Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘My vrou was die eerste mens wat my aanvaar het net soos ek is’ – Daantjie Dinamiet vertel van sy reis met outisme

Daantjie Badenhorst het Aspergersindroom, ’n vorm van outisme. Hy vertel sy storie want dit is vir hom belangrik dat mense beter ingelig word hieroor. Hy is die bekende Daantjie Dinamiet, kampioen van TV-reekse soos Noot vir Noot en Flinkdink.

Dié broer van Johan Badenhorst van Voetspore-faam is al vir 17 jaar lidmaat by die Skuilkrans NG Gemeente in Pretoria. Hier ken hulle hom as vriendelike Daantjie, pa van twee en eggenoot vir 23 jaar van Yolanda.

Sy pa het sy outisme vroeg raakgesien

Daantjie is die jongste van vier kinders. Hy vertel hy het as kleuter gesukkel om oogkontak te maak. Praat het ook baie laat gebeur, maar toe hy uiteindelik begin, was dit in volsinne. Babataal het hy nooit gepraat nie. 

Sy pa het sy outisme vroeg raakgesien. “Ek was gelukkig genoeg om ’n pa te hê wat sy lewe lank in die opvoedkunde was en hy het dit (outisme) dadelik raakgesien. Toe ek grootgeword het was daar nog geen begrip daarvoor nie,” voeg hy by. 

Van kleinsaf het hy ’n intense belangstelling in karre gehad. Hy vertel hoe verbaas sy pa was toe hy op vyf ’n Mazda RX2 kon uitken aan sy unieke ronde agterligte. Daar is ook byna niks wat jy hom oor motorsportgeskiedenis kan vertel nie.

Daantjie sê hy het homself leer lees nog voor hy skool toe is. Hy het ook vroeg agtergekom dat hy nuwe tale maklik aanleer. Onvanpaste taalgebruik en woorde in die verkeerde konteks is iets wat hy gelukkig ontgroei het, maar sekere klanke, smake en teksture hou hy steeds nie van nie. Hy kan glad nie die bars van ballone hanteer nie of die lawaai wat blaarblasers maak nie.

Nog ’n simptoom wat hy ook oorkom het is sy afkeer in fisiese kontak.

Hy kon na ’n hoofstroomskool gaan, maar het min vriende gehad. Hy meen dit is omdat baie mense outisme nie verstaan het nie. “Ek het ook nie meegedoen aan baie van die goed wat my maats gedoen het nie. Ek het maar my eie ding gedoen,” voeg hy by.

Akademies het hy swaar getrek en hy kon ook nie aan mededingende sport deelneem nie. Maar hy het tog sy nis kon vind as rasieleier, koorsanger en op die redaksie van die skoolkoerant. Hy het later joernalistiek gaan studeer en werk nou as vryskut joernalis. Hy is juis tans besig met skryfwerk oor nuwe motors wat in Suid-Afrika vrygestel is.

‘My vrou is my behoud’

Daantjie vertel dat hy al op skool die idee van verhoudings laat vaar het omdat hy nie kon glo ’n vrou sal van hom kan hou nie. Toe stel ’n gemeenskaplike vriendin vir hom en Yolanda aan mekaar voor. Hy vertel “sy was die eerste mens wat my aanvaar het net soos ek is”. Hy het toe al gewerk en was maar skaam, maar sê dis Yolanda is toe die een wat hom oortuig het om liefde ’n kans te gee.

Lees die res van Daantjie se verhaal hier.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF