Ek is op reis met Jesus se herdersopdrag aan Petrus in Johannes 21:15-19. Die woorde steek by my vas.
Ek bevind my in Petrus se skoene, en Jesus staan voor my en vra: “Simone, dogter van Niël, het jy My baie lief, meer as hulle?” Natuurlik antwoord ek: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”Ek het tog my hart vir U gegee en ek probeer ‘n lewe lei wat U verheerlik. Ek maak ook foute, maar ek het U lief.
Jesus sê: “Laat my lammers wei.”
Ek dink: Wat beteken dit, prakties gesproke, om u lammers te laat wei, Here? Want om te kan wei is lammers se mees basiese behoefte. Hulle moet dit doen om te kan leef en oorleef. Ek weet dat die beroemde Amerikaanse sielkundige Abraham Maslow ’n hiërargie van behoeftes geïdentifiseer het, as ’t ware ’n soort piramide, wat aandui wat mense benodig om te kan funksioneer. Op die onderste en mees basiese vlak sluit dit in: kos, water, klere, slaap en skuiling. Waar dit ontbreek, word mense van alle lewenskwaliteit ontneem en feitlik vir seker in hul verdere ontwikkeling gestuit. En ek dink aan hoeveel mense ek elke dag teëkom wat die minimum het om te eet, wat nie toegang tot skoon water het nie, wat in dié ysige dae sonder behoorlike skuiling is. Nou herinner Jesus my hieraan wanneer Hy my aansê om sy lammers te laat wei. Hulle kan hulleself nie help nie; ék moet.
Dan vra Hy weer: “Simone, dogter van Niël, het jy My baie lief?”
Ek dink opnuut aan waar ek vandaan kom en waarheen ek op pad is. Aan my storie, my geskiedenis, die konteks waarin ek leef en beweeg. En ek antwoord, vol dankbaarheid en met groot vrymoedigheid: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”
LEES OOK: Gaan staan vol vertroue voor jou reus
Toe sê Hy: “Pas my skape op.”
Die tweede vlak van Maslow se piramide is veiligheid en sekuriteit. Dit sluit eiendom in, asook gesondheid, werk, persoonlike welstand en die vastigheid van verhoudings. Wanneer ek dan in my konteks die opdrag kry om Jesus se skape op te pas, beteken dit dat ek noulettend aandag gee aan die omvattende veiligheid van die mense wat oor my pad gestuur word. Ek moet ag slaan op hul bekommernisse, ek moet hul vrese verreken. Ek moet besorg wees oor hul gesondheid en hul verhoudings. Ek moet hulle beskerm, al is dit ook teen hulleself.
’n Derde keer vra Jesus: “Simone, dogter van Niël, het jy My lief?”
Ek word hartseer, soos Petrus, wanneer Jesus dit weer van my vra. Hoekom vra U dit weer, Here? Wil U my daaraan herinner dat al my doen en late in liefde gegrondves moet wees? U weet dat ek daarmee sukkel, al probeer ek hard dat dit anders moet wees. Daarom antwoord ek U eerlik, en met ’n deeglike besef van my tekortkomings: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”
En Jesus sê: “Laat my skape wei.”
Die lammers het grootgeword en is nou skape. Hulle is ouer en wyser. ’n Volgende vlak in Maslow se piramide is selfbeeld en selfvertroue, en dan ook selfverwesenliking. Dit sluit moraliteit in, kreatiwiteit, spontaneïteit, aanvaarding, ’n sin vir waardes, die begrip van jou doel op aarde en van die betekenis van jou lewe.
Wanneer Jesus van my vra om sy skape te laat wei, beteken dit dat ek nogeens ondersteuning bied, dat ek die ander help om die beste moontlike weergawe van hulleself te wees. Kortom, om te word en te wees wat Jesus hulle bedoel het om te word en te wees. Met hierdie opdrag daag Jesus my uit om die diepste behoeftes van die mense wat Hy oor my pad stuur raak te sien en om met liefde daarop te reageer.
Jesus sluit af: “Volg My!” sê Hy.
Ek besef dit is veel meer as ’n blote uitnodiging; dis ’n oproep om saam met Hom te reis, lewenslank, totdat ons die bestemming bereik. En dít is die wonder: Hy is die bestemming. Dit is dus ’n reis na Jesus toe, en saam met Hom, elke tree van die pad.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.






















