Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Vandag soek ek nie aansien of titels nie, slegs vrede en God se genade’

Jerome Fredericks het in moeilike omstandighede grootgeword. Die kos was min en eenvoudig en daar was nie geld vir ander dinge nie. Maar sport het sy lewe verander en hom geleer om nooit sy droom van ʼn beter lewe te laat vaar nie.

Jerome Fredericks (48) het in ʼn gemeenskap in die Paarl met die naam Lantana grootgeword.

“Ek het met baie uitdagings geworstel,” vertel hy. “Ons was ʼn gebroke gesin, met my ma as die broodwinner. Ons het van haar karige inkomste as huiswerker geleef. Alhoewel daar befondsing van die welsyndepartement was, was dit nie naastenby voldoende nie. Ons lewe was gestroop, daar was min vooruitsigte.

LEES OOK: Van sekuriteitsbeampte tot onderwyser: ‘Soos ’n ossewatrek oor die berge, in volkome afhanklikheid van God’

Klein en beperk – maar daar was ʼn ma …

“Ek was nie bitter nie,” sê Jerome, “dalk bloot omdat ek nie gegoede mense geken het met wie ek my omstandighede kon vergelyk nie. Die kringetjie om my was baie klein en besonder ingeperk.”

Hoewel daar altyd kos was, was daar selde geld vir duursame klere of ander behoeftes. Vandag vertel Jerome van die groot respek wat hy vir sy ma het, van alles wat sy gedoen en opgeoffer het om hulle te versorg.

Sy ma se lewe het om haar kinders gedraai. Sy het dikwels aan Jerome gesê dat niks onmoontlik is as jy iets wil bereik nie.

“Sy was ʼn besondere mens, al het sy nooit haar skoolloopbaan voltooi nie.  Haar finansiële vermoëns was uiters beperk, maar sy het vir my ander vaardighede geleer, soos om die Here te vrees. Sy het op ’n keer gesê dat sy, soos Hanna in die Bybel, haar kinders aan die Here teruggee.”

Jerome reken wel dat hy baie ontbeer het weens die afwesigheid van ʼn vaderfiguur in sy lewe. Hieroor sê hy: “Eers nadat ek self ʼn pa geword het, het ek besef hoe belangrik my teenwoordigheid in my kinders se lewe is, en hoe groot die gebrek daaraan vir my was.”

Jerome is reeds van jongs af aan bende-aktiwiteite blootgestel. Hy vertel hoe hy destyds in die strate rondgedrentel het, geld gebedel het. Sy geliefkoosde plek was ʼn winkel waar hy die hele dag op die hoek gestaan het met die hoop om ʼn bietjie geld in die hande te kry.

Genadiglik, sê hy, het hy nooit by dwelms betrokke geraak nie, al was die druk baie groot.

ʼn Bose kringloop

Jerome het  ʼn besliste mening oor die misbruik van dwelms en drank in agtergeblewe gemeenskappe. Hy sê dis ʼn bose kringloop: Die een voed die ander. Misbruik het armoede tot gevolg en armoede veroorsaak misbruik. “Daar is weinig hoop in sulke omstandighede. Oordeel dus maar sag – as jy wil oordeel.”

Jerome sê hy het nooit gedink dat hy eendag suksesvol sou wees nie: “As jy in ʼn huis grootword waar jy dae lank net brood het om te eet, en waar jou skoolgeld dikwels nie betaal is nie, haal jy jou oog van die horison af. Jy begrawe jou drome.”

Hy het boonop graad 3 gedruip. Maar op ’n manier was dit lewensveranderend. Hy het hom voorgeneem om nooit weer so iets oor te kom nie.

Wanneer hy vandag op sy skoolloopbaan terugkyk, onthou hy al die uitdagings en teleurstellings, soos die kere toe hy nie ʼn sporttoernooi kon bywoon nie omdat daar nie geld was nie. En as hy die keer wel kon gaan, kon hy bloot toekyk hoe die ander kinders koeldrank en sjokoladestafies koop.

Maar ook dit het hom nie bitter gemaak nie.

Sy lewe was wel sonder enige vooruitsigte op iets beters. Sy drome oor naskoolse opleiding het ál verder in die verskiet verdwyn.

Jerome en sy gesin tydens die toekenning van sy doktorsgraad. Links van Jerome is sy vrou Mandy en regs van hom is sy seun Joshua. Voor van links is Meah en Meekah. Foto verskaf

Soos handomkeer

Hy was in graad 6 toe sy lewe soos handomkeer verander het. Op die straathoek waar hy gebedel het, het ʼn vriend hom teëgekom en na ʼn vlugbaloefening genooi. Hier het hy kontak gemaak met kinders wat ʼn hoë akademiese standaard gehandhaaf het, jong mense met ʼn gesonde lewensuitkyk.

Dit het hom gemotiveer om beter te vaar op skool. Hy het besef dat gesonde keuses baie deure vir hom kon oopmaak.

In 1995 is hy tot hoofseun van sy skool verkies. Hy was die top-leerling en het etlike akademiese en sporttoekennings ontvang. Hy was toe lank nie meer die arm seun uit Lantana wat op die Paarl se straathoeke gebedel het nie.

“Aan die einde van matriek, daardie dag toe ek my laaste vraestel geskryf het, was ek baie hartseer. Ek het gevrees dis die einde van my akademiese pad.

“Ek het wel nie moed opgegee nie en van bank tot bank gestap om vir ʼn studielening aansoek te doen. Nodeloos om te sê, nie een wou dit aan my toestaan nie. Ek het besluit om by die Universiteit van Wes-Kaapland te registreer. Sonder geld.

“Ná toelating is ek bloot op geloof soontoe, steeds sonder befondsing. Uiteindelik het ek ʼn volle beurs van die universiteit ontvang.

Die aanpassing was moeilik, ook akademies gesproke. Al die klasse is in Engels aangebied, wat vir Jerome ʼn uitdaging was. Hy het dikwels nie treingeld gehad nie, maar gelukkig het sy peetma dan daarvoor gesorg.

Hy het baie met sy selfbeeld gesukkel. Sou hy dan ooit nié meer die arm seuntjie in Lantana se stofstrate wees nie …?

ʼn Bittere pad, maar sy toewyding dra groot vrug

Nadat Jerome sy graad verwef het, is hy by die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel.

In 2012 het hy ʼn meestersgraad in arbeidsterapie verwerf en sy visier op ʼn doktorsgraad ingestel. Dié pad was vir hom baie moeilik, sielkundig én liggaamlik.

Hy vertel: “Ek het aan hoë bloeddruk gely en my angsvlakke was buite beheer. Die aanhoudende druk was uitmergelend. Dit was voorwaar die grootste uitdaging wat ek nóg in die oë gestaar het.

“Ek is intussen getroud, en die verantwoordelikheid van ʼn gesin het swaar op my gerus. Soms was ek geïrriteerd en ongeduldig. Ek moes probeer om almal tevrede te stel. Dit was ʼn bittere pad.”

Maar sy toewyding het vrugte afgewerp, en op 9 Desember 2024 het Jerome sy doelwit bereik en ʼn doktorsgraad verwerf.

Hieroor sê hy: “Ek het nog nooit so ʼn gevoel van absolute vryheid ervaar nie. Ek was bevry van die identiteit wat my minderwaardig laat voel het.”

‘A better life for all’

Jerome is steeds ʼn dosent aan die US. Hy lei ook die mentorskapprogram vir jong studente. “Ek is voorts betrokke by ʼn vroeëkinderontwikkelingsprogram. ‘A better life for all’ identifiseer kleuterskole waar daar ʼn behoefte aan basiese noodsaaklikhede bestaan. Dit sal ʼn voedingsprogram insluit. Geen kind behoort ooit honger te ly nie. Ek was immers self daar …”

Jerome gee terug aan sy gemeenskap in die Paarl deur sy betrokkenheid by rugby, sokker en atletiek. Hy wil graag die waardes wat hy in sy jeugjare in vlugbal geleer het aan ander oordra. Die jonges by wie hy op dié manier betrokke is, kom ook uit uitdagende omstandighede. Van hulle het reeds ver gevorder. Hy is baie opgewonde oor hierdie inisiatief en hy gesels passievol daaroor.

Jerome glo dat God hierdie pad vir hom voorberei en gelyk gemaak het. Sy grootste ondersteuner was sy ma, wat deurentyd in hom geglo het. Hy praat graag oor dié merkwaardige vrou.

“Vandag,” sê dr Jerome Fredericks, “soek ek nie aansien of titels nie, slegs vrede en God se genade.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF