Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek kon skielik nie sien, hoor of praat nie’ – vrou glo dat swaarkry haar vir ’n eie bediening gevorm het

“’n Seldsame siekte het my verlam, en ek kon nie sien of hoor of praat nie. Ná ’n operasie is ek genees, maar drie jaar later moes ’n yslike gewas uit my maag verwyder word. Die Here se genade is onbeskryflik groot, en ek is vandag heeltemal gesond.” Só getuig die sangeres en motiveringspreker Lizette Janse van Rensburg.

Tydens die grendeltyd in 2021 het Lizette Janse van Rensburg een oggend opgestaan en besef daar is ’n groot, pynlike knop onder haar regteroor. “En ek kon skielik nie sien, hoor of praat nie. Ek was ook gedeeltelik verlam. Dit het kompleet gevoel asof ek ’n beroerte gehad het.

“Ek het ’n spesialis gaan spreek en hy het vermoed dit is Bell se verlamming.”

Die swelsel onder haar oor is gedreineer – maar binne twee dae was dit weer daar. “Ek het ’n klier-spesialis by die Panorama-hospitaal in Kaapstad gaan spreek. Ek het gewonder of dit nie dalk die Here se plan vir my is nie: dat ek die res van my lewe pyn verduur. Dat ek nooit weer sou praat, loop, hoor of sing nie.

“Ek was ontsteld, en ek het die Here gesmeek om tog net met my te praat. Ek het verlate gevoel, magteloos.”

Tydens die besoek aan die spesialis het hy vir Lizette en haar man Jaco gesê dat die Here mense na hom toe stuur. “Daarop het hy sy arms om ons gesit en vir ons gebid. En toe gesê: ‘Mevrou van Rensburg, alles sal oukei wees.’”

Beterskap, maar …

Nadat die spesialis haar geopereer het, was Lizette vir die eerste keer in maande sonder pyn. “Die dokter het gesê dat daar ontsteking in die klier aan die regterkant van my gesig was, en dat dit tussen twee en agt jaar kan duur voor dit herstel.”

Sy moes daarna elke week die Panorama-kliniek besoek om die pypie wat ingesit is te laat dreineer. Sy het ook gereelde fisioterapie en laserbehandeling ontvang.

“Mettertyd het ek my spraak teruggekry. My gehoor is nog nie honderd persent nie. En my gesigspiere het ook nie heeltemal genees nie; ek kan byvoorbeeld nie frons nie. Maar ek het geleer om daarmee saam te leef. Ek is net te dankbaar dat ek weer kan loop, praat en sing.”

Maar drie jaar ná daardie episode het nog ’n groot terugslag haar getref: Sy het nie gesond gevoel nie en by die dokter aangeklop. Dié het toe ontdek dat Lizette ’n gewas van sowat 18 cm in haar maag het. “Die gewas kon gelukkig verwyder word, en ek het my gesondheid herwin.”

Magnify The Lord

Lizette en Jaco het drie kinders – Charlene (40), Danielle (34) en Josua (34). Sy was 30 jaar oud toe sy ’n dogtertjie verloor het. “Toe ek so vyf maande swanger was, kon die ginekoloog geen hartklop bespeur nie, en die baba is ’n maand later verwyder. Die Here ken die smart en seer wat ’n ma deurmaak wanneer sy ’n kind verloor …”

Lizette tree dwarsoor die land op. Sy besoek kerke en skole en tree ook by ander geleenthede op waar sy die Woord deur middel van haar sang en getuienis bedien. Tydens haar optredes praat sy oor daardie groot verlies, en vertrou dat sy daardeur hoop bring vir ouers wat ’n kind verloor het.

Sy vertel ook graag haar inspirerende lewensverhaal, en dan koppel sy dit aan haar musiek. “Elke liedjie wat ek sing, vertel ’n storie. God het soveel genade aan ons bewys, tot vandag toe.”

Lizette vertel dat sy van kleins af lief was vir sing, en sy het aan talle eisteddfods deelgeneem. “Maar toe ek in graad 7 was, het my stem gebreek en ek het nooit weer gesing nie.”

In 1991 het sy haar stem op ’n wonderbaarlike wyse teruggekry. Sy vertel: “Dit het by SCAS* se hoofkwartier gebeur, by ’n kampterrein buite Stellenbosch. Ek het by ’n rivier gestaan en ek wou so graag vir die Here ‘O Heer, my God’ sing. Ek wou Hom loof oor die mooi natuurskoon.

LEES OOK: Predikant se geloofskrisis ná die moord op sy skoonouers: ‘Daar is nie maklike antwoorde nie …’

“Toe het Hy my stem vir my teruggegee. In 2003 kon ek weer voltyds begin sing.” Kort daarna het sy met haar eie bediening begin, Magnify The Lord Ministries.

Hierdie werk wat sy tot die Here se eer doen, kom reeds baie ver. Nadat sy in 1987 tydens ’n SCAS-uitreik in Dwarskersbos aan die Weskus tot bekering gekom het, het sy gou daarna begin sendingwerk doen. In 1990 het sy en Jaco mekaar ontmoet, en hulle is die volgende jaar getroud.

Jaco het in 2014 sy werk bedank en Lizette se klankman geword. Hulle bied ook huwelikskampe aan, en lof-en-aanbidding-werksessies.

Siek, haweloos, maar begenadig

Toe Lizette nou onlangs so siek was, moes Jaco haar voltyds versorg. Hulle was dus sonder ’n inkomste. Lizette vertel: “Ons het in daardie stadium op ’n plaas buite McGregor gewoon. Maar nadat die plaasbestuurder ’n hartaanval gehad het, moes ons ons blyplek verlaat.”

Hulle was haweloos, en het twee dae lank in ’n kampterrein gebly. “Terwyl ek op my ysterbed geslaap het, het ek die Here gevra waarom ons al hierdie dinge moes deurmaak. Ek het my lewe lank dan vir Hom gewerk!

“Daarna het die Heilige Gees my gelei om na Paulus se lewe te kyk. Só het ek geleer dat Paulus, ondanks al sy ontberings, telkens gekies het om God te dien.

“Intussen het Jaco my beloof dat ons sal gaan waarheen Jesus ons lei. En ek het besef ek is nie alleen nie, dat my man my rots is. Ek het ook besef dat die Here besig is om ons te louter, maar dat Hy ons nooit sal verlaat nie.”

Lizette en Jaco se seun Josua het gereël dat hulle drie maande lank in ’n klein woonstel in Vredendal kon woon. Ná die drie maande het hy vir meer permanente blyplek gesorg, weer op ’n plaas.

Lizette getuig: “Die Here het ons deur al hierdie tye gedra, en verlede jaar kon ons weer met ’n voltydse bediening begin.”

Optredes en albums

Lizette se musiek kan op die volgende albums gehoor word: “Genade onbeskryflik groot” (in 2004 opgeneem); “I Live for you” (2005) en “Koningskind” (2014). In 2016 het die album “Kyk met jou hart” die lig gesien. Haar jongste album is “Ek sien U orals om my”, met 15 nuwe liedjies daarop. ’n Hele klompie van haar liedjies kom uit Jaco se pen.

Magnify The Lord Ministeries gaan van krag tot krag. Lizette vertel: “Aanvanklik het ons kerke gekontak en gevra of ons die Woord kan kom bedien; deesdae stroom die uitnodigings in. Ons het ook al in Namibië opgetree.

“Die boodskap wat ons wil uitdra, is dat vergifnis, heling en hoop ’n werklikheid is. Ons praat oor trauma, oor verlies, en oor die ouer-kind-verhouding. Ons bring die boodskap dat die Vader se arms altyd oop is vir al sy kinders.”

*SCAS (Sport for Christ Action SA) is ’n organisasie wat by skole en in gemeenskappe optree, en deur middel van sport, kampe en leierskapprogramme die deelnemers bemagtig.

Kontak Lizette by mail@lizette.co.za /mtklank@gmail.com om ’n optrede te bespreek, of besoek haar webwerf by www.lizette.co.za.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
LiGland Kyk nou ►