“Mamma, hoe lyk Jesus?”
My seuntjie se vraag het my laat stilstaan. Ons het pas ’n storie uit sy Kinderbybel gelees. “Niemand weet regtig nie,” het ek geantwoord.
“Maar het Hy só gelyk?” Hy het met sy vingertjie na daardie ikoniese Kinderbybelprentjie van Jesus gewys – die Jesus met die lang hare en die lang gewaad en die sandale.
LEES OOK: Die Here trek saam deur jou see vol probleme
Die soektog na ’n gesig
Ek het vertel dat Jesus baie lank gelede hier op aarde was, lank voordat daar kameras was waarmee ’n foto van Hom geneem kon word. Ons lees ook nêrens in die Bybel hoe Hy gelyk het nie.
Ek het gesê dat Jesus waarskynlik nié gelyk het soos op die prentjie in die Kinderbybel nie. En verduidelik: “Ons dink ook Hy was waarskynlik donkerder, soos die mense van daardie omgewing gelyk het.”
My seuntjie se teleurstelling was tasbaar. “Nou hoe gaan ek óóit weet hoe Jesus lyk?”
Maria Magdalena het Hom gesien
In die week voor Paasfees lees ons herhaaldelik van die gebeure voor en ná Jesus se kruisiging en opstanding. Die woorde in Johannes 20:18 tref my telkens: “Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: ‘Ek het die Here gesien!’ En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.”
En hier lê die hart van die Paasverhaal: Dit is nie bloot historiese gebeure nie; Jesus is ’n lewende werklikheid. Die graf was oop en leeg, en Maria was verheug oor Hom.
Maria Magdalena se verhaal verklap ook iets van ons lewensdoel op hierdie aarde: om ons Here te sien. Om Hom op ons lewensreis raak te loop.
Soms herken ons Hom nie dadelik nie, soos Maria, toe sy gedink het Hy is die tuinopsigter. En soos twee van die dissipels, toe Hy saam met hulle gestap het op pad Emmaus toe.
Ag, en hoe dikwels kyk ons Hom heeltemal mis …
Oë wat Jesus herken
Wanneer het jý Hom gesien? Was Hy dan nie die vriendin wat nou die dag jou las ligter gemaak het toe jy moeg en oorlaai was nie? Was Hy nie daardie vreemdeling met die sagte woorde toe jy dit so nodig gehad het nie?
En wat van daardie een vir wie jy kos gegee het, en ’n beker water, daardie mens vir wie jy in die hospitaal besoek het, of in die tronk? Onthou jy dan nie hoe Hy gesê het dat as ons goeie dinge aan een van die geringstes doen ons dit aan Hom doen nie?
Ja, alles wat ons doen en oral waar ons beweeg moet daartoe lei dat ons Jesus sien, Hom ál duideliker raaksien. Wanneer ons Bybel lees en bid, of as ons in ons elkedagse lewe besig is met ons take tussen ander mense, bekend en onbekend.
Ek verduidelik aan my seuntjies dat ons Jesus wel kan sien, maar nie soos op ’n foto nie. Ons sien Hom in die mense om ons. Hy woon in ons hart, en daarom kan ons Hom in ander mense herken.
Die leë graf wys ons dat wat gebreek was weer reggemaak is. Jesus het gekom om die wêreld te genees sodat ons Hom in die wêreld kan raaksien. Eendag sal ons Hom wel in sy volle heerlikheid sien. Só skryf Paulus: “Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel” (Kol 3:4).
Maar voorlopig probeer ons Hom raaksien in die mense wat ons elke dag teëkom. Ag, dat ons oë tog oopgaan sodat ons Hom makliker in hulle kan herken …
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.