Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Wanneer laas het jy jou bril skoongemaak?

Ek kan nie baie goed sien nie. Sonder my bril (of kontaklense) is ek effens gestrand.

En ek dink enigiemand wat ’n bril dra én kinders het, sal kan getuig dat klein, vetterige handjies dikwels vingermerke laat waar dit nie moet nie. My bril kan net nie skoon bly nie. Dit maak nie saak hoe ek soebat nie, daar is altyd iemand wat onverskillig daaraan vat.

Dan is daar dié speletjie: Een van die seuns sit my bril op en loop dan giggelend en voel-voel deur die huis, hande voor hom uitgestrek, kamma soos iemand wat nie kan sien nie.

Al hierdie prettighede het my onlangs laat dink aan oë en brille oor die algemeen, en aan die manier waarop ons kyk. Wat ons alles kan sien en nie kan sien nie, en hoe die vuil merke op ’n bril se lense ons sig beïnvloed.

Ek het weer Jesus se woorde in Matteus 5:8 gaan lees: “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”

’n Onverdeelde hart laat jou sién

Jesus sê hier dat daar ’n direkte verband tussen ons oë en ons hart is. Hy leer sy volgelinge dat wanneer hul hart volkome op Hom gerig is, hulle ook sy Vader sal raaksien.

LEES OOK: ‘God ís goed’ – boer beaam sy vrou se woorde ná haar dood

Dit blyk dus dat daar ’n seëning vir ons weggelê is wanneer ons hart rein is, op Hom gefokus, onverdeeld. Ons sien dan verder en meer as wat ons gedink het moontlik is. Wat ’n genade om nou sy hand in ons lewe te kan raaksien! Om eerstehands te ervaar hoe Hy Hom met ons bemoei.

Ons sien ook ons medemens en die skepping op ’n ander manier raak omdat ons hart nou anders geword het. Ons sien God se liefde oral om ons – in onsself, in ander, en in sy skepping.

Die ander kant is natuurlik ook waar: As ons hart onrein is, dit wil sê ongefokus en tussen baie dinge verdeel, word ons sig belemmer. Dan is ons visie vaag en dikwels verwronge. En hier is ’n voorbeeld daarvan, en die slegte, slegte gevolg: As ons haat en wraakgedagtes in ons hart dra, kan ons nie ons Vader sien nie. Gou is Hy nie meer vir ons ’n werklikheid nie. Ons hou Hom nie voor oë nie en hou nie met Hom rekening nie. Hy speel, wat ons betref, geen rol in ons lewe nie. Hoe arm is ons dan!

Dis élke dag se werk

Om nou ons beeld van vroeër verder te voer: Jesus nooi ons om die bril waardeur ons die wêreld bekyk skoon te maak sodat ons God behoorlik kan sien. Hy weet maar te goed dat geen mens se bril vlekkeloos is nie, en daarom vra Hy, soebat Hy: Maak dit tog skoon! Want dan sal jy beter sien. Toe, jong, doen dit, jy moet dit herhaaldelik doen!

Want om jou hart op te ruim is ’n daaglikse proses, en Hy weet dit.

Om dus ja te sê op Jesus se pleidooi, beteken dat jy jou op ’n bepaalde lewenspad begewe. Nou verklaar jy jou bereid om elke dag aktief ontslae te raak van dit wat jou hart en jou lewe onrein maak – al die negatiwiteit, haat, wraak, bitterheid en verwyte. Al daardie dinge wat jou sig belemmer en wat jou uitsig op God en sy planne vir jou lewe verduister.

As jou bril weer skoon is, sal jy agterkom dat God nie ver weg is nie. Dat Hy hiér is, van altyd af. Jy sal Hom sien in die mense wat om jou is; jy sal Hom in die gewone dinge van elke gewone dag sien; jy sal Hom in die grootsheid én die broosheid van sy skepping raaksien.

Toe, maak skoon daardie bril – en kyk ’n slag mooi! Die beloning is groot.

  • Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►