Net toe ons gedink het ons harte is propvol, toe verras die Here ons opnuut.
Toe ons verlede jaar ons infertiliteit-verhaal met LiG se lesers gedeel het, het ons teruggekyk op een van die moeilikste seisoene in ons lewe.
Dit was ’n tyd van wag, vrae, gebede en teleurstellings. Soos soveel ander paartjies wat met infertiliteit worstel, moes ons leer om God te vertrou wanneer die antwoorde nie kom op die tyd en manier waarop ons gehoop het dit sou nie. Ons dae was vol vrae en teleurstellings en trane. En baie gebede.
Dit was ook ’n tyd van hoop en volharding, en van God se genade. Ons het net nie besef hoe relevant daardie les nog sou word nie …
’n Tweede wonderwerk
Destyds kon ons terugkyk en sien hoe God ons deur die moeilike seisoen gedra het. Vandag kyk ons weer terug, maar vanuit ’n heel ander plek: Ons tweede wonderwerk-baba was op pad! God het weer eens sy trou aan ons geopenbaar.
Wat hiérdie swangerskap vir ons so besonders gemaak het, was dat dit gekom het toe ons dit die minste verwag het. Ná die stryd om met Daneil (nou 19 maande) swanger te raak, het ons geweet dat niks vanselfsprekend is nie, en ons het aangeneem dat so iets nie gou weer sou gebeur nie. Maar ons was dankbaar vir die geskenk wat ons ontvang het, en tevrede.
Toe verras God ons. Ons het nie eens probeer swanger raak nie! Dit het net gebeur – sonder beplanning, spanning of afwagting. Ons het nie die maande afgetel nie, en ook nie voortdurend gewonder of hiérdie maand die een sou wees nie.
Die Here het gewys dat slegs Hy die Skepper is, die Gewer van lewe. En dat sy tydsberekening altyd volmaak is.
Toe ek die positiewe swangerskaptoets sien, het ek onmiddellik teruggedink aan die jare toe ons so gewag het. Die maande vol hoop en vol teleurstelling. Die gebede wat soms gevoel het asof dit bloot die plafon tref. Die dae waarop geloof ’n daaglikse keuse moes wees.
En eensklaps het dit wat eens onbereikbaar gevoel het, weer gebeur. Nie volgens ons plan nie en nie volgens ons tydlyn nie. God het dit beplan en bepaal.
Kleinboet Jeanru Taljaard is toe gebore. En ons staan weer in verwondering voor die Here.
Om Hom te vertrou, want Hy is in beheer
Dit het ons nogmaals herinner aan een van die grootste lesse wat infertiliteit ons geleer het: God is in beheer van die wagtyd, en Hy is eweneens in beheer van die wonderwerk daarna. Ek was oorweldig deur sy goedheid en guns, en my hart het gejubel.
Wanneer ons moeilike tye deurmaak, wil ons dikwels weet wanneer dinge dan gaan verander. Ons soek antwoorde, tydlyne en sekerhede. Die Here nooi ons egter om Hom te vertrou, selfs wanneer ons nie die uiteinde kan sien nie. Ons eerste kind het op die regte tyd gekom, en so ook ons tweede kind.
Albei is vir ons wonderwerke. Albei herinner ons daaraan dat ’n kind ’n geskenk uit God se hand is.
Die groot wonderwerk is nie net die kinders waarvoor ons gebid het nie; dit is ook die geloof wat God in ons gevorm het gedurende die wagtyd. Hy het ons geleer om op Hom te vertrou wanneer die antwoord “nog nie” was.
Hier is dan ons boodskap vir elke paartjie wat vandag nog wag: Moenie moed opgee nie. Ons verstaan die vrae. Ons onthou die teleurstellings. Ons onthou hoe moeilik dit is om aan hoop vas te hou.

Die God wat ons in die wagtyd gedra het, is dieselfde God wat ons pas met nuwe lewe verras het. Ons reis was nog altyd tot sy eer. En met ’n gesin van vier, met harte wat voller as ooit is en met oë wat op Hom gevestig is, is ons daarvan oortuig dat die mooiste hoofstukke nog voorlê.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.























