Die palmtakke het verdroog. Die voete, eens skoon, is weer vuil. Die brood en wyn is op. Die kerse is doodgeblaas. Die stokkies-kruise en die doringkranse is weggepak. Van die laaste paaseier is net die blink toedraaipapier oor.
In die stilte wat ná Paasfees oral neerdaal, ook in ons huis, dink ek aan die simboliek en die rituele. En ek wonder, halfskuldig, hoeveel van dié Fees in my hart agtergebly het. Was dit nie maar, soos al die vorige kere, iets moois wat gekom en gegaan het nie? Wat het dit nou juis aan my elkedagse lewe verander?
LEES OOK: ’n Paasfeesperspektief: Om Jesus te herken
En ek besef opnuut hoe maklik dit geword het om onaangeraak deur dié tyd te gaan. Om die simbole en rituele te sien en te beleef en selfs daaraan deel te hê … en dit gou weer te vergeet. Van diepe nadenke en selfs introspeksie is daar geen sprake nie. Ons val maar weer, doodtevrede met ons lewe, terug in die ou patroon.
En as ons eerlik wil wees, word die simbole en rituele uiteindelik bloot ’n getuienis van ons gevoel van selfgenoegsaamheid en selfvoldaanheid; dit bring geen verandering in ons denke of ons dade nie.
Hoekom vier ons dan Paasfees?
Daar is talle redes waarom mense soos ons dié Fees vier, waarvan een dalk is omdat dit van ons verwag word. Dis mos wat gelowiges doen …
Daarom is ons heimlik bly as ander ons deelname raaksien. Dalk bewonder hulle ons toewyding, die vroomheid waarmee ons aan die rituele deel het. Gelukkig is ons nie van dáárdie klomp wat van die Pase ’n blote langnaweek maak nie …
Dis wanneer ek só daarop terugdink, en skaam-skaam erken dat ek nie is wie ek voorgee ek is nie, dat Jesus se verhaal in Lukas 18:11-12 hom aan my opdring. Jy ken dit tog: “Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie – diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’”
Daar bestaan ’n wesenlike gevaar dat ons Paasgebruike en -gewoontes vir ons genoeg geword het. Dat die paaseiers ons as ’t ware versadig. Dat ons hart nie meer deur die herdenking van die kruis op Golgota en die oop graf in die tuin geroer word nie. Dat al die lewenveranderende dinge nie meer ons hande en voete in beweging bring nie.
Ons hemelse Vader ken ons. Hy word nie deur leë woorde en allerlei gewoontes mislei nie. Hy vra geloof wat tot dade lei. Daarom moet ons altyd waaksaam wees, ook in die nadraai van die Pase, dat Jesus nie van ons sê wat Hy van die ou Jode gesê het nie: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af” (Matt 15:8).
Dalk het dit tyd geword vir ’n reguit vraag
Dalk het dit tyd geword om jouself reguit te vra: Wat beteken die Pase vir my verhouding met God en my verhouding met ander? Wat doen ek met die waarheid van Paasfees? Hoe beïnvloed alles wat Jesus vir my gedoen het mý doen en late? Wat doen dit aan die manier waarop ek my naaste behandel en met God se skepping omgaan?
Ja, dis weer sulke tyd: Die palmtakke het verdroog en die kruise is gebêre. Die kerse brand nie meer nie. Maar mag die nadenke oor die afgelope Paastyd jou inspireer tot ’n nuwe begin, ’n intiemer wandel met God, ’n liefdevoller omgang met die skepping en met jou medemens.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.






















