Toe Jenny Pretorius 13 jaar oud was, het haar ma haar by ’n skoolvriendin afgelaai. Dit was veronderstel om net vir die naweek te wees. Maar sy het nooit teruggekeer nie. Dit was die begin van ’n lang pad van verlies en onsekerheid. Jare later sou Jenny weer met verwoestende verlies gekonfronteer word. Deur haar pyn moes sy leer wat vergifnis beteken, en hoe om God te vertrou om haar gebroke hart te genees. Hier is haar verhaal.
My pa, vir wie ek baie lief was, is oorlede toe ek nege jaar oud was. My ma is weer getroud, en dié keer met ’n gewelddadige man. Hy het haar erg mishandel.
Sy het ’n drankprobleem ontwikkel wat tot gevolg gehad het dat sy nie ’n werk kon behou nie. Ons het uiteindelik alles verloor. In ’n poging om te gaan werk soek, het sy my en my halfboetie by vriende afgelaai.
Toe sy ná ’n ruk nie terugkeer nie, het my vriendin se ma die welsyn geskakel. Die maatskaplike werkers het besluit ons moet skool toe gaan terwyl hulle na my ma soek. Ons het nie skoolklere of enige ander skoolbenodigdhede by ons gehad nie.
Op ’n dag het ek ná skool by ons vriende se huis aangekom – en gevind dat my boetie weg is. Dit het geblyk dat my ma hom kom haal het. My bababoetie was steeds in my ma se sorg, wat my baie bekommer het.
LEES OOK: Gebroke ‘kinderhuiskind’ vind vrede: ‘Dis my kans om terug te gee nadat ek soveel seën ontvang het’
Die maatskaplike dienste het my ma uiteindelik opgespoor en ’n hofsaak het gevolg. Nadat sy drie keer nie by die hof opgedaag het nie, is ek onder die staat se voogdyskap geplaas.
Weer in ’n gesin
’n Vriendin van my ma het aangebied dat ek by haar kon gaan bly eerder as in ’n kinderhuis.
Maar ’n klompie jare later het sy versoek dat ek ’n ander heenkome moet soek omdat sy haar plig teenoor my nagekom het. Ek het nêrens gehad om heen te gaan nie, maar God het ingegryp en ek het ’n tuiste by my Sondagskoolonderwyseres gekry.
Dit was vir my soos om weer aan ’n gesin te behoort. Ek is gekoester en soos ’n eie kind versorg.
Weersin en vergifnis
Ek het jare lank ’n groot weersin in my ma gehad. Daar is aan my gesê dat ek haar moet vergewe vir wat sy aan my gedoen het. Ek kon nie begryp hoekom ek moes vergewe nie. Volgens my het sy mý ’n verskoning geskuld.
Ek het later geleer dat hoewel iemand wat teen my oortree nie my vergifnis verdien nie, ek ook nie verdien om onder hierdie onvergewensgesindheid te ly nie. Ek het in daardie stadium nie eens geweet waar my ma is nie; ek was dus die enigste mens wat onder so ’n gesindheid gely het.
Ek het haar jare later gesien toe ek my halfbroer raakgeloop en hy my na haar geneem het. Dit was toe vir my moontlik om haar te vergewe. Ek het vry geword van dit wat sy aan my gedoen het, en ek kon haar vryspreek.
My vergifnis was nie noodwendig om my pyn minder te maak nie, maar om daardie pyn aan God te gee om te genees. Dit het vir my die pad oopgemaak om liefde te kon ontvang en genesing te kry. Ek het dit so bitter nodig gehad.
Uiteindelik geborge, maar toe …
Jare later is ek met Chris getroud, die liefde van my lewe. Hy het vir my die geborgenheid gebied waarna ek soveel jare gesmag het.
Ons gesin het die Here geëer. Ek het ’n hardwerkende eggenoot en twee pragtige kinders gehad. Diep binne my was ek wel nie so gelukkig soos wat ek moes wees nie, en ek het ’n spirituele reis begin in ’n poging om my van die pyn in my te genees.
Ek en Chris was 28 jaar getroud toe ons een aand by die huis aangekom het ná my skoonseun se verjaardaggeselligheid. My man het uit die motor geklim om die hek oop te sluit.
Iemand het toe in die motor gespring en my handsak gegryp. Hy het my aangesê om uit te klim. Voor ek dit kon doen, het ’n tweede man verskyn en ’n wapen op Chris gerig. Hy het my man beveel om na my kant van die motor te stap. Daarop is Chris teen die grond gedruk en geskiet.
Die boosdoener het my man se liggaam eenkant toe gegooi en my uit die motor geruk. Hulle het toe weggery.
Wonder bo wonder het Chris nog gelewe. Hy het baie gebewe. Minute later het ’n ambulans daar aangekom. Vanweë die groot hoeveelheid bloed wat Chris verloor het, moes hulle hom met ’n lug-ambulans na die naaste hospitaal haas. Daar is ure lank op hom geopereer, maar die soort patrone wat deur die skurke afgevuur is, het groot skade aangerig. Feitlik al Chris se organe is verwoes.
Hy het nog ses weke lank geleef, en toe ná ’n hartaanval gesterf.
Trauma en bevryding
Dié trauma het ’n enorme impak op my gemaak. Dit het kompleet gevoel asof ek in ’n groot swart gat aftuimel. Ek was absoluut oorweldig en het gedeeltelike geheueverlies ontwikkel. Ek kon dikwels nie onthou hoekom ek op ’n spesifieke plek was of wat ek daar gaan maak het nie. Ek kon soms nie my eie motor in ’n parkeerterrein herken nie. Ook my adres en my selfoonnommer het my ontgaan. Dan het ek iewers op ’n rustige plek gaan sit, met die hoop dat die geheueverlies sou verbygaan.
Voordat Chris geskiet is, het ek reeds aan myself erken dat my verhoudig met God vervlak het. Medegelowiges sou gereeld God se stem hoor, maar ek nie. Ek moes leer dat ek God nie van ’n afstand af kon aanbid nie. Dat ek ’n intieme, persoonlike verhouding met Hom moes nastreef. Hierdie bewustelike verbintenis met die Here het my baie gehelp. My swakheid is deur God se krag vervang.
Trauma kan jou oorweldig en jou wegneem van die hoop wat die lewe jou bied. Dawid skryf: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my. U stok en u staf die vertroos my” (Ps 23:4).
Om te leer om my negatiewe gedagtes en emosies aan myself te erken, was nie maklik nie. Ek was te gewoond daaraan om dit te ignoreer en in my binneste te bêre. Maar dit, het ek uitgevind, was nie die pad na bevryding nie.
Charles Swindoll het eens gesê: “God is nie verantwoordelik vir die dinge wat pyn veroorsaak nie, maar Hy is die Voorsiener van alle genesing.”
Dit is volgens hiérdie waarheid wat ek vandag leef.
- Jenny is 76 jaar oud en woon in Boksburg.
*God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf. Jóú ondersteuning gaan ons help om ons getuienisvoetspoor te vergroot. Klik hier om te help.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















