Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek hardloop vir almal wat moeg geveg is’ – Bloem-vrou pak uithouwedloop in Antarktika aan

“Ek hardloop vir almal wat moeg geveg is,” sê Woutri Mugglestone. “Vir dié wat in stilte huil, en vir dié wat deur pyn en verlies se koue seisoen moet worstel. Ek hardloop ook vir tweede kanse, vir die geleentheid om te kan sê: ‘Ek is nog hier!’”

En hardloop gaan dié vyftigjarige Bloemfonteiner hardloop. In die ysige Antarktika. Binnekort sal sy die enigste Suid-Afrikaner word wat aan die Ultra-Ice-marathon in die verste suide van ons planeet gaan deelneem.

Om die waarheid te sê, sy vertrek vandag, 7 November 2025, daarheen. Sy reken om minstens 50 km af te lê in die 24 uur wat die wedloop duur.

’n Tweede kans

Woutri se man Stephen boer op ’n plaas naby Prieska. Toe die groot droogte destyds toeslaan, moes sy inspring om geld te verdien. Sy moes hul twee kinders Danae (vandag 23) en Zander (vandag 27) help versorg.

Sy vertel: “Ek het nege jaar lank snags as suster in ’n hoësorgeenheid in Bloemfontein gewerk, en bedags as eiendomsagent.” Sy onthou hoe sy ’n student moes kry om snags na haar kinders om te sien.

Woutri sê dat sy weet hoe dit voel om moeg te wees, om in stilte te huil. Gelukkig weet sy ook hoe dit voel om ’n tweede kans te kry.

Want buiten die lang ure wat sy noodgedwonge moes werk, het daar verdere uitdagings op haar gewag. “Ek moes twee keer hoor, ná ’n besoek aan ’n radioloog, dat ek kanker het. Ek het twee operasies ondergaan. En ek moes steeds bly werk.

“Tussen die operasies en die behandeling deur het ek gebid vir ’n tweede kans. Ek wou só graag my kinders sien grootword …

“Eintlik het ek bloot gebid dat ek sal sien hoe hulle matriek slaag.

“En vandag het hulle reeds hul tersiêre studies voltooi!”

Gereed vir Antarktika

Woutri vertel dat sy nog altyd lief was vir sport, maar dat sy as volwassene nie juis tyd gehad het om te oefen nie. ’n Paar jaar gelede het haar seun Zander haar na ’n CrossFit-sessie genooi. En vandag is sy ’n afrigter in haar seun se CrossFit-gimnasium.

Sy het ook in daardie tyd begin hardloop en sommer gou-gou aan uithou-wedlope begin deelneem. “My seun het elke keer saam met my gehardloop én saam met my geoefen. Dié Ultra-Ice-marathon sal die eerste keer wees dat Zander nie saam met my deelneem nie.”

LEES OOK: Gerehabiliteerde verslaafde hardloop 1 603 km na Pietermaritzburg én toe Comrades: ‘Enigiets is moontlik as jy glo’

En net mooi gister, 6 November, het die spandokter haar voorgenome deelname in Antarktika goedgekeur.

‘Ek kies om op te kyk’

Woutri het talle uithouwedlope voltooi ten einde behoorlik voorbereid te wees vir wat in Antarktika op haar wag. Sy vertel: “Een van die moeilikste wedlope was die Tafelberg-ultramarathon. Ek is bang vir hoogtes, en daardie dag het ek boonop met ’n ongenaakbare wind te doen gehad. En ek het etlike kere verdwaal. Daar moes ek leer om op te kyk en nie af nie.

“Opkyk verteenwoordig hoop; afkyk is vrees. Wanneer jy afkyk, sien jy jou tekortkominge. En wanneer jy opkyk, onthou jy jou doelwit. Dit was in daardie wind, in daardie onsekerheid, dat ek geleer het geloof is groter as twyfel.”

Sy vertel verder hoe sy elke week 150 km afgelê het, en boonop voltyds gewerk het. Sy het ook drie keer per week in ’n koelkamer geoefen waar die kwik tot so laag as -30 grade Celsius daal.

Woutri is daarvan oortuig dat die struikelblokke wat sy die afgelope jare oorkom het haar ook vir dié oomblik voorberei het. Sy sê: “Ek kies Antarktika omdat koue een van my grootste uitdagings is, en ek weet ek groei slegs buite my gemaksone.

“Dis nie nou moontlik om te sê hoe ek gaan voel as ek die wit wêreld van die aarde se mees ongerepte landskap tegemoet gaan nie, maar ek reken dit sal ’n oomblik van ongeloof en verwondering wees, ’n oomblik wat ek in geloof sal aflê.”

‘Om my reuse in die oë te kyk …’

“Elke wedloop leer my iets nuuts oor myself. Ek leef vir tweede kanse. Daar was ’n keer toe ek ondersoek is, en die nuus was nie goed nie. My eerste reaksie was om te vlug. Om uit die onsekerheid te ontsnap. Maar ek het besef dat vlug nie jou pad verander nie; dit vertraag bloot jou geloof.

“Ek het geleer om my reuse in die oë te kyk, nie met vrees nie maar in geloof. Soos Debora in die Rigtersverhale het ek ontdek dat ware krag nie in jouself geleë is nie. Daarom het sy nie weggehardloop nie, maar in geloof vasgestaan. Ek kies om dieselfde te doen.”

Hoewel haar kanker in remissie is, het Woutri al haar hare afgeskeer sodat vroue wat hulle op ’n kankerreis bevind hulle met haar kan identifiseer. Sy vertel dat een van haar Instagram-volgelinge onverwags oorlede is. En dit is dié mens se tragiese dood wat haar geïnspireer het om Antarktika sonder hare aan te durf.

‘Dis Jesus wat my sterk maak’

Woutri hardloop om geld in te samel vir The Davis Foundation, ’n organisasie wat omgeepakkies aan kankerpasiënte verskaf. Sy voeg dadelik by: “Die afgelope ruk het sóveel mense my gekontak wat uitdagings rakende hul geestesgesondheid ervaar. Ook mense wat met verslawing sukkel. Daarom het ek besluit ek hardloop nie net vir kankerpasiënte nie, maar vir almal wat hoop nodig het.”

Net voor sy vir oulaas op WhatsApp groet, stuur sy nog ’n boodskap: “Van buite af lyk dit dalk of ek hierdie sterk vrou is. Maar dis Jesus wat my sterk maak. Ek is gesond genoeg om te kan hardloop, en ek is dankbaar daaroor. Alle eer aan Hom!”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►