Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘n Terapiehond kan verlammende angs in iets positiefs verander

Nie alle kinders met hoë angsvlakke baat genoegsaam by tradisionele terapiemetodes nie.

Dienshonde, oftewel terapiehonde, word deesdae met groot sukses gebruik om sulke kinders te kalmeer. Sogenaamde psigiatriese dienshonde word selfs gebruik vir mense wat met depressie, posttraumatiese stres en bipolêre afwykings sukkel.

LEES OOK: ‘Al mis ek my pa, weet ek daar is steeds hoop, en ’n mooi toekoms wat wag,’ sê 13-jarige

Dr Marlene Zwiegers, hoof van leerderondersteuning by St Patrick’s Christian Brothers’ College in Kimberley, sê sy gebruik haar eie hond, Skyler, tydens terapiesessies. Sy vertel hoe Skyler die kinders kalmeer deur bloot by hulle te gaan lê. Die kinders word aangemoedig om oor haar kop te streel.

“Wanneer ’n mens die angs-lading in die kind kan verminder deur die fokus na die hond te gelei, het jy ’n wen-wen-situasie. Die kinders leer dat die antwoord en beheer in hulleself is. Dit verander die verlammende uitwerking van angs na iets positiefs.”

Vierpotiges bring vrede

Kalika Morries van Paws 4 Life sê daar is ’n baie streng keuringsproses vir psigiatriese dienshonde, en dit gebeur soms dat slegs een of twee honde uit ’n werpsel gekeur word.

Die betrokke hondjie word reeds agt weke ná geboorte by ’n gesin geplaas. Die gesin is dus uit die staanspoor by die hond se opleiding betrokke. “Dis belangrik dat daar onmiddellik ’n band tussen die kind en die hond gevorm word,” sê Kalika.

“Wanneer ’n mens die angs-lading in die kind kan verminder deur die fokus na die hond te gelei, het jy ’n wen-wen-situasie. Die kinders leer dat die antwoord en beheer in hulleself is,” sê dr Marlene. Foto verskaf

’n Terapiehond word geleer om enige verandering in ’n angslyer se hartklop en asemhaling te bespeur. Die hond word ook geleer om vas te stel hoe ernstig die simptome is en sal dan die terapie begin deur op die persoon se skoot te klim. As die angstige persoon sukkel om asem te haal, is die hond geleer om bo-op hom of haar te gaan lê en druk op die lyer se diafragma te plaas.

Angslyers word geleer om dan op hul sintuie te konsentreer. Hulle sal byvoorbeeld aan die hond vat, ruik en op die hond se hartklop fokus. Kalika noem dit “deep pressure therapy” en verduidelik: “Dié metode help angslyers om hul fokus te verskuif.”

Paws 4 Life se opleiers gebruik meestal goue apporteerhonde (oftewel, “golden retrievers”) omdat hulle oor hoë empatievlakke beskik. Kalika sê egter dat enige hond opgelei kan word indien die hond die persoonlikheidstoetse slaag.

Vier toetse

Kobus van der Linde, ’n hondeteler in Randfontein, sê hy werk reeds baie jare met honde. Sy teelprogram fokus volledig op ’n hond se temperament. Daarom word ’n verskeidenheid toetse op elke werpsel uitgevoer. Hy sê die personeel begin reeds twee weke ná die hondjies se geboorte om hulle fyn dop te hou. “Ons doen dit om vas te stel watter van die werpsel as terapiehonde gebruik kan word.”

Daar is vier toetse waaraan die hondjies onderwerp word:

  • Aanraking. As jy saggies op die vliesies tussen sy tone druk, en hy kriewel en begin om aan jou vingers te knibbel, weet jy hy is sensitief vir aanraking en kan nie as ’n terapiehond opgelei word nie.
  • Dominansie. Is dit ’n hondjie wat die baas van die huis wil wees sodra hy of sy groter is? Dis belangrik om na die hond se sosiale gedrag te kyk.
  • Kwesbaarheid. Keer die hond op die rug om. Dis die kwesbaarste posisie, en nie alle honde is gemaklik op hul rug nie.
  • Geraas. Kobus sê hy laat val gereeld voorwerpe soos ’n lepel of ’n bos sleutels op die houtvloer. “Jy kyk of die hondjie skrik. Sommige hondjies wil net speel en is te veel van ’n ekstrovert, terwyl ander heeltemal sku vir geluide soos dié van ’n stofsuier is. Jy is op soek na ’n hond wat êrens in die middel pas.”

Hierdie vier toetse word as ’n reël by die meeste honde aangelê, en die geslaagdheid daarvan, al dan nie, moet saam geïnterpreteer word.

Die vyfde toets

Wat terapiehonde egter van ander honde onderskei, sê Kobus, is die soort emosionele verbintenis wat so ’n hond met mense het. “In dié verband kry jy drie soorte honde: Daar is die een wat heeltemal onafhanklik is en alleen kan speel; dan die een wat heeltemal van mense afhanklik is en deurentyd opgetel wil word; en ’n kombinasie van die twee. Dis laasgenoemde soort hondjie waarna ons soek.”

Die keuringsproses duur gewoonlik tussen drie en vier weke. Dis ’n baie intensiewe proses, en Kobus het mettertyd geleer om honde se lyftaal te interpreteer. Hy sê hy bring uit die staanspoor baie tyd saam met die hondjies deur. “Wanneer jy by hulle sit, sien jy hoe bepaalde patrone begin vorm aanneem.

Dié laaste toets, die vyfde een, is die belangrikste wat die keuse van ’n terapiehond betref. “Die meeste honde slaag die eerste vier toetse. Maar jy is op soek na ’n hond wat instinktief weet wanneer sy eienaar swaarkry of ’n moeilike dag beleef. Dis belangrik dat die hond weet wanneer hy sy baas moet ondersteun en wanneer hy slegs moet troos. Dis natuurlik ook belangrik dat die hond by die regte afrigter beland.”

Die opleidingstyd hang grootliks van die betrokke gesin af. Gewoonlik duur dit tot twee jaar, maar dit kan ook korter wees. Kobus verduidelik: “Ons probeer om die gesin een keer per week by die opleiding te betrek, en daar word huiswerk gegee. Dis egter belangrik dat die hond én die gesin elke mylpaal bereik.”

Terapiehonde word uit die staanspoor geleer om te sosialiseer en om, byvoorbeeld, saam met die betrokke kind winkel toe te gaan. Die honde dra ’n spesiale rooi harnas met ’n ID en ’n registrasiekaart. Hulle word, soos gidshonde, in restaurante en by werkplekke toegelaat. Daar is ook noodnommers in die harnas, indien dit nodig sou wees.

Vir meer inligting, kontak:
Dr Marlene Zwiegers: 082 340 4684
Kalika Morries van Paws 4 Life Training Academy: 072 445 4310

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF