Brenda Hammond se laaste wens, voor sy in Julie 2020 oorlede is, was om die mede-inwoners by haar tehuis se verblyf gemakliker te maak. Sy het hiervoor in die laaste dae van haar lewe ’n spesiale wenslysie opgestel om saam met haar testament agter te laat.
Twee van die projekte is reeds uitgevoer: nuwe gelamineerde vloere vir Huis Nuweland in Kaapstad en ’n splinternuwe bussie waarin inwoners rondgery word. Volgens bestuurder Edwin Barnard het Brenda jare gelede tydens ’n uitstappie in die tehuis se ou rooi bussie gaan staan. Sy het glo net daar verklaar: “Eendag koop ek vir julle ’n splinternuwe bussie!”

Edwin vertel die wenslysie-idee het gekom terwyl Brenda en haar beste vriendin Margaret Mears aan haar testament gewerk het. Die 89-jarige Brenda was toe reeds in die siekesorgeenheid van dié Badisa-tehuis vir ouer persone in Kaapstad waar sy 22 jaar lank gewoon het.
Brenda se lysie het spesifieke projekte uitgestippel én sy het die nodige finansies verskaf om elke projek moontlik te maak.
Op die oomblik word daar gewoeker om ’n nuwe beskutte buite-area vir inwoners en hulle familielede te bou, sê Edwin. Laastens kom ’n industriële koffiemasjien sodat almal ordentlike koffie kan geniet tydens hulle kuiers.
Dan sal al Brenda se wense vir die inwoners van Huis Nuweland vervul wees.
Brenda se lewe is ’n voorbeeld daarvan dat jou liefde vir ander steeds kan voortleef lank ná jy oorlede is.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















