Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Sprankeldrankies vir die Feesseisoen

Foto’s: Adel Ferreira

Skink vir jou gaste dié somer ‘n verfrissende sprankeldrankie. Elke resep hier onder is uniek en geurig – en nie een bevat alkohol nie.

Stylvol en smaaklik

Drankies hoef nie stroopsoet te wees (of alkohol te bevat) om feestelik en elegant voor te kom nie. Wees kreatief met dié seisoen se vrugte en bessies, maak seker al die bestand­dele is yskoud, sit dit in ’n mooi glas voor – en luister na al die kompli­mente! Onthou dat mengeldrankies normaalweg baie meer suiker en al­kohol bevat as wat jy dalk besef; kies dus vanjaar eerder een van hierdie smaaklike alternatiewe.

Kleurvolle lekkerte

Die bestanddele in elke drankie bepaal die kleur. Hier is ’n hele reënboog vol keuses – van groen tot pienk tot oranje, en selfs pers. Die Engelse woord mocktail word ál meer ook in Afrikaans gebruik, en dit sê presies wat dié soort drankies is. Dis wel nommerpas vir soveel meer as bloot skemerkelkies; geniet dit om jou dors te les in die hitte, of saam met ’n spesiale ete.

Elke resep is genoeg om vier glase te vul. En al die drankies, be­halwe die mango, werk ewe sukses­vol in ’n groot beker. Laasgenoemde lyk mooi op ’n tafel, en boonop kan almal hulleself bedien. Hou ’n lepel met ’n lang steel byderhand om te verhoed dat die ys en die ander bestanddele alles in die eerste glas beland.

Meng en pas

’n Drankie het nie baie bestand­dele nodig om dit verfrissend en interessant te maak nie. Gebruik verskillende geur-elemente soos seisoensvrugte en bessies, allerlei kruie en speserye, en kombineer dit met ’n vloeistof wat jy verkies. Laasgenoemde kan vrugtesap wees, of borrelwater, tonikum, gemmerlim en Rooibostee. (Vonkelwyn, vir ’n alkoholiese kinkel, werk goed.)

En kies volgende keer van die alternatiewe geur-voorstelle in ’n resep om met min moeite sommer ’n heeltemal “nuwe” drankie voor te sit.

Gesondheid!

Groentee, grenadella en gemmer-borreldrankie

Die kombinasie van groentee en grenadel­la is regtig besonders, al klink dit dalk effens vreemd.

Genoeg vir 4 glase

Bestanddele

  • 2 sakkies gewone groentee
  • 4 dun skyfies vars gemmer, in repies gesny
  • 400 ml kookwater
  • 2 x 200 ml-blikkies gemmerlim, verkoel
  • Gebreekte ys of klein ysblokkies
  • 60 ml (¼ k) grenadellapulp. En ekstra vir garnering, of nog 2 vars grenadellas, gehalveer

Metode

  1. Plaas die teesakkies en gemmer in ’n groot hittebestande beker en giet die kookwater oor.
  2. Laat trek die tee ’n paar minute lank, haal die teesakkies uit en laat die tee heeltemal afkoel.
  3. Roer die gemmerlim by. Skep lepels vol ys in die glase en verdeel die grenadel­lapulp tussen die glase. Giet die tee­mengsel oor en garneer elke glas met ’n halwe grenadella (of die ekstra pulp). Sit dit dadelik voor.

Vir ’n bietjie skop (as jy wil): Meng ’n sopie of skeut vodka vir elkeen by, of gin (jenewer).

Appel, komkommer en kruisement op ys

Die bekende Kubaanse drankie mojito is die inspirasie vir dié geurkombinasie. Gebruik sodawater vir ’n minder soet weergawe, as jy dit so verkies.

Genoeg vir 4 glase

Bestanddele

  • 500 ml (2 k) helder appelsap
  • 1 pienk of rooi appel, ongeskil
  • 4-6 groot takkies vars kruisement, die blare afgetrek en grof geskeur
  • 2-4 repe lemmetjieskil met ’n groenteskiller gemaak en dan fyner gekap
  • 12-16 komkommerlinte, ook met ’n groenteskiller gemaak (gebruik ongeveer ’n ¼ komkommer se lengte)
  • Gebreekte ys of klein ysblokkies
  • 2 x 200 ml-blikkies sodawater of tonikum, verkoel
  • Ekstra fyngerasperde lemmetjieskil en -wiggies
  • Kruisement vir garnering

Metode

  1. Giet die appelsap in ’n klein kastrol en laat prut dit 12-15 minute lank oor lae hitte, of totdat dit met die helfte ingedamp het. Daar moet ongeveer 80-100 ml oorbly. Laat dit effens afkoel.
  2. Sny ’n kwart van die appel in dun repies. Meng dit met die kruisementblare, lemmetjieskil en die helfte van die komkommerlinte.
  3. Skep dié mengsel in ’n vysel en maak alles fyn met die stamper. Dit sal ’n heerlike aromatiese geur hê. Of meng dit met ’n stokmenger in ’n beker. Kap dit dan grof; gebruik ’n vinnige pols-aksie sodat dit nie tot ’n loperige mengsel verpulp word nie.
  4. Skep die ys in glase en garneer elke glas aan die binnekant met een of twee van die orige komkommerlinte deur dit teen die glas se binnekant vas te druk.
  5. Skep die fyngemaakte appelmengsel op die ys, giet die ingedampte appelsap oor, en vul die glase met sodawater of tonikum.
  6. Sny die orige appel in skyfies en plaas ’n paar daarvan in elke glas. Garneer elke glas met nog lemmetjieskil, -wiggies en kruisementblare. Sit dit dadelik voor.

Vir ’n bietjie skop (as jy wil): Skink vir elkeen ’n sopie of skeut wit rum by, of vodka, of gin.

Framboos-en-lemmetjie-vonkel

Jy het slegs ’n paar bestanddele nodig om dié verfrissende drankie op te tower. Dis regtig eenvoudig, en die frambose en lem­metjie is ’n uitstekende kombinasie.

Genoeg vir 4 glase

Bestanddele

  • 250 ml (1 k) gevriesde of vars frambose. Of gebruik gemengde bevrore bessies
  • 30 ml (2 e) vars lemmetjiesap
  • 4 x 200 ml-blikkies limonade, of ’n eenliter-bottel, verkoel
  • Vars lemmetjiewiggies vir garnering
  • Gedroogde of vars roosblare of ander eetbare blommetjies vir garnering

Metode

  1. Breek die bessies kleiner met ’n vurk, en verdeel die bessies tussen die glase. Giet die lemmetjiesap en limonade oor en garneer dit met die lemmetjiewiggies en die roosblare of eetbare blomme.
  2. Voeg ys by as jy nie gevriesde bessies gebruik nie.

Vir ’n bietjie skop (as jy wil): Vervang die limonade met yskoue vonkelwyn. Of skink vir elkeen ’n sopie of skeut gin by, of vodka.

Rooibos met speserye, heuning en roosmaryn

Les jou dors met dié heerlike Rooibos-ystee met sy interessante geurkombinasie.

Genoeg vir 4 glase

Bestanddele

  • 4 sakkies blom- of bessiegegeurde Rooibostee
  • 2 kardemompeule, liggies gekneus om die saadjies vry te stel. Of ’n klein stuk­kie heel kaneel
  • 10 ml (2 t) heuning
  • 500 ml (2 k) kookwater
  • 250 ml (1 k) helder vrugtesap wat jy verkies. Dalk iets soos bosbessie- (cran­berry), bessie- of appelsap, verkoel
  • Ys om mee voor te sit
  • 4 vars roosmaryntakkies
  • Eetbare blommetjies vir garnering, soos roosmarynblommetjies, laventel of gesiggies (pansies)

Metode

  1. Plaas die teesakkies met die kardemom of kaneel en heuning in ’n hittebestande beker. Giet die kookwater oor en meng dit goed deur. Laat trek die tee tot dit afgekoel het. Haal die heel speserye uit en plaas die tee in die yskas om te verkoel.
  2. Roer die sap by die tee. Skep die ys in die glase, giet die ystee oor en plaas ’n roosmaryntakkie in elke glas. Garneer elke drankie met die eetbare blomme.

Vir ’n bietjie skop (as jy wil): Skink vir elkeen ’n sopie of skeut muskadel of gin by die tee.

’n Glas vol sonskyn

Dalk het jy al ’n tequila sunrise gedrink – maar hier is ’n “nie-quila” sonsopkoms in ’n glas. Die tropiese geure smaak die ene somer! Dit lyk of die metode hier onder nogal lank is, maar dis eintlik net om jou soos ’n wafferse mengeldrankie-guru te laat voel as jy die grenadine se kleur-effek wil regkry.

Genoeg vir 4 glase

Bestanddele

  • 30 ml (2 e) fyn droë klapper
  • 500 ml (2 k) gevriesde of vars mango, in blokkies gesny
  • 2 dik skywe vars pynappel, afgeskil en in blokkies gesny
  • 500 ml (2 k) mango-en-lemoensap, verkoel
  • 60 ml (¼ k) grenadine-stroop (’n alko­holvrye stroop wat by drankwinkels beskikbaar is)
  • Ongeveer 400-500 ml borrelwater (sparkling water)
  • Ekstra skyfies vars pynappel, afgeskil óf steeds in die skil en in kwarte gesny vir garnering

Metode

  1. Skep die klapper in ’n plat bordjie. Doop elke glas se rand eers in water en dan in die klapper om die randjies te versier.
  2. Plaas die mango, pynappelblokkies en sap in ’n groot maatbeker. Verpulp dit met ’n stokmenger tot ’n dik, maar gladde mengsel. Plaas die mengsel ongeveer ’n uur lank in die vrieskas om dit heeltemal koud te maak.
  3. Verdeel die mango-mengsel tussen die glase. Skink die grenadine-stroop – ver­sigtig en stadig, oor die agterkant van ’n lepel – in die glas. Hou die voorste ron-ding van die lepel naby die glas se rand sodat die grenadine teen die glas se binnekant afloop. Op dié manier meng dit so min moontlik met die mango. Gee die stroop ’n bietjie kans; dit sal onder­toe sak en ’n aparte rooi-pienk laag of patroon deur die geel mango vorm. Belangrik: Moenie die mengsel roer nie! Jy wil nie ’n pienk drankie hê nie …
  4. Skink die borrelwater versigtig oor die mango-laag. Garneer elke glas se rand met die ekstra pynappel en sit dit dadelik voor.

Vir ’n bietjie skop (as jy wil): Skink vir elkeen ’n sopie of skeut tequila of rum by die mango in die glas.

Bessie, suurlemoen en tiemie met borrels

Ja, jy lees die metode reg: Die drankie word sommer in ’n amperleë konfyt-flessie gemeng! Dis ’n slim plan om te verhoed dat selfs ’n druppel van die laaste bessie- of aarbeikonfyt in die fles verlore gaan.

Genoeg vir 4 glase

Bestanddele

  • 125 ml (½ k) yswater
  • 45 ml (3 e) nastergal- of aarbeikonfyt
  • 8 klein takkies vars tiemie of suur­lemoentiemie
  • Dun repies suurlemoenskil
  • Gebreekte ys
  • Ongeveer 400-500 ml tonikum of bor­relwater, verkoel
  • Eetbare blomme, soos laventel of komkommerkruidblommetjies (borage) vir garnering
  • Ekstra takkies tiemie en repies suur­lemoenskil vir garnering

Metode

  1. Giet die yswater in die konfytfles, draai die fles toe en skud dit goed. Dit werk uitstekend om die oorblywende bietjie konfyt effens te verdun.
  2. Voeg die tiemietakkies en repe suurlemoenskil by en skud dit weer. Skep die ys in die glase en verdeel die konfytmengsel tussen die glase. Vul elke glas met die tonikum of borrelwater.
  3. Garneer dit met die eetblare blomme, ekstra tiemie en suurlemoenskil. Sit dit dadelik voor.

Vir ’n bietjie skop (as jy wil): Skink ’n sopie of skeut gin of vodka in elke glas. Of vervang die tonikum of bor­relwater met vonkelwyn vir ’n spesiale drankie.

NOTA: Die drankie op die foto is met Heerlijk se naster­gal gemaak om die treffende pers kleur te verkry.

* Heleen Meyer is ’n koskonsultant met ’n filosofie van lekker, gesond en maklik. Sy is dol daarop om in die natuur te wees. Tyd saam met haar gesin is vir haar baie kosbaar. Haar hoop is ’n wêreld waar elke mens erken en gerespekteer word. Kuier saam met Heleen by www.heleenmeyer.co.za, of @heleenmeyerfood op Instagram.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF