Die gesindheid van ons hart bepaal die oopheid van ons hande. Dit is hoe ek die gemeentes in Masedonië se voorbeeld van blymoedige vrygewigheid sou opsom.
Paulus vertel in 2 Korintiërs 8 hoe dié gemeentes, ten spyte van hul eie swaarkry, daarop aangedring het om die arm gelowiges in Judea te help. Hoe hulle soveel meer gegee het as wat hy van hulle verwag het.
Vers 5 beskryf, soos ek dit verstaan, die sleutel tot hul besonderse benadering: “Want eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons.”
Dit is as ’t ware ’n aansporing om seker te maak jou hart is op die regte plek, sodat die tweede “gee” ’n spontane uitvloeisel van God se inside out-werk in jou lewe word.
Op ’n dag het die omgekeerde hiervan my getref terwyl ek aan die voorberei was vir ’n boodskap oor hoe ons Jesus se hande en voete kan wees, dit wil sê God se outside in-werk. Dit was die besef dat Hy reeds talle kere in my lewe etlike geleenthede en gesprekke gebruik het om deur daardie raakpunt met een van sy kinders by mý hart uit te kom.
LEES OOK: Lindie Strydom: ‘Swaarkry leer ons baie oor God se nabyheid’
Ek dink aan die vinnige geselsie met ’n karwag toe ek eintlik haastig op pad êrens heen was. ’n Mens dink nogal anders oor die geldjie wat jy so met ’n lang arm deur die venster aangee wanneer jy hoor dat hy R70 betaal het vir sy vervoer en staanplek vir dié werkdag.
En ek onthou die petroljoggie wat so op een plek gestaan en dans het terwyl ons vir die kaartmasjien wag. Toe ek vra hoe laat sy skof begin het, het hy breed geglimlag en gesê: “Sesuur vanoggend. Maar ek lyk die hele dag so! Ek sluit my probleme by die huis toe en dan loop ek saam met die Man daarbo.” En sy wysvinger het na die hemel beduie. “Hy sorg goed vir my. So, ek is goed. Sjo, ek het Hom lief.”
Ek voel nogal gereeld uit my diepte, so lomp en onhandig in my wees-met-mense en my poog-en-probeer-omgee vir ander. Want keer op keer is daar ’n geskenk van empatie en deernis, van begrip of geduld of meer en meer liefde vir ander mense, wat God eintlik vir mý wou gee. Al het ek toe alles behalwe blymoedig of vrygewig gevoel.
Ek hou van wie ek word en wat ek van God se hart vir sy kinders ontdek wanneer ek, ten spyte van myself, loop waar Jesus loop.
Toe ek haar op ’n keer vra hoe die Here haar verander het deur die werk wat sy doen, het my vriendin Sanet Fagan van SA Cares for Life geantwoord: “Daar is sóveel mense met soveel minder as ek, en tog soveel meer. As ons meer gereeld daar is om die vreugde en dankbaarheid van mense te beleef wat volledig van God afhanklik is vir elke dag se brood, sal ons besef dis eintlik óns wat van hulle moet ontvang.
“Sulke mense leef lankal in die nederigheid wat ek nou eers leer ken. En dit wat hulle het, bied bevrediging soos niks anders op aarde nie. En dan wonder ek dikwels: Kom die Here nie dalk makliker by ons uit as daar minder dinge tussen Hom en ons is nie?”
God het destyds kos uit die hemel gegee en water uit ’n klip laat stroom; Jesus het duisende met twee vissies en vyf broodjies gevoed. As Hy kies om ons deel te maak van sy (wonder)werk in die lewe van ons broers en susters, is dit ’n uitnodiging na ’n plek van nader, ligter en minder – en tog soveel meer.
Dit is die genadegeskenk van God se outside in-werk vir ’n inside out-verandering.
- Lindie Strydom is ’n lief-vir-die-Here- en bietjie-van-alles-mens wat haar passie vir haar gesin, geloof en gemeenskap as motiveringspreker en -skrywer deel. Haar rol as vrou en ma bly egter haar grootste roeping en vreugde.





















