My seuntjie klop aan die badkamerdeur terwyl ek stort. Hy roep: “Mamma, raai wie praat met jou!”
Ten spyte van die stort se gedruis sê ek dadelik sy naam.
Hy klink erg afgehaal: “Ag, maar hoe weet jy dis ek?”
“Want jy is my liefste seuntjie. En ek ken jou stem.”
’n Bekende stem
As iemand wat ek minder goed ken buite my deur gestaan en roep het, sou dit waarskynlik langer geduur het voordat ek sou weet wie met my praat. Maar ek ken my kind se stem. Enige mamma sal kan sê dat as daar ’n kind op die speelgrond huil sy onmiddellik weet of dit haar kind is. En as een “mamma!” skree, weet sy dadelik of dit haar kind is wat na haar soek.
LEES OOK: Mamma-memoires: Die Een wat alles vir ons gedoen het
Hoe langer ’n mens in iemand anders se geselskap deurbring, en hoe beter jy daardie mens leer ken, hoe makliker herken jy sy of haar stem. Jy leer ken die eiesoortige toonhoogte, die spesifieke aksent, die artikulasie (onder meer die manier waarop die “r” gerol word), die spraakritme, die woorde en frases wat daardie een graag gebruik. Selfs die stiltes tussen die woorde word herkenbaar. As my man, byvoorbeeld, my van ’n onbekende nommer af bel, weet ek dadelik dis sy stem. Ek hoef nie die nommer te herken om hom te herken nie.
My kinders is dikwels geïrriteerd as ons hond, wat my as sy baas gekies het, sy toertjies slegs wil doen as ék met hom praat. Dit maak nie saak watter lekker bederf hulle in hul hande hou nie, Brno wil nie sit of lê of in die rondte draai as ék hom nie aansê om dit te doen nie. Hy luister slegs na mý stem.
Ons lees in Johannes 10:11-16, 27-29 hoe Jesus met sy volgelinge oor sy stem praat. Hy het gesê: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. ’n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. Hy is ’n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie. Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder … My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.”
Só stel Jesus sy volgelinge gerus: Hy is die goeie herder, en ons behoort aan Hom. Hy sê ook hoe ons Hom kan herken – aan sy stem.
Ons, sy skape, moet genoeg tyd in sy teenwoordigheid deurbring om sy stem te kan herken wanneer Hy ons roep. Hoe langer ons by Hom is en hoe nader ons aan Hom is, en hoe beter ons Hom leer ken, hoe makliker herken ons sy stem. Daarom mag ons nooit kla dat Jesus nie met ons praat nie; ons moet net leer luister.
Hoe praat Hy, en wat hoor ons?
Jesus praat met ons deur God se Woord, deur die skepping, en deur ander mense. As ons Hom ken, sal ons Hom hoor. Ook te midde van die lewe se gedruis.
Weet egter dat ons Hom bitter maklik “verkeerd” hoor. Dat ons alte dikwels sy stem verwar met dié van ons eie wense en begeertes, ons persoonlike sienings en ervarings, en ons voorkeure en afkeure.
Om sy stem tussen al die ander stemme te onderskei, vra fyn luister. En hoe meer ons sy Woord hoor en met Hom praat, hoe makliker word dit.
Alhoewel ek in die stort besig was en die water in my ore geraas het, kon ek dadelik my seuntjie se stem herken. Net so sal ons God se stem kan uitken bo al die geraas in ons lewe. Daardie onskuldige, kinderlike vraag van agter ’n toe badkamerdeur leer ons ’n diep waarheid: ’n Bekende stem dring deur enige geraas.
Mag dit jou troos. En jou aanspoor om, te midde van die daaglikse geraas in jou lewe, fyn te luister. Want Hy ís daar, en Hy praat met jou.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.






















