Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Mamma-memoires: Die Een wat alles vir ons gedoen het

“Ek moet ook alles in hierdie huis doen!” het my vierjarige een oggend tydens ontbyt haar kammakastige lot bekla.

En dit nadat ek haar gevra het om ’n bakkie en ’n lepel te gaan haal terwyl ek solank die tafel dek, die pap uit die kas haal, vir haar en haar boetie melk in die pap inroer én drukkies uitdeel en ’n liedjie sing.

Sy was ook salig onbewus daarvan dat ek voor ontbyt die skottelgoedwasser uitgepak het, die speelgoed wat rondgelê het in die krat gaan bêre het, die vuil wasgoed opgetel en solank begin dink het wat om vir aandete te maak.

Sy en haar boetie kon maar net kom aansit.

Haar gesug oor die “alles” wat sy kwansuis moes doen, was so ver van die waarheid af dat ek spontaan begin lag het.

Maar ek het haar nie reggehelp nie.

Want ek is nie seker dat my vierjarige ooit die omvang sal verstaan van alles wat ’n ma en ’n pa in ’n huishouding doen nie. Boonop is dit vir my (meestal) lekker om vir my kinders pap uit die kas te haal, ’n skeut melk in die papbakkies te blerts én liedjies te sing.

Ek dien my kinders met ’n blye hart. Dis my onbeskryflike groot liefde vir hulle wat tot gevolg het dat ek al hierdie dinge vir hulle doen, en wíl doen.

’n Paar dae nadat my dogtertjie oor haar bittere lot in ons huishouding geweeklaag het, beleef ek hoe God my bewus maak van dit wat Hy in my hart doen.

Soms voel dit vir my dat ek my uiterste bes probeer om stiltetyd te hou en om Bybel te lees, om gereeld kerk toe te gaan, om in ’n geloofsgemeenskap betrokke te wees en in my alledaagse doen en late my hart stil en oop te maak om God raak te leef. Net om te ervaar dat daar eintlik niks in en met my gebeur nie …

Maar wanneer ek dit die minste verwag, voel ek hoe Hy dinge in my hart regskuif, dit heelmaak. Of my ’n nuwe perspektief gee, ’n lig wat die donkerte verdryf.

Dan besef ek opnuut: Hy wat die goeie werk in my begin het, sál dit voltooi (Fil 1:6). Hy is voortdurend aan ‘t werk in my hart.

Wanneer ek in dié tyd aan die Paasgebeure dink – aan Jesus wat Homself verneder het deur ander te dien en aan mense gelyk te word (Fil 2:7); aan Jesus wat Hom laat martel en doodmaak het; aan Jesus wat lief bly vir mense wat Hom nie verstaan nie, wat Hom selfs haat – dan voel ek soos ’n vierjarige wat die werklike groot dinge doodeenvoudig nie kan verstaan nie.

Hoe onbeskryflik groot is God se genade vir ons! En hoe wyd en diep en hoog sy liefde vir ons, dat Hy al hierdie dinge vir ons doen terwyl Hy weet dat ons nooit die ware omvang van sy offer, sy diens, sy liefde sal begryp nie.

Hy laat ons toe om maar net te kom aansit, om te eet van sy genade en sy liefde en sy seën.

Sowaar, Hy is die Een wat alles vir ons gedoen het.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►