Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Wanneer die dobbeldraak in jou selfoon skuil

Dis hel as die dobbeldraak sy kloue in jou slaan. Dit word nóg donkerder as dié monster skielik by jou selfoon intrek. Is dit moontlik om dit te ontvlug?

Jare lank was sy lêplek in die hart van ’n casino, so tussen die klinge­lende slotmasjiene en die vallei vol roulettetafels. Maar deesdae is

die dobbeldraak se skuilplek in jou slimfoon.

Hier lê en wag die monster … gedul­dig, verleidelik. Die ene kleurvolle, uit­nodigende aanlyn speletjies en flitsende advertensies. Sy aas is jou eerste wenslag; sy geluk jou aanhoudende verloor daarna.

En sy troefkaart? Jou verslawing. Dit was nog nooit só maklik nie …

LEES OOK: Van uitstel kom afstel … Is jy skuldig? Stel dit reg!

Volgens die marknavorser Statista het die aanlyn dobbelbedryf in Suid-Afrika se geldwaarde die afgelope vier jaar ver­dubbel, van R4 miljard tot R8 miljard.

“Die wêreld is stukkend,” sê Caren Combrink, ’n sielkundige in Benoni. “Daar is sóveel mense wat met aanlyn dobbelary worstel. Dis regtig ’n groot probleem.”

Die lang, moeisame pad na herstel

Jy vermoed iets, want skielik is jou geliefde kortaf, geheimsinnig, moeg. Onttrek van die samelewing, jok, vermy vriende, dink verskonings uit.

Wanneer julle bymekaar is, is jou geliefde … elders. Toenemend verknog aan die slimfoon.

Deesdae word jy vir geld gevra, en alte dikwels kom daar nog ’n rede waarom jy nie terugbetaal word nie. Jy is raadop.

En jy is nou oortuig daar is ’n groter probleem.

Wat ook al agter daardie gordyn van verslawing mag skuil, die pad na herstel is een wat toewyding en empatie vereis. Caren sê: “Dit verg baie geduld en ondersteuning. Onthou, genesing kan eers begin as die verslaafdes erken hulle het ’n probleem.”

Juis daarom moet reeds die eerste ge-sprek daaroor met empatie aangepak word. “Skep ’n ruimte wat veilig is. Ver-slaafdes voel dikwels skaam en uitgesluit. Toon begrip. Luister meer as wat jy praat. Probeer om te verstaan hoe hulle voel en wat hulle beleef. Laat hulle verstaan dat daar hulp is. En dat jy tot hul beskikking is.”

Volgens Philé Möller, ’n sielkundige in Pretoria, is dit noodsaaklik om nooit woorde te gebruik wat afbrekend is nie. “Só ’n aanslag kan nie net die betrokkene laat verleë voel nie, maar dit kan ook ’n struikelblok wees om hulp te kry.

“Fokus eerder op spesifieke gedrag en die impak daarvan op die persoon se lewe, en die impak op joune en ander wat na aan hierdie persoon leef en beweeg. Spesifieke vrae help ook om die dobbel­gedrag te verstaan en die redes daarvoor uit te pluis.”

Caren sê: “Dis wel ook nodig dat jy die harde gevolge van hul verslawing uitwys, al is dit moeilik. Dis belangrik om sulke mense te help om te sien, swart op wit, met bewyse, dat hulle geld verloor om die ‘wen’-euforie aan die lewe te help hou.”

“Ongelukkig is die proses dikwels besaai met leuens, ontkenning en meer konflik,” verduidelik Chris Breedt, ’n sielkundige in Gqeberha. “Soms moet daar ’n ultimatum gestel word, en dis ’n laagtepunt vir ’n verslaafde. Soms moet jy verduidelik wat jou bekommernis is oor die klomp skuld en wat die verbreking van vertroue aan jou doen.”

Al praat jou geliefde in sirkels en al maak niks sin nie, is dit nodig dat hulle self woorde aan hul verslawing gee. Caren sê: “Die verslaafde mag nie geïsoleerd voel nie. Dit sal help as hulle met vriende en familie daaroor kan praat. Maar professionele hulp is noodsaaklik.”

Wanneer verslaafdes by haar kom aanklop, probeer Caren altyd vasstel hoe die dobbeldraak dit reggekry het om sy kloue so diep in te slaan. “Dis die spreek­woordelike ‘hoekoms?’ en ‘waaroms?’

“Miskien is die verslaafdes eensaam, sonder vriende. Miskien het hulle iemand aan die dood afgestaan. Miskien is hulle angstig. Dis belangrik om daardie ‘snellers’ te vind.”

Sy moedig die verslaafdes onder meer aan om ’n stokperdjie te kry, om te begin oefen, of selfs om iewers as vrywilliger aan te meld. “Énigiets wat hul belangstelling sal prikkel en goeie afleiding sal bied.”

Philé sê: “Betrokkenheid by onder-steuningsgroepe soos Dobbelaars Ano-niem is ’n waardevolle ondersteunings­bron. Hier kan die lede hul stories en daaglikse uitdagings met mekaar deel.”

Maar dis ’n lang en dikwels uitmerge­lende proses, ook vir die naasbestaandes. Philé: “Die familielede en vriende sal daarby baat indien hulle hulleself behoor-lik bemagtig. Lees na oor verslawing en verbreed in die algemeen jou kennis hieroor. Dit sal jou help om die uitdagings wat voorlê beter te verstaan.”

Moet egter nooit probeer om die dobbeldraak namens iemand anders te verslaan nie, sê Philé. “Dit kan weer tot ’n ander soort afhanklikheid aanleiding gee omdat die ondersteuners te veel verant­woordelikheid op hul eie skouers laai.”

En dis ’n soort druk wat die rol van die ondersteuners nog ingewikkelder maak. “Ontwikkel in elk geval jul eie ondersteuningsnetwerk,” sê Philé vir die naasbestaandes. “Praat met ’n berader of ’n sielkundige wat kennis en ervaring van verslawing het. Dis noodsaaklik dat ook julle met ’n professionele persoon praat.”

En al voel dit of die dobbeldraak nooit sy greep gaan verslap nie, moet hoop, gebed en geloof in die genade van bo jou wapenrusting bly. Caren sê: “Hou aan om die verslaafde mens aan te moedig en te bemoedig. Juis ook wanneer daar terug­slae kom. Daar is altyd hoop om gesond te word, daar is altyd hulp. Ook hierdie verslawing kan oorwin word.”

Verslawing en ’n slimfoon

’n Gerehabiliteerde alkoholis kan wye draaie om ’n kroeg loop, maar vir mense wat hul fix op ’n slimfoon kry, is die ver­soeking net ’n klik ver.

Daarom stel Philé aan verslaafdes voor dat hul slimfoon met ’n “outydse” selfoon vervang moet word. “Dit sal goed wees as jy ’n selfoon gebruik wat nie ’n internet­verbinding het nie, wat beperkte moont­likhede bied en jou vir seker nié in staat stel om enigiets aanlyn te koop nie.”

Maar as dit nie kan nie, is slimfoonvry-tyd, potgooie en goeie geestesgesond­heid-apps ander moontlikhede. “Al dié dinge kan jou help om ’n gesonde verhouding met jou slimfoon te kweek.”

Chris sê: “Selfdissipline is, wat my betref, die antwoord. Aanlyn dobbel se onmiddellike beskikbaarheid bly die grootste uitdaging. Die verslaafdes moet deurlopend bewus bly van dié dinge wat hulle sal aanmoedig of terug lok.

Chris se raad aan die verslaafde mens?

“Moenie jou selfoon wegsteek nie. Maar moenie webtuistes besoek, selfs mediaplatforms, wanneer jy alleen is nie. Moenie jou selfoon gebruik as jy ge-spanne, moeg of gefrustreerd is nie, en veral nie as jy ’n behoefte daaraan het om te ontspan nie.”

Volgens Caren kan toegang tot enige aanlyn dobbelplatforms of -apps geblok­keer word. “Daar is handige sagteware beskikbaar wat ’n foon kan beskerm en die gebruiker kan verhoed om toegang tot hierdie apps te verkry.

“Die verslaafdes kan ook die parental control-funksie aanskakel. Hoewel die ge­bruiker steeds die gewraakte webtuiste kan bereik, moet hulle eers ’n wagwoord intik. Dis juis hierdie laaste stap wat genoeg tyd ‘koop’ sodat die verslaafdes twee keer kan dink voordat hulle hulle weer blootstel en dalk ’n terugslag beleef.”

Hier is hulp

Indien jy of ’n geliefde hulp nodig het, kan die volgende groepe geskakel word:

  • Gamblers Anonymous – gamblersanonymous.org.za, of info@ gamblersanonymous.org.za
  • Recovery Direct – recoverydirect.co.za, of 081 444 7000
  • South African Responsible Gambling Foundation, responsiblegambling.org. za, of 011 026 7323

* In die tweede seisoen van die kykNET-reeks Nêrens, Noord-Kaap het die karakter Ronnie Adendorff (gespeel deur Albert Pretorius) sy stryd teen verslawing deur weeklikse groepsessies aangepak. Dit was sy “driedubbele tou”, die plek waar sy duiwel (alkoholverslawing) ’n naam kon kry. Dit was die ruimte waarin hy vryelik kon praat.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF