Sy is as “kinderhuiskind” gebrandmerk – sondebok in die skool, ’n vermeende dief. Sy het soms gedink sy sal nooit goed genoeg wees nie. Maar die Here het Hom oor haar ontferm, en ná ’n lang pad werk sy vandag as fondswerwer vir die kinderhuis in Robertson. Sy het vrede gevind, en genesing.
DEUR DEONETTE DE KOCK
Petro Uren (55) is as sesjarige dogtertjie uit haar ouerhuis gehaal en in ’n kinderhuis geplaas. Haar ma het nie geld gehad om vir haar te sorg nie.
“My ma het gesukkel om die pot aan die kook te hou,” vertel Petro. “Daar was vyf kinders. Soms het ons nie kos gehad om te eet nie, veral saans. Ek het nie gelukkige herinneringe aan my kinderjare nie, ook omdat my pa te diep in die bottel gekyk het.
“Toe my pa oorlede is – hy het vir die destydse Spoorweë gewerk – is ons uit die huis uit. My drie jonger boeties is in pleegsorg geplaas, en my ouer suster en ek in ’n kinderhuis. Ek onthou hoe oorweldig ek gevoel het, en hoe angstig ek was toe ons deur die groot gebou se hekke gery het.
“Dit was asof niks meer saakgemaak het nie. Saans het ek in my bed gelê en huil. Ek het heeltemal verlore gevoel. Dit was ’n nagmerrie, wat ek gehoop het gou sou verbygaan.”
‘Om nie teen die prikkels te skop nie’
Petro is in ’n huiseenheid ingedeel, waar sy saam met tien ander dogters gebly het. Almal het uit dieselfde soort omstandighede gekom. Elke huiseenheid het ’n “huismamma” gehad.
“Ek moes leer om nie teen die prikkels te skop nie,” vertel Petro. “Jy sou net jou lewe baie ingewikkeld gemaak het. Ek moes help om ons eenheid skoon te maak. Ek was klein, maar dit was geen verskoning nie – al moes ek op ’n tamatiekissie staan om te kon skottelgoed was. Ons almal se knieë het ook merke gehad van vloere vryf, want naweke moes ons behoorlik inspring om huis skoon te maak.”
Dit was moeilik om altyd positief te bly. “Veral as mense jou oordeel bloot omdat jy in die kinderhuis bly, al ken hulle jou nie. Dit was die swaarste: die persepsie wat mense van jou het. Die etiket wat hulle om jou nek hang.”
By die skool het dit nie veel beter gegaan nie. “Die ander kinders wil nie in jou geselskap gesien word nie omdat jy ’n kinderhuiskind is.”
Petro vertel daar was sommige personeellede wat haar ’n sondebok gemaak het omdat sy in die kinderhuis was. “Een onderwyser het my elke oggend in die hoekie laat staan, al het ek niks verkeerds gedoen nie. Raak ’n potlood weg, word gesê dis die kinderhuiskind wat dit gesteel het.”
Op die laaste dag van haar graad 7-jaar het die laerskoolhoof aan haar gesê sy moet onthou dat haar verlede altyd saam met haar sal gaan. “Ek het daardie dag ’n besluit geneem dat ek die teendeel sal bewys. Daardie woorde het my geïnspireer om ’n beter lewe vir myself te skep.”
‘Om uiteindelik net myself te kon wees’
“Toe ek op skool was, het ek die Here kwalik geneem. Hoekom laat Hy dit toe? Hoekom moes ek in sulke omstandighede lewe? Ek wou tog net ’n gewone gesinslewe gehad het …
“En hoewel ek geweet het daar is ’n Here, en tot Hom gebid het, het ek toe nog nie my hart vir Hom gegee nie.”
Petro vertel sy het vakansieouers gehad wat op ’n plaas gebly en wat haar baie ondersteun het. “Hulle het my leer kos kook toe ek 14 was. Ek is oneindig dankbaar vir die lesse wat ek by hulle geleer het.
“Ek het nie regtig ’n verhouding met my ma gehad nie. Ek het haar wel nooit kwalik geneem dat ek in die kinderhuis was nie; ten minste het ek ’n warm bed gehad, en genoeg kos, en ek kon skool toe gaan. Ek het dit as ’n voorreg beskou.”
Petro vertel dat sy ’n introvert is, en dat sy daarom besonder dankbaar was toe Mariaan Kitching haar onder haar vlerk geneem en gratis dramaklasse aangebied het. Dit het haar baie selfvertroue gegee, ook toe sy later aan kunswedstryde deelgeneem het.
“Ek het besluit om my ná matriek as maatskaplike werker te bekwaam. Naweke het ek by Spar gewerk vir ekstra sakgeld, en die kinderhuis was bereid om vir my vier jaar-graadkursus te betaal. Dit was wel ’n lening en ek sou dit moes terugbetaal.
“Ek kon by Hugenote Kollege in Wellington studeer. Dit was heerlik om uiteindelik net myself te kon wees; daar was nie meer die etiket van ‘kinderhuiskind’ nie.
“Die jare in die kinderhuis het my emosioneel sterk gemaak. Maar omdat ek ook baie seergekry het, het ek as ’t ware ’n muur om my gebou om my te beskerm. In my tweede jaar is ek as studenteraadslid gekies. Naweke het ek by ’n restaurant gewerk.”
‘Om volkome op die Here te vertrou’
Petro het diep gelowige vriende gehad, mense wat hul geloof uitleef. Sy wou ook daardie soort vrede hê en het besluit om haar lewe aan die Here oor te gee. Om vorentoe te kyk, om die verlede agter te laat.
“Dit was asof ’n las van my skouers afgeval het. Dit was wonderlik om te weet ek kon enige tyd met die Here praat, my vrese en hartseer met Hom deel. Om te weet dat Hy my weg bepaal en dat ek op Hom kan vertrou, maak die lewe net soveel makliker.”
In haar derde jaar by Hugenote Kollege, toe sy met die praktiese deel van haar kursus begin, het Petro besef dat sy steeds baie emosionele bagasie het. Te veel om ander mense te help. Daarom het sy ná haar derde jaar haar studies gestaak. Sy moes daarna baie hard werk om fondse bymekaar te kry sodat sy ’n twee jaar-kursus as mediese sekretaresse by Boland Kollege kon voltooi.
Sy het werk gekry by ’n oor-, neus- en keelspesialis in Stellenbosch, en sy kon al haar studieskuld aan die kinderhuis terugbetaal.
Ná ’n huwelik van 21 jaar is Petro geskei. Haar twee pragtige kinders, Rigard (26) en Anri (24), is haar hele lewe, sê sy.
Petro het 16 jaar lank by die mediese praktyk gewerk voordat ’n pos as fondswerwer by ’n kinderhuis oor haar pad gekom het. “Ek het gevoel hiér is my kans om iets aan kinders terug te gee, omdat ek soveel seën ontvang het. Vandag, 16 jaar later, is ek steeds die fondswerwer by die Herberg Kinderhuis op Robertson. Ek het ook hier besef dat jy niks in jou lewe kan aanpak as jy nie ’n pad met die Here stap nie. Om te glo, is maklik. Maar om volkome op die Here te vertrou, is iets anders. Dit maak al die verskil in die wêreld.
“Ek was glad nie opgelei vir die werk nie, en moes miljoene rand insamel. Maar die Here het werklik deure vir my oopgemaak sodat ek ’n verskil kon maak.
“Ek het ontslae geraak van my emosionele bagasie nadat ek hier begin werk het. Ek is genees. Ek kon aan die kinders wys dat ek uit dieselfde omstandighede as hulle kom. Dat daar hoop is, mits die wil en ondersteuning daar is. Dit was asof die Here vir my ’n pad voorberei het om hier te wees. Hy wys my telkens dat my tyd op aarde nog nie verby is nie.”
‘Ek glo in wonderwerke’
“Ek moes onlangs verneem ek het borskanker. Ek het een nag wakker geword met my hand op my bors, en ek het ’n knoppie onder my vingers gevoel. Die knoppie kon verwyder word; dit het nie versprei nie. Ek begin later in Januarie met chemoterapie, en ek sal ook hierdie pad stap met my hand in die Here s’n.
“Ek glo in wonderwerke, ek sien dit elke dag. As een deur toegaan, maak Hy ’n ander een oop.
“Die Here het my lewe lánk vooruit beplan. Daar is geen krisis wat ek nie saam met Hom kan hanteer nie. Hy gee altyd hoop, Hy bied ’n uitweg. My geloof het met verloop van tyd net sterker geword; Hy het my nog nooit teleurgestel nie.
“Ek is vandag waar ek moet wees.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.