Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Liewe Jesus se pleister en die Groot Geneesheer

Eendag, pas nadat ek tuisgekom het, hardloop my seuntjie na my toe. Hy sê hy wil my al sy “einas” wys. En hy wys, en verduidelik: “Hierdie een op my elmboog het ek by die sokker gekry; hier het ek my toon teen die muurtjie gestamp; en hier het my knie teen die trampolien geskuur.”

Liewe Jesus se pleister

Ek soen elke seerplek beter. “Maar hoe word hulle gesond, Mamma?” vra hy.

En ek verduidelik dat ons seerplekke eintlik van binne af gesond word. Alles wat daarvoor nodig is, is reeds in ons lyf. Ons bloed bring al die “gesondmakers” na die wond toe.

En die rofie wat later vorm, is soos Liewe Jesus se pleister.

“O,” sê hy, en hy gaan speel verder.

LEES OOK: Laaste dae van genade vir Hermanus-vrou: ‘Dankie, Here’

Weer eens help hy my. Want eensklaps dink ek aan hoe wonderlik genesing eintlik is, en hoe buitengewoon dit is dat jou liggaam homself van binne af versorg. Al wat jy kan doen, is om te wag en te vertrou.

Ons sukkel om te wag; ons bied weerstand

Ja, daar ís dinge wat genesing kan vertraag, soos die rookgewoonte of swak eetgewoontes. Maar die wonderwerk van herstel kom áltyd van binne af. Ou selle sterf voortdurend af om plek te maak vir nuwes. Sommige word vinnig vervang, terwyl dit by ander jare duur.

Dit is hoe dit in ons geloofslewe ook werk. Baie van ons sou dalk meer daarvan gehou het as dit ’n eksterne en vinnige eens-en-vir-altyd-gebeurtenis kon wees. Dis tog verkieslik bo ’n patroon van groei deur verlies en vernuwing. Trouens, so ’n patroon wek weerstand.

Wat ons sukkel met wag en vertrou. Ons draai ons rug vir die proses, soms selfs in ons gebede. En soms vra ons dat dié dinge wat ons uiteindelik sal genees by ons moet verbygaan.

Maar God se plan vir ons lewe is voortdurend besig om te ontvou. Dis ’n deurlopende proses, en dit behels meestal dat iets wat oud is moet afsterf voordat iets nuuts kan groei.

Ons wil graag hê verandering moet van buite af kom. Soms dink ons: As ek tog net soos ’n goeie Christen kan lyk, dán sal ek aanvaar en beloon word …

Maar ons gee nie genoeg aandag aan die verandering van hart en verstand wat diep binne-in ons plaasvind nie, soms sonder dat enigiemand dit opmerk. Dis soos Paulus in 2 Korinthiërs 4:16 skryf: “(W)ant selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe.”

In die Nuwe Testament word hierdie innerlike verandering metanoia genoem – en dis nie bloot ’n verandering in gedrag nie, maar ’n verandering in hart, denke en lewenskoers.

Al wat ék hoef te doen …

Dit is hoe innerlike genesing plaasvind: Die verandering begin binne, en word eers later aan die buitekant sigbaar. Soos wat liggaamselle die een ná die ander afsterf om plek te maak vir nuwe lewe, is daar ook dinge in my wat moet sterf sodat iets nuuts kan groei.

Sonder dat ek bewustelik iets daaraan doen, genees my liggaam se wonde en herstel dit voortdurend. Vanuit die diepte van my wese gebeur iets nuuts wat uiteindelik sigbaar word.

So is dit ook met my hart en verstand. Die verandering vind diep binne-in my plaas en word mettertyd sigbaar in hoe ek leef en optree.

Miskien is geloof dan nie so anders as die rofie op ’n kind se knie nie. Dit lyk nie na veel nie, maar onder daardie klein “Jesus-pleister” is nuwe vel reeds besig om te vorm. Dié soort genesing lyk asof dit stadig plaasvind, en sommige dae voel dit asof niks gebeur nie. Maar onder die oppervlak is die werk onverpoos aan die gang.

’n “Goeie lewe” is nie ’n bestemming wat ek eendag sal bereik nie, maar eerder die rigting waarin ek elke dag bly beweeg. Terwyl God, dikwels ongemerk, sy werk in my doen.

Al wat ék hoef te doen, is om die Groot Geneesheer te vertrou.

  • Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►