Eric van der Byl was diep in sy dertigs toe ’n klomp afdankings by sy werk hom begin bekommer het. Sy inkomste was reeds so klein dat hy beswaarlik na sy gesin kon omsien. Toe hy dus sy werk bedank en voltyds begin studeer, eers matriek en daarna in die onderwys, was God sy enigste toevlug. FOTO’S: Emielke Photography
Eric van der Byl (nou 55) is ’n seun van Bonteheuwel in Kaapstad, die vierde van sewe kinders. “My ouers was handearbeiders,” vertel hy, “en my sibbe almal vroeë skoolverlaters.”
Toe Eric ná graad 10 ook die skool verlaat het, het hy gou werk gekry as sekuriteitsbeampte by ’n klerefabriek naby sy ouerhuis. Maar toe die klerebedryf in duie stort en kollegas hul werk verloor, moes hy God vir ’n oplossing smeek. “Hoe nou, Here?” het hy gevra.
“Ek was op pad veertig toe, my vrou Denise was ’n huisvrou en ons kinders was op laerskool. Met my fabriekloon moes ek verskillende soorte skuld betaal. En daar was ’n klompie noodsaaklike aftrekkings. Ek kon my regtig net tot God wend vir hulp.”
In ’n leë kamertjie wat hy by sy werk ontdek het, het hy elke dag tot God gebid, Hom gesmeek.
“Ek het my gebede en talle teksverse op papiertjies neergeskryf en dit teen my bidkamer se mure geplak. Dan het ek met die Here gestoei. Ons kon nie langer op my salaris oorleef nie.”
‘Al die odds was teen my’
Uiteindelik kry Eric sy antwoord: Gaan studeer onderwys by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).
“Maar hoe, Here?” het hy gevra. “Ek het dan nie eens matriek nie. En ek sal universiteit toe moet stap – dis so vér!”
Hoe langer Eric oor die struikelblokke in sy pad gewonder het, hoe duideliker het die Here gesê: “Gooi jou net dieper in.”
En dis presies wat Eric in Desember 2009 gedoen het: Hy het bedank, en oral begin soek na die R3 500-registrasiegeld vir die universiteit.
“Onthou, my familie en my omgewing se mense leef armoedig; daar is nie geld om uit te leen aan iemand wat dit eers járe later kan terugbetaal nie.”
Januarie 2010 het gekom en Eric het sy aanvaardingsbrief van die UWK ontvang. Maar daar was geen teken van die registrasiegeld nie.
Uiteindelik het hy ’n banklening gekry en elke sent daarvan by die universiteit gaan inbetaal. “Maar toe het ek nie geld om my studentekaart te betaal nie …
“Wanneer ek terugdink, besef ek al die odds was teen my. Maar ek het elke dag afhanklik van die Here gebly. Ek móés net.
“Deur my studiejare het ek dikwels die Onse Vader geloop en opsê, het ek myself herinner aan: ‘Klop, en die deur sal oopgemaak word.’
“En aan my grootste stuk inspirasie: ‘Gooi die net dieper in.’
“Al was ons sonder enige inkomste, het ek elke dag se 27 km heen en weer gestap met ’n lied in my hart, want ek het gedink aan die uitkoms wat die graad sou bring.”
‘Ek was gefokus’
Eric het gou allerlei oorlewingsmeganismes by UWK geleer, soos die aansluit by talle kampus-organisasies – ter wille van die oriënteringsweek se gratis verpakte middagetes. “Dan bêre ek die etes in ’n sak. En vanaand kan ons almal iets eet.
“Soms kom ek laatmiddae tuis met die elektrisiteitmeter op 1. Net genoeg vir teewater kook voor die krag afslaan.
“Daar was g’n sent vir boeke en skryfbehoeftes nie. Een sielkundehandboek het meer as R600 gekos. Dit was onbekostigbaar.
“Dan lees ek sommer ’n medestudent se handboek op die kampus. Memoriseer dit vir toetstyd. En slaag nogal met goeie punte!
“Ek het die hele jaar gebid dat ons nie saans toets skryf nie, want ’n stappery in die donker is gevaarlik. Gelukkig was die toetstye meestal vyfuur in die agtermiddag. Dan skryf ek vinnig en maak gou klaar voor ek uitglip huis toe.
“Een wintersaand kom ek in gietende reën tuis, my notas en my lyf sopnat. Ek was moedeloos. Denise het my gelawe met tamatiebredie en frikadelle. En eers later besef ek dat sy sonder aandete moes bly sodat ek en die kinders kon eet.
“Die hele proses was soos ’n ossewatrek oor die berge. Maar ek was gefokus. Ek het één kans gekry en ek moes dit behoorlik benut. As dosente take uitdeel, het ek dit dadelik voltooi, dit soms drie weke voor die spertyd ingehandig.
“Ek was die hele tyd bewus van my afhanklikheid van die Here. My lewe het daarvan afgehang. Dan was daar Denise, wat die hele tyd saam met my trek, en my help met die dun riempies se sny.”
‘Ek het alles ingesit’
In sy tweede jaar bied Eric hom aan as studentefasiliteerder, ter wille van ’n klein honorarium. “Die administratiewe personeel wou nie; hulle was bang vir ’n generasiegaping tussen my en die jong studente.
“Maar ’n man wat aan ’t registreer was vir sy doktorsgraad hoor die gesprek en doen vir my ’n goeie woordjie. Net daar word ek ’n fasiliteerder.
“Sommige nuwe studente kom uit die Noord-Kaap; hulle is heeltemal uit hul water van vreemdheid. Ek het alles ingesit om hulle te ondersteun.”
Daardie jaar wen Eric ’n trofee as die beste fasiliteerder.
Maar hy moes die toekenningsaand misloop. Daar was nie brandstofgeld vir die aandfunksie nie.
Intussen kry hy ’n werkie by ’n slaghuis, sewe dae per week. Hy moet dit saam met sy studies behartig. Daardie maandelikse R2 500 was hul redding.
“Ek het begin studeer toe ons seun Brandon hoërskool toe gaan. Toe ek graad kry, was hy in matriek. Ons het dikwels saam gesit en leer.
“Toe ek die slaghuiseienaar vir ’n klein lening vra ter wille van Brandon se matriekafskeidklere, het hy die geld vir ons gegéé. Nie geleen nie.”
Eric was verheug toe Brandon ná skool gaan studeer het. Hul dogter Cassidy se onderwysstudies is ook nou amper voltooi. En Shannon, hul jongste, wil geneeskunde studeer.
Hartseer was daar ook, veral toe drie van Eric se sibbe kort ná mekaar tydens die Covid-19-pandemie sterf.
‘God maak dikwels vir my deure oop’
Sedert Eric 12 jaar gelede by ’n laerskool in Hanover Park aangestel is, gebruik hy elke moontlike geleentheid om die graad 7’s te bemagtig. Hy reël lees- en skryfkompetisies. Met sertifikate, medaljes en pryse wat hy uit sy eie sak betaal. Hy koop speletjies soos “30 Seconds” en bied programme aan vir vroeë skoolverlaters.
Hy gebruik die skaak- en hip-hop-klubs wat hy help stig het, asook uitstappies na die Kasteel en Tafelberg, om die kinders se wêreld te verbreed.
“Ek gee trofeë en klein pryse om leerders geïnteresseerd te hou. Ek koop leesboeke. Ek betaal nou die vyfde boekrak vir my klas. Dit skep ’n bepaalde atmosfeer en kweek ’n leeskultuur.
“Ek handhaaf ’n goeie verhouding met ’n private vaardigheidskool waar kinders met groot agterstande geplaas word, kinders wat eerder met hul hande wil werk.
“Hier is soveel skietery en ander trauma in ons omgewing … Die skool moet ’n oase vir die kinders wees.
“God maak dikwels vir my deure oop: skrywers soos Julian Jansen, Troula Goosen, Therese Hulme en opkomende Kaapse Vlakteskrywers wat die kinders kom aanmoedig om kreatief te wees. Hemelbesem het ons besoek en ons graad 7’s uitgenooi na sy konsert by die Taalmonument.
“In 2020 het David Kramer gehelp dat ons kinders na ’n Taliep Petersen-vertoning kon gaan kyk. Hoërskool Jan van Riebeek nooi ons elke jaar na hul kunsuitstallings. En Afrikaans.com het ’n reuseportret aan die buitekant van die skool aangebring.”
‘Ek leef steeds in afhanklikheid’
Eric, wat nooit leer motor bestuur het nie, stap daagliks die 1,5 km skool toe. Steeds gooi hy die net dieper in met uitstappies en projekte vir sy leerders. Hy begeer ’n interaktiewe witbord in sy klas, hy wil graag formele atletiek- en sokkerafrigting by die skool sien. En hy soek tans hard na ’n borg vir sy leerders se busvervoer vir ’n Kunstekaap-besoek op 16 Mei.
“Feitlik al ons kinders in die skool ly broodgebrek. Ek het my eie projektor gekoop, maar toe beleef ek verlede week die hartseerste dag toe die projektor breek.
“Dan word dit weer tyd vir bid en smeek, want ek leef steeds in afhanklikheid voor ons hemelse Vader.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.