Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Verandering is nie net verlies nie

Elke aand lees ek vir my seuntjies slaaptydstories voor. Elke seuntjie kry ’n beurt om ’n boekie te kies. Ons sit dan saam in die dubbelbed, onder die komberse toegevou by die sagte gloed van die bedlampie – ek in die middel, en ’n seuntjie onder elke vlerk. Dieselfde ritueel speel hom aand ná aand af. Dis ons spesiale lekkerte voor slaaptyd.

My oudste het hierdie jaar leer lees. Een aand vra hy: “Mamma, kan ek maar vanaand self lees?”

Ek het geglimlag en gesê: “Dis reg so, my seun.”  

Met sy Z is vir Zackie-boekie in sy hand is hy by my kamerdeur uit. Die plekkie onder my regterarm, daar waar hy altyd pas, het koud en leeg gevoel. My jongste was steeds styf teen my aangekruip terwyl ek lees. Maar iets fundamenteels het verander, iets in my rol as mamma.

LEES OOK: Om Jesus se hart en hande in ’n gebroke wêreld te wees

Dit maak seer. Nie omdat my oudste iets verkeerds doen nie, maar juis omdat hy nou doen waarvoor hy gemaak is: om te groei, te ontwikkel.

’n Paar aande later, terwyl ek en my jongste in die bed sit en lees, loer die oudste by die deur in en vra, doodluiters: “Kan ek vanaand saam met julle lees?” En hy kom sit weer onder my vlerk. Ek vra: “Wil jý vanaand vir ons ’n boekie lees?”  

Hy straal van trots. En ek besef: Die verlies het plek gemaak vir iets heel nuuts. En dis skoon wins.

Verandering, verlies, en vertroosting

Ek het in dié dae opnuut besef dat verandering en verlies beste maats is. Wanneer ’n mens verander, is daar altyd ’n deel van die ou self wat jy verloor. En dis moeilik om ’n deel van jouself prys te gee, veral as dit iets is wat jy al lank met jou saamdra.

Maar verandering geskied selde sonder verlies. Dis waarom daar so baie mense is wat sê hulle wil verander, maar hulle kry dit eenvoudig nie reg nie. Hulle stuit telkens voor die moontlikheid van verlies, van prysgee.

Wat beteken hierdie huiwering vir ons binnewêreld, vir die mens wat God ons roep om te wees?

Ek dink dit werk so: Om te verstaan waarom jy dit nie regkry om te verander nie, moet jy eers eerlik kyk na wat jy dalk gaan verloor indien jy wel verander. Jy kan tog nie gelyktydig wurm én vlinder wees nie …

Maar hier is die troos: Verandering is nie bloot verlies nie, dis ook ’n uitnodiging. Dit verteenwoordig ’n heilige oorgang. Paulus skryf in 2 Korintiërs 3:18: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.”

Hierdie verandering is nie selfvervaardig nie en is nie ’n projek wat ons op ons eentjie moet voltooi nie. God se Gees werk in ons, stadig, geduldig, vol genade. Dis dus geen wonder dat Jesus die Gees “Trooster” noem nie. Ons lees in Johannes 14:26: “Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

 Die Gees weet wat dit inhou om Christus te volg. Dat dit beteken dat jy sekere dele van jouself prysgee, agterlaat. Dit sluit in: ou gewoontes, ou denkpatrone, ou drome. Daarom herinner die Gees ons aan Jesus se belofte dat elke verlies in Hom ’n wins is. Dat elke prysgawe ’n voorbereiding is vir heerlikheid.

Ons lewe is ’n durende dans tussen verandering en verlies. Dit is belangrik om te weet om nie by die doelwit te begin as jy wil verander nie, maar by die moontlike verlies. By die besluit: Wat moet ek laat gaan? Wat moet ek begrawe sodat daar iets nuuts kan begin groei? Watter stuk van my ou self moet sterf sodat die Gees die nuwe ek sal laat opstaan?

Laat die Gees jou hierin lei en leer. Laat Hy jou aan God se beloftes herinner. Laat Hy jou troos in jou verlies. Hy laat jou nooit alleen nie.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.
Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►