Die mees uitdagende vrae in die lewe is dikwels ook die eenvoudigste. Dink maar aan dié een: “Hoe weet jy dit?”
“Kyk daardie Cirrus-wolke! Dit beteken dit gaan reën.”
“Hoe weet jy dit?”
“Kyk, dis die Suiderkruis!”
“Hoe weet jy dit?”
“Julle moet jul tande borsel sodat julle nie gaatjies daarin kry nie.”
“Hoe weet jy dit?”
“Papier word van bome gemaak. Julle moet daarom nie papier mors nie en dit altyd herwin.”
“Hoe weet jy dit?”
LEES OOK: Ja, God stel belang in jou – tot in die fynste besonderhede
Dit gebeur elke keer as ek my seuntjies iets probeer wys of leer. Een van hulle sal vra: “Hoe weet jy dit?” Dit het deesdae ’n knaende eggo in my huis geword. “Hoe weet jy dit?” weergalm van vertrek tot vertrek. Dit frustreer my erg wanneer ek (weer!) moet begin verduidelik.
Dié frustrasie laat my dink aan hoe ons keer op keer dieselfde ding vra wanneer ons voel dat ons in die moeilikheid is. Hoe weet ek dat God my deur hierdie krisis sal help? Hierdie groot en swaar en skynbaar onoorkomelike ding? Dalk is dit ’n dreigende egskeiding of die verlies van ’n geliefde, of finansiële probleme of ’n eksamen, of dalk ’n vernedering of ’n nederlaag. Hoe weet ek dat ek dit sal oorleef?
Ons lees in 1 Samuel 17:37 wat die jong Dawid sê wanneer hy met koning Saul praat oor sy (Dawid se) wens om die reus Goliat aan te durf. Saul probeer hom afraai omdat hy jonk en onervare is, maar Dawid antwoord hom: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.”
Oplaas het Saul vir Dawid toestemming gegee: “Gaan, en mag die Here by jou wees.”
Dawid weet dat die Here hom sal help. Hy onthou wat in die verlede gebeur het. Hy weet God is by hom, aan sy kant, omdat Hy nog altyd by hom was en hom gehelp het. Hy dink terug aan al die kere toe die Here hom gered het wanneer hy in die moeilikheid was, en dit gee hom die moed om die nuwe uitdagings te trotseer.
Ons kan weet dat God getrou is, omdat Hy nog altyd getrou was.
Een van dr Phil, daardie TV-sielkundige wat destyds so ’n bekende teenwoordigheid op ons skerms was, se uitsprake het my om die een of ander rede bygebly. Hy het gesê dat die verlede die beste voorspeller van jou toekomstige optrede is.
So is dit ook met die Here. Want hoe weet ons dat Hy ons sal bystaan en help? Dis maklik: Kyk terug op jou lewe, en weet dat jy Hom kan vertrou.
Dit is hoekom Hy Hom so dikwels as “die God van Abraham, Isak en Jakob” bekendstel. Hy wil hê ons moet onthou dat Hy die God van die verlede is, en daarom ook die God van ons toekoms is. As ons terugkyk op sy liefde en goedheid in ons lewe hoef ons nooit te wonder of Hy ons weer sal red nie. Ons weet Hy hét dit gedoen, en daarom kan ons weet Hy sál dit weer doen. Ons kan maar, soos Dawid, ons reus met vertroue tegemoetgaan. Die Here sou ons nie destyds uit die ondiere se kloue gered het en nou toelaat dat ’n reus ons verslaan nie.
Daar is baie dinge waaroor ons kan twyfel en daar is baie mense wat ons sal teleurstel, maar ons hoef nooit aan God se goedheid en getrouheid te twyfel nie. Mag dié ou, ou tyding jou die moed gee om vol vertroue voor jou reus te gaan staan.
Onthou ook Moses se laaste woorde aan sy volk net voordat hulle die Beloofde Land sou binnegaan: “Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie” (Deut 31:6).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.