Ons verhaal begin soos dié van enige gewone paartjie. Ek en my man Jean-Louis Taljaard het mekaar op universiteit ontmoet en is al sedert 2013 saam. In 2019 het ons ons sprokiesbruilof gevier en in Junie 2022 het ons besluit ons is gereed vir die groot stap om ’n eie gesin te hê.
Ek wou nog altyd ’n mamma wees. Dié begeerte het reeds as klein dogtertjie as ’t ware soos ’n kool vuur in my hart gebrand. Ongelukkig is hierdie droom nie so gou bewaarheid nie …
Geduld was nog nooit my sterkpunt nie, en ná ses maande se pogings om swanger te raak het ons ’n afspraak by my ginekoloog gemaak. Ek was so angstig; ek was daarvan oortuig daar is fout. Dit was ’n nare ondervinding, ook omdat die dokter die indruk geskep het dat ek van lotjie getik is. Al die simptome of pyne wat ek opgenoem het, is geïgnoreer.
Ons het weer en weer probeer swanger raak, tevergeefs, en ná ’n jaar het ons ’n tweede mening ingewin.
LEES OOK: ‘Ons moes Lean groet, maar Leben het terugbaklei’
Die ontmoeting wat my lewe verander het
’n Ginekoloog en fertiliteitspesialis het oor my pad gekom, en dié het toe besluit om verdere ondersoek in te stel. Daar is ’n mioom met bloeding in my baarmoeder ontdek.
Maar vir die eerste keer het ek hoop gehad, want dalk, net dalk, was dit die antwoord waarop ons so lank gewag het. Vol verwagting het ek in Junie 2023 ’n laparoskopie laat doen om die mioom te laat verwyder.
Dit was egter bloot die begin van my infertiliteitsreis. Ons het die slegte nuus gekry dat ons deel van die statistiek is wat as “onverklaarbare infertiliteit” aangedui word. Ditbeteken dat daar geen mediese rede is waarom ons nie kan swanger raak nie. My lyf het alles gedoen wat dit moes om ’n babatjie te kan hê.
Eendag, kort hierna, het ’n vriendin vir my ’n skakel na ’n potgooi gestuur met dié boodskap daarby: “Wanneer jou hart kans sien, luister hierna.”
Ek het vir seker kans gesien, en geluister. Dit was Nina Coetzer van GrootFM 90.5, wat haar getuienis met luisteraars gedeel het oor hoe die Here, ná ’n twee jaar lange stryd, haar en haar gesin gehelp het. Nina se storie het soveel nuwe hoop gebring. Ons het mekaar ontmoet, en tot vandag toe bewonder ek haar en ek koester die spesiale vriendskap wat tussen ons ontwikkel het.
Daar word geprofeteer oor ons kind
Net soos Samuel se ma Hanna het ek by die Here se voete gepleit vir ’n kind. Elke vrou wat na ’n baba smag, sal kan vertel hoe seer dit is om maand ná maand te bly hoop op ’n positiewe swangerskaptoets. In Junie 2023, tydens ’n vroueaand by ons kerk, het ek die boodskap gekry dat die Here besig is om ons voor te berei en in ons te werk. Dat ons gereed moet wees om ’n sterk leier vir Hom groot te maak.
Die maande het gekom en gegaan. Ons het gewag en gewag. Niks het gebeur nie. Ek dink nou terug aan al die trane wat ek op my man se skouers gestort het, want dit was nog nie ons beurt nie.
Op 5 Oktober 2023, drieuur daardie oggend, het die Here Jeremia 1:5 vir my gegee: “Ek ken jou van altyd af. Van voor jou geboorte af het Ek jou gekies en aangestel om namens My met die nasies van die wêreld te praat.”
Maar steeds het ons gewag. Later het ek met die Here begin baklei. Waarom laat Hy my so lank wag? My vriendinne raak almal swanger, en ek kan net toekyk en die pyn probeer wegsteek. In dié tyd het ek geleer dat twee dinge tegelykertyd waar kan wees: Jy kan bly wees vir iemand anders se onthalwe; jy kan terselfdertyd stukkend wees in jou binneste.
‘Neem die begeerte weg, Here!’
Een aand, iewers in Junie 2024, het ek by die Here gehuil en gesê: “Ek is nou klaar, ek gee op!” My hart kon nie meer die seer dra nie, en ek het die Here gevra om die begeerte na ’n kind uit my hart weg te neem. Dit was byna twee jaar se teleurstelling en toenemende gebrokenheid wat ons saam met ons moes dra, en dit het nou te veel geword.
En toe, sommerso, net die volgende maand, word ons onophoudelike gebede beantwoord: Ek het uitgevind ek is swanger. En ek het besef dat Samuel destyds op ’n baie spesifieke tyd in die geskiedenis gebore moes word, nie vroeër nie en ook nie later nie. Hanna moes op ’n plek kom waar sy bereid sou wees om Samuel deur die ou priester Eli in die tempel te laat grootmaak. Die Here het ’n plan met daardie ma en kind gehad, en so, dit glo ek, het Hy ook ’n plan met my en my kind.
Een aand in Augustus 2024 het ek gedroom van ’n lang, maer donkerkopman. ’n Sterk leier van God, wat die volk na die ewige lewe lei. “Ds Daniel Taljaard” het op sy preekstoel-bordjie gestaan. Sy gees was sagmoedig en kalm terwyl hy uit die Woord voorgelees het. Na afloop van die diens het hy ons “ma” en “pa” genoem.
Ek het geweet die Here het reeds sy naam én sy roeping vir hom gekies.
Kort daarna, in Oktobermaand, het ons uitgevind dat ons wonderwerkbaba ’n seuntjie-lyfie is, net soos wat die Here dit in my droom aan my geopenbaar het. Ons het besluit om hom Daneil te noem, afgelei van Daniël.
Daneil Louis Taljaard maak vanjaar in Maart sy opwagting.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.