Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

#1‘God gaan jou vernietig as jy ongehoorsaam is’ – Paartjie lig die sluier ná jare in ’n geslote geloofsgemeenskap

Rowan Engelbrecht (38) en sy vrou Tascha (39) het in ’n geslote geloofsgemeenskap met baie streng reëls grootgeword. Jare lank het hulle geglo dat hulle deel van ’n groep uitverkorenes is.

“Dit was nie iets waarvoor ons gevra het nie,” vertel Rowan. “Dit was die wêreld waarin ons gebore is, die enigste waarheid wat ons geken het. Ons is van kleins af gebreinspoel, en ons was daarvan oortuig dat ons anders as die res van die wêreld is.”

Hulle het geglo dat hulle besonders is, en deel van die enigste groep mense wat die waarheid ken. Hulle was trots daarop dat hulle uitverkore is en het neergesien op dié wat buite die groep was.

Hulle het van altyd af geweet dat hulle anders as hul maats is. Daar was dae dat ’n verjaardagkoek in die klas gedeel is, en hulle kon nie in die vrolikheid deel óf ’n stukkie koek eet nie.

Hulle is dikwels gespot. En hulle wou tog so graag soos die ander kinders wees …

Rowan se storie

Rowan vertel: “As ek nou aan my kinderdae terugdink, onthou ek meestal die vrees. Ek kon nooit my kindwees geniet nie; daar was altyd verwagtinge waaraan ek moes voldoen. Indien ek nie daarin geslaag het nie, het daar ’n pak slae by die huis op my gewag.”

LEES OOK: ‘Sy berou moes dade word’ – vrou kies die moeilike pad van vergifnis ná haar man se ontrouheid

In sy tienerjare het die druk selfs erger geword. Hy moes betrokke wees by die organisasie se vergaderings en hy moes wys hoe sterk sy geestelike lewe was. En hy was altyd bang dat hy iets verkeerds sou sê of doen.

“Een van die hartseerste dinge was dat ek geglo het liefde en aanvaarding is iets wat jy moet verdien. Indien jy ’n misstap begaan het, het jy gevoel dat jy God teleurstel. Wanneer jy later ’n grootmens is, dra jy steeds hierdie minderwaardigheidsgevoel saam met jou.”

Die organisasie se vernaamste eis is absolute gehoorsaamheid. Jy moet te alle tye onderdanig wees aan die mense wat in beheer is. Jou menswaardigheid is gemeet aan hoeveel jy vir die organisasie doen.

Rowan sê hy het begin glo dat hy al hoe harder moes werk om God se goedkeuring te verdien.

“Ons mag soms vriende buite die groep gehad het. Dit is egter waar dit geëindig het. Dis nie aangemoedig nie omdat die maats ‘van die wêreld’ was. By die skool moes ons op ’n Maandag hoor van al die pret wat hulle oor die naweek gehad het. En ons? Ons moes naweke van deur tot deur loop om die organisasie se boodskap te verkondig.”

Rowan onthou: “Ons is geleer om nooit te sê dat ons ongelukkig is nie. Indien dit wel uitgeglip het, is ons onmiddellik beskuldig van die verkeerde geestelike gesindheid.

“Ons is ook ontmoedig om ná skool verder te studeer of om ’n beroep te volg. Ons moes doodeenvoudig al ons tyd aan die organisasie wy. Die verwagting was dat jy as vrywilliger by die organisasie sou aanbly en werk. Laasgenoemde het van konstruksiewerk tot sendingwerk ingesluit. Jy is nie daarvoor betaal nie.

“Ek wou so graag iets van my lewe maak, maar ek is geleer dat sulke drome wêrelds is. Die maatstaf waaraan ek gemeet is, was hoog, en ek het voortdurend aan myself getwyfel. En getwyfel aan God se liefde vir my. Hierdie onsekerheid het my jare lank beheer.”

Rowan weet vandag dat sy verhouding met die Here nie bepaal is deur hoeveel ure hy vir die organisasie moes werk of hoeveel mense sy doen en late goedgekeur het nie. Hy weet nou wie hy in Christus is.

Volgens hom was sy grootste vrees dié vir verwerping. Hy kon nooit verstaan dat liefde sommer so “afgeskakel” kon word nie. “Hoe kan ’n ma ophou om met haar kind te praat? Hoe kan broers en susters skielik maak of jy dood is?

“Ek was nog ’n kind toe ek hierdie soort dinge bevraagteken het, maar ek was te bang om iets daaraan te doen.”

Hy sê hy kon nooit die organisasie se streng afkeur van bloedoortappings verstaan nie. Volgens hom het hulle op dié manier ’n ander se reg op lewe beheer.

‘My pa en my ma’

Rowan vertel: “My pa is oorlede toe ek nege jaar oud was. Ek mis hom vandag nog. Die oomblikke saam met hom was spesiaal, want ek kon net sy seuntjie wees. Ek hoef hom nooit te beïndruk het nie. Hy het my onvoorwaardelik liefgehad.

“Toe verloor ek hom. Niemand het my gehelp om daardie groot verlies te verwerk nie. My ma was baie streng. Indien ek een van haar reëls oortree het, het sy gesê dat God my nie liefhet nie.

“Op ’n dag het my ma my ’n misoes genoem. Wanneer ’n buitestander jou beledig, is dit nie so erg soos wanneer jou ma dit doen nie. As dit van die mens kom na wie se liefde jy so smag, rig dit baie skade aan. Ek het daardie woorde jare lank met my saamgedra.

“Ek het iemand nodig gehad wat aan my sou bevestig dat ek geliefd en waardevol is. Dat ek niemand anders hoef te wees om liefde te ervaar nie. Ek het dit eers later in my lewe gevind.”

Tascha se storie

Rowan en Tascha was tieners toe hulle mekaar ontmoet het. Sy was ook ’n lid van die organisasie.

Tascha beskryf haar ervaring as ’n lewe sonder vryheid. “Ek was ’n gedoopte lid en Rowan nie. Dit het tot gevolg gehad dat ons verhouding deur die reëls gekortwiek is.

“Ons is verbied om uit te gaan. Later het baie van ons familielede nie eens ons troue bygewoon nie. Die mooiste dag van ons lewe het dus ook ’n dag van verwerping geword.

“Omdat ons nie ons verjaardae mag gevier het nie, was ek 31 jaar oud toe ek vir die eerste keer my geboortedag gevier het. Ek en Rowan was in daardie jare bevrees vir die Armageddon, bevrees dat God jou sal vernietig indien jy ongehoorsaam is.

“Wanneer ek nou terugdink, besef ek hoe maklik ons beheer is. Vandag weet ek dat ek nie my geloof op ander se reëls wil bou nie, maar op Jesus.”

*Tascha het ’n boek oor haar ervarings geskryf. Indien jy belangstel om dit te bestel, kan jy haar by Tascha2@gmail.com kontak.

*God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf. Jóú ondersteuning gaan ons help om ons getuienisvoetspoor te vergroot. Klik hier om te help.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

Kyk nou ►