Dis een van my plesiertjies in die lewe: Nadat ek soggens opgestaan het, gaan sit ek met my koppie koffie op die stoep. Terwyl ek die koffie drink, luister ek na die voëltjies wat in die bome sing. Soms sien ek blouapies wat tussen die takke baljaar, en ander kere glip ’n bosbok stilweg agter die bome verby.
Deesdae is my rustige stoepsit-oomblikke egter dun gesaai, maar dalk maak ’n vol program die geleenthede wanneer ek wel rustig kan wees soveel kosbaarder. Vanoggend het die winterson op die graspolle geskyn sodat die doudruppels soos diamante geblink het.
Toe dink ek aan Deuteronomium 33:8. In dié hoofstuk spreek Moses ’n laaste seën uit oor sy mense voordat hulle die Beloofde Land binnegaan. Die leier kyk terug op die reis, op hul wonderbaarlike bevryding uit Egipte, op die moeilike jare in die woestyn en op God se troue sorg. Hy kyk ook vorentoe na die land wat God aan hulle belowe het. Dan sê hy: “Israel het veilig gewoon; die fontein van Jakob was afgesonder in ’n land van koring en nuwe wyn, en sy hemel drup dou.”
Wat ’n besonderse beeld!
LEES OOK: ‘Hoe kon ek God 74 jaar lank ignoreer?’ – ongelowige kom wonderbaarlik tot bekering
Ná die uitmergelende woestynreis wag daar ’n tyd van rus en veiligheid. Die “fontein van Jakob” verwys na ’n standhoudende bron van lewe. Daar is koring en nuwe wyn. Vrugbaarheid en oorvloed. En dan: “Sy hemel drup dou.”
Sorg uit die hemel
Dit reën nie dikwels in ’n woestyn nie, en daarom is dou so belangrik. Om nou te lees dat dou uit die hemel kom, is ’n troos sonder weerga. Hier is sprake van ’n sagte, deurlopende voorsiening. Die hemel se fyn druppeltjies sorg.
Selfs in die Beloofde Land, waar koring en wyn in oorvloed is, waar daar veiligheid en rus is, bly Israel afhanklik van die hemelse dou. Hulle moet weet dat die lewegewende opbrengs uiteindelik nie uit die oesland kom nie, maar vanuit God se voorsienigheid voortkom.
Wat my in dié Deuteronomiumvers tref, is dat Moses nie van die dou praat as deel van die woestynreis nie, maar as deel van die Beloofde Land se seën. Die seisoene kan maar verander, maar die Bron van die seën staan vas.
Dié waarheid geld tot vandag toe.
Ons dink dalk dat ons God die nodigste het gedurende die woestyntye in ons lewe – tydens droogte, verlies, onsekerheid of terwyl ons wag. Dan bid ons ernstig vir uitkoms en verkwikking. Maar die waarheid is dat ons Hom net so nodig het wanneer ons oorvloed beleef, wanneer die koring geil op die lande staan en die wynvate vol is. Wanneer ons veilig woon. Wanneer ons wense vervul en ons gebede beantwoord word.
Dis ’n waarheid vir altyd en in alle omstandighede: Die dou kom uit die hemel.
Maklik om mis te kyk
Dou kom stil. Daar is geen trompetgeskal nie, geen donderslae of weerligstrale nie. Geruisloos val dit in die nag. En jy sien dit nie gebeur nie. Dis eers wanneer die son opkom dat jy ontdek dat elke grasspriet met klein juwele bedek is.
Niemand staan soggens op en bewonder die dou omdat dit so indrukwekkend geval het nie. Tog sien ons die uitwerking daarvan oral waar ons kyk.
Dikwels sorg God ook só vir sy kinders: Nie altyd deur dramatiese ingrypings nie en nie altyd op maniere wat dadelik ons aandag trek nie, maar deur sy stille, volgehoue voorsienigheid dag ná dag. Hy gee ons krag vir elke dag. Hy gee ons wysheid om die regte besluit te neem. Hy gee ons vrede in moeilike omstandighede. Sy Woord aan ons is ’n vriendelike woord van bemoediging op die regte tyd. Sy genade is vir ons genoeg.
Dis maklik om dit mis te kyk – dis dan so gewoon! Eers wanneer ons op ’n pas afgelope fase of ’n lang seisoen terugkyk, besef ons hoe God se sorg ons elke dag gedra het.
Hy gee sonder dat jy vra
Gras vra nie vir dou nie. Dit spreek nie ’n behoefte aan vogtigheid uit nie. God gee dit omdat Hy wil en omdat Hy weet.
Dit bly ons troos: Hy gee vir sy kinders sonder dat hulle vra. Want Hy wil. En Hy weet wat hulle nodig het nog voordat hulle dit vra.
Wat ’n troos om te kan glo dat God onvoorwaardelik sorg, of jy nou deur ’n woestyn moet trek en of jy in ’n land vol oorvloed leef. Die hemel drup dou.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.





















