenk. Op Kersdag gee julle die boks aan ’n hulpbehoewende mens of ’n liefdadigheidsorganisasie.
  • Die kleingoed sal ’n skattejag geniet. Probeer ’n Christelike variasie op die “elf on a shelf”-tema. Maak die ster­rekykers uit klei en stuur hulle op reis. Versteek hulle elke dag effens nader aan die geboortetoneel onder die Kersboom. Of kry ’n speelgoeddonkie, maak ’n possak vir dié dier en laat jou spruite elke dag soek totdat elkeen ’n koevertjie met ’n teksvers kry. Nog ’n moontlikheid is om ’n goue ster te maak. Noem dit “Bettie van Betlehem” en laat die kinders beurte maak om Bettie weg te steek. Todat sy op Ker­soggend boaan die boom pryk.
  • Vra al jul geliefdes, dalk juis die oueres, om stories oor hul Kers­feesherinneringe te vertel. Of om stemboodskappe daaroor te stuur. Transkribeer almal se verhale en voeg foto’s of illustrasies by. Las elke Kersfees nog stories by en skep só ’n kosbare nalatenskap.

Ten slotte: die begin

Daar is, soos hierbo aangedui, ’n legio idees vir betekenisvolle Kerstradisies waarmee bestaande gewoontes verryk, aangevul of selfs vervang kan word. Dink egter mooi voordat julle iets kies bloot omdat dit na pret lyk.

Begin deur te vra: Wat beteken Kers­fees vir ons? Op watter fasette van die blye tyding wil ons fokus? Hoe wil ons God verheerlik?

Die geheim van sinvolle rituele en gebruike lê in die redes wat jou hart aan jou verklap.

“Voor ons troue het ons die Here gevra dat, as dit sy wil is, Hy dit vir ons moontlik sal maak om eendag ’n huisie by die see te kan bekostig,” vertel Betsie Krige. “In 2002 het Hy ons droom uitgeasem.

“Uit dankbaarheid wou ons ’n tradisie skep wat ons aan sy liefde, goedheid en guns sal herinner. Ons het saam met die kinders ’n groot houtkruis met stokke en goiing-sakke aanmekaargeslaan en liggies daarom gedraai. Elke Kers- en Paas­fees dra ons dit op die voorstoep uit. Daar is dit sigbaar vir die mense op die strand en selfs vanaf bootjies op die see: ’n teken van hoop. En ’n herinnering daaraan dat Jesus die lig vir die wêreld is.”

“Net nadat ons getroud is,” vertel Janine, “het ons besluit dat ons die dag voor Kersfees in Preto­ria se middestad sal kos uitdeel. Ons het besluit gekookte kos is ’n groter bederf as brood. Of ’n blikkie chakalaka wat behoeftige mense in elk geval nie dadelik sou kon oopmaak nie. Ons familie moes leer dat ons gesin op daardie dag nie beskikbaar is vir ’n familiekuier nie.”

Kersfees is die ideale tyd om te besin oor een van die grootste geskenke wat God ons gegee het: die aarde wat Hy geskep het.

Hoe kan ons die Feesseisoen meer omgewingsvriendelik maak?

Ons kan ons Kersboom met koekies eerder as plastiekorna­mente versier. Oorweeg die vol­gende: Maak tydens jul Skriflesings in die Adventtyd ’n lysie van die name wat vir Jesus gebruik word, en/of van sy eienskappe. Gebruik versiersuiker en “skryf” een daarvan op elke koekie. Gebruik dié woord as vertrekpunt vir geloofsgesprekke wanneer julle uiteindelik daarvan eet.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF