Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘God ís goed’ – boer beaam sy vrou se woorde ná haar dood

Danie Krige, ’n boer van Swartwater naby die Botswana-grens, het bly vashou aan sy siek vrou se woorde dat God goed is. Al moes hy alleen agtergebly en pa én ma vir twee jong kinders wees. Vandag getuig hy: “Selfs in die diepste pyn kan God nuwe hoop laat groei.” Hier is sy verhaal.

Toe die dokter sê dat my vrou Louise akute leukemie het, het baie dinge deur my kop geflits. Want wanneer jy die woord “kanker” hoor, is jy onmiddellik bang. Jy is veral bang dat die een met die kanker dit nie sal oorleef nie.

En ek het gewonder hoe ek pa én ma vir ons jong kinders Leané en Jarno kan wees.

’n Suster het vir my ’n nat lappie gebring omdat ek so geskok was. Maar Louise was rustig en kalm en het gesê: “God is goed.”

Die gesprek met die dokter het op 6 Januarie 2024 plaasgevind, en dit het ons lewe en wêreld in ’n oogwink verander. In die loop van daardie een gesprek het die lewe wat ons geken het soos handomkeer verander. Ons wêreld was nou vol hospitale, chemoterapie en onsekerheid.

Ek is ’n boer van Swartwater, op Suid-Afrika se grens met Botswana. Omdat ons so ver van groot hospitale af is, is die nege maande ná daardie gesprek grootliks in beslag geneem deur lang ritte tussen die plaas en Pretoria.

Later is Louise Kaapstad toe vir ’n stamseloorplanting. Ons het alles gedoen wat menslik moontlik was om haar gesond te kry, maar bowenal het ons aan God vasgehou.

’n 50%-kans

Louise se geloof het my gedra wanneer myne gewankel het. Sy het op ’n dag vir my gesê dat as sy net een mens nader aan die Here kan bring deur die manier waarop sy haar kankerpad hanteer, alles vir haar die moeite werd sal wees.

Die dokter het gesê die oorplanting bied haar ’n 50%-kans op oorlewing. Maar dit is die beste wat ons het.

LEES OOK: ‘Is Hy regtig ’n goeie God?’ – vrou se geloofspad van gebroke weduwee na aanbiddingsleier en pastoor

Terwyl Louise om haar lewe geveg het, moes die lewe op die plaas voortgaan. Ons twee jong kinders het my nodig gehad. My ma en my skoonma het ons wonderlik ondersteun. Daar was baie vrae, baie trane en baie oomblikke waarin ek eenvoudig nie geweet het wat om te sê nie. Dan het ons net gebid.

‘Die hemel is ’n lekker plek’

Ná die oorplanting het dit gelyk asof dinge beter gaan. Maar dit het nie lank geduur nie.

Louise het ’n week voor sy gesterf het met die kinders oor die dood en die hemel gepraat. Sy het aan hulle verduidelik dat die hemel ’n lekker plek is, ’n plek waar jy veilig voel.

Sy het vir Jarno gevra waar dit vir hom die lekkerste is, en hy het geantwoord: “By die skool, by my maatjies.”

Waarop sy gesê het dat dít is hoe die hemel is.

Ek onthou nog dat dié gesprek my ongemaklik laat voel het. Ek het nie toe besef dat sy eintlik besig was om die kinders voor te berei nie.

Kort daarna het allerlei komplikasies ontwikkel. En op 19 Oktober 2024 het Louise die Here van aangesig tot aangesig ontmoet. Dit was ’n maand voordat ons tien jaar getroud sou wees.

Eensklaps moes ek ’n rou-pad stap, en terselfdertyd sterk wees ter wille van twee jong kinders.

Dit was ’n seisoen vol vrae, hartseer en onsekerheid – maar ook ’n tyd waarin ek God se teenwoordigheid op ’n baie persoonlike manier beleef het.

Aanvanklik was die aande die moeilikste. Wanneer ek ons kinders so teen seweuur in die bed gesit het, het hulle gehuil omdat hulle na hul ma verlang. En as hulle eindelik geslaap het, was die eensaamheid baie swaar.

Een van die moeilikste dae was die keer toe ek Louise se as moes gaan haal.

Maar God het my elke dag genoeg krag gegee om telkens nóg ’n tree vorentoe te gee. Ek het ook besef dat ek moes besluit: Óf ek kan kwaad wees vir God, óf ek moet Louise se dood aanvaar en kies om Hom steeds te vertrou. Ek het die laaste opsie gekies.

Ons oggendgebede en nuwe hoop

Ons het ook gekies om dankbaar te wees. As ek en die kinders soggens by die plaashek uit is op pad skool toe, het ons begin bid. Ons het dankie gesê dat ons Louise in ons lewe gehad het, dat sy so ’n goeie mamma vir die kinders was en so ’n goeie vrou vir my.

Ses maande later het ek begin bid dat die Here weer iemand oor my pad stuur. Kort daarna het ek Anell ontmoet. Sy is ’n maatskaplike werker, en werk tans as ’n aanlyn projekbestuurder. Die liefde waarmee sy Leané en Jarno, nou onderskeidelik agt en nege jaar oud, aanvaar het, was ’n duidelike antwoord op my gebede.

Sy het nie probeer om Louise te vervang nie; sy het my en die kinders eenvoudig met onvoorwaardelike liefde en geduld omhels. Ons is in Desember 2025 getroud.

Ons mis Louise steeds. Sy sal altyd deel van ons verhaal wees. Maar God het ons gewys dat Hy nuwe hoop uit selfs die diepste pyn kan laat groei.

As daar ’n boodskap is wat ek graag aan ander sal wil oordra, is dit dié een: Hou vas aan God, selfs wanneer jy nie sy plan verstaan nie. Hy is naby ’n gebroke hart. Hy dra ons wanneer ons nie meer kan nie. En op sy tyd bring Hy nuwe lig, hoop en genade.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►