Toe die 13-jarige Frederick Meyer op ’n bus geklim het om by sy oupa in Hartenbos te gaan kuier, het hy uitgesien na heerlike familietyd. Hy het nie geweet dié besoek sou ’n skielike opname in ’n hospitaal inhou nie, en nog minder ’n diagnose van ’n seldsame soort breinkanker.
“Ek was oukei, want ek het geweet God is by my.”
Frederick, ’n graad 6-leerling aan Laerskool Hugo Rust op Wellington, praat in ’n plaaslike koffiewinkel oor die klompie wilde maande wat hy agter die rug het. Op sy arm is ’n pleister, ’n aanduiding dat hy pas laat bloed trek het. As sy witbloedtelling na wense is, gaan hy vandag, 27 Oktober, begin met sy laaste chemoterapie-sessie.
‘Ek het geweet God is by my’
Frederick vertel hoe oupa Hermé Zietsman (72) tydens die kuier opgemerk het iets skort toe sy kleinseun skielik van hewige hoofpyne begin kla en erge uitbarstings gekry het.

Dié twee se lekker saamwees is eensklaps kortgeknip sodat die dokters by die naaste hospitaal kon vasstel wat aan die gang is. Hulle het aanvanklik vir breinvliesontsteking getoets. Frederick sê dié ervaring is bo-aan die lys van die moeilikste dinge wat hy tot dusver moes deurmaak. “Ek was ’n bietjie ontsteld en het gehuil omdat my ma en pa nog nie by my was nie.”
Frederick se ma Amé onthou hoe die dokter gebel het nadat vasgestel is dis ’n hewige drukking in Frederick se brein wat al die pyn veroorsaak. “Die neuroloog het gesê ons moet sorg dat ons so gou moontlik daar kom, die breinvog-drukking was lewensgevaarlik. Hy het bygevoeg dat hy nie graag in daardie gedeelte van die brein wil werk nie, maar dat hy in dié geval geen keuse het nie.”
Amé, ’n leerder-ondersteuner, en haar man Freddie, ’n lektor, het dadelik ’n klompie noodsaaklikhede in die motor gepak en George toe gery. Daardie aand omstreeks 19:45 was hulle langs hul enigste seun se bed in George Mediclinic.

Kort ná 22:00 is Frederick teater toe sodat die breinvog gedreineer kon word. Tydens die operasie is daar ook nege biopsies gedoen. Die vog het egter nie na wense gedreineer nie, en ’n volgende operasie het gevolg. Dié keer is ’n shunt ingesit om met die dreinering te help.
‘Dis net deur die Here se genade …’
Hulle moes toe twee volle weke op ’n diagnose wag. Uiteindelik het die nuus gekom: Frederick het ’n seldsame soort breinkanker, germinoom. Dié soort kanker ontwikkel uit misplaaste kiemselle wat in die brein vasgevang bly.

Die afgelope klompie maande is Frederick onder die wakende oog van ’n onkoloog, dr Riedemann, by Cape Gate Mediclinic behandel. Daar was reeds drie chemoterapie-sessies. Frederick vertel: “Ek het dadelik gewonder of die soort kanker wat ek het skaars is, en my dokter het gesê dis báie skaars. Toe voel ek nogal spesiaal …
“Maar gelukkig kan die gewas behandel word,” glimlag Frederick. En sy ma voeg by: “’n Germinoom is kwaadaardig, maar dit kan suksesvol behandel word. Dis net deur die Here se genade dat ons tot dusver elke dag kon face en fight.”
LEES OOK: Hoofmeisie met kanker: ‘Wonderwerke gebeur vandag nog’
Dié ma hou ook vas aan ’n “reënboog-belofte” wat hulle gekry het toe hulle destyds by die Mediclinic in George se hek uitgery het. “Ek het net gewéét dis ’n belofte van God dat alles oukei sal wees.”
Frederick se geheim om kanker te oorwin
Frederick sê almal se omgee en gebede het hom tot dusver gedra. Dit sluit die personeel by ’n plaaslike koffiewinkel in, en die leiers van Hugenote Hoërskool in Wellington, asook ’n haarkapper wat hom voorgekeer het om vir hom te bid. Hy vertel: “As mense vir my bid, voel dit asof Jesus sy hand op my skouer sit.”
Amé is vol lof vir haar seun, en oor hoe hy die situasie hanteer. “Hy is nie bang nie, en hy is steeds, soos altyd, vol grappies.”
Al is daar ná die chemoterapie lankal nie meer ’n enkele haar op sy kop nie, sê hy soms iets soos: “Ek moet nog net my hare kam, dan is ek reg!” Hy verwys ook na homself en ander kankerpasiënte as “ons bleskopmense”.
Frederick het heel onlangs een van die hoofrolle in die skoolkonsert losgeslaan. Ten spyte van die moegheid wat hy dikwels ervaar het, het hy nie ’n enkele oefening misgeloop nie. “Ek het besluit ek sal fight en voortgaan, al voel ek sleg.”

En vroeg in Oktober het hy as “Prof Pernicol” in “Kallie en die kleurkristalle” op die verhoog gestap. Een van sy beste maatjies, Simeon Olivier, sou vir hom instaan as hy dalk te sleg sou voel. Daar was twee opvoerings, en uiteindelik het elkeen ’n kans gekry om hul staal te wys.
Frederick se raad aan ander kankerpasiënte strook met sy ingesteldheid. Hy sê: “Bly positief. Dis die geheim om kanker te oorwin. En moenie die lorrie stop nie! Hou net aan, en gaan net voort.”

Ná die laaste chemoterapie-behandeling wag daar nog 15 bestralingsessies op hom. Maar in sy geestesoog sien hy reeds hoe hy in die Desembervakansie by sy oupa in Hartenbos kuier.
“Ons het al ons familietyd gemis toe ek siek geword het. Dié keer gaan ons lekker kuier!”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.






















