Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Kyk weer, kyk ánders!

My seuntjie ry met sy fiets en ek draf langs hom. Hy ry verby ’n klein dammetjie met riete toe hy skielik van die fiets afklim en sê: “Kom, Mamma!”

Ek weet nie waarheen ons nou op pad is nie. Maar hy vind ’n bankie en verduidelik: “Ons gaan nou na die mooi voëltjies by die dammetjie kyk.”

En daar sit ons twee in stilte op die bankie, terwyl die vinke kwetter terwyl hulle hul nessies bou. My seuntjie sit styf teen my. Die skemerlig val pienk en pers om ons, en ’n oomblik lank is die wêreld stil.

LEES OOK: Die betowering wat in die donker te vind is

Dié stilte is nie leeg nie, dis vól. Die tyd staan stil en ons verdwyn in die omgewing om ons. Ons kyk na die riete in die vlei, die eende, die pienk-pers lig. Toe die koue ons bekruip, staan ons op en  gaan terug huis toe. En ek besef opnuut dat daar in ’n wêreld vol geraas oomblikke is wat fluister.

‘Wees gereed, hier kom iets groots!’

Die woord “behold” kom meer as 1 300 keer in die Bybel se King James-vertaling voor. In Afrikaans word dit vertaal as “kyk”; “let op”; “sien”; “beskou”. Maar dit verwys nie net na ’n visuele gewaarwording nie; dit verteenwoordig ook ’n geestelike ingesteldheid. Dis ’n oproep om teenwoordig te wees, om vol verwagting te wees, om gereed te staan om te ontvang. Trouens, dis kompleet asof dit ’n soort bevel is: “Kyk goed! Kyk anders as gewoonlik!”

Dié oproep vorm dikwels die inleiding tot ’n groot bekendmaking. ’n Engel sal dit sê. Of ’n profeet sal namens sy Here die volk aanspreek en só begin. Jesus sê dit wanneer Hy sy toehoorders se aandag vra. Die boodskap wat dié oproep oordra, is eenvoudig: “Wees gereed, want iets heiligs gaan nou gebeur. Hier kom ’n ontmoeting met God – en jy is genooi.”

Maar hoe leer ’n mens om op hierdie manier te kyk? So met jou oë en jou hart en jou gees?

Ek dink terug aan die tye toe ek moes leer om anders te kyk. Toe ek nie antwoorde gehad het nie. Toe ek moes stil word om behoorlik te kon sien. En ek besef weer dat dit nie vanself kom nie. Dat ons spesiale geleenthede daarvoor moet skep. Dalk op ’n berg of by die see of tussen baie bome. Want dis op sulke plekke dat ons leer om anders te kyk. Daar skep ons ’n verwagting vir onsself. Ons herken die ruimte waarin ons kan ratte verwissel, waarin ons beheer oorgee, waarin ons doelbewus toelaat dat die oomblik ons verander.

Die heilige in elke oomblik

Toe my seuntjie my daardie dag genooi het om saam met hom op die bankie by die dammetjie te gaan sit, het ek besef: Om goed te kyk is om die heiligheid van die oomblik te omhels. Dis soggens se koffie drink en die son te sien opkom. Dis om die branders te sien breek. Dis vir lekker chaotiese familie-etes.

Dis wanneer ons geleer het om juis in sulke tye behoorlik te kyk dat ons dalk ’n brandende doringbos sal raaksien.  Ja, ons moet regtig minder dikwels probeer verstaan of verklaar; ons moet aanvaar wat ís, en dit eerbiedig. Ons moet minder praat, en toelaat dat ons aangespreek word. Ons moet leer om wyer, dieper en breër te kyk. Ons moet ons voorkeure en maklike oordele laat vaar en die heilige in elke oomblik aanvaar.

Ek wil jou graag nooi om weer te kyk, nuut te kyk, ánders te kyk. Kyk met hart en siel. Trek gereeld ’n spreekwoordelike streep in die sand – en verwag iets aan die ander kant. Trap dan oor daardie streep met alles wat jy het en is. 

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.
Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►