Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Selfs ná die grootste val sal jy weer opstaan wanneer God jou oprig,’ – Verlamde oud-rugbyspeler en sy vrou getuig

Sowat 11 jaar nadat Heinrich Terblanche sy nek in ’n skrum gebreek het, probeer hy steeds elke dag om beweging in sy ledemate te herwin. Sy vrou Chanel staan deurentyd langs hom – deur die trane en die klein oorwinnings heen, en in die dae wanneer die pad vorentoe donker lyk. Hier vertel hulle hoe God se genade hulle dra, ook in die tye wanneer genesing nie lyk soos wat hulle gehoop het dit sou lyk nie.

Daar is ’n ou gesegde wat lui dat dit maklik is om lief te hê wanneer dit voorspoedig gaan, maar dat teëspoed ware liefde toets. Chanel en Heinrich (Ollie) Terblanche van George se lewe is ’n perfekte voorbeeld hiervan.

Dié paartjie was maar ’n maand verloof toe ’n ongeluk hul drome verpletter het. Op 24 Januarie 2015, in die 53ste minuut van ’n opwarmingswedstryd tussen die SWD Arende en die Stormers, het Heinrich sy nek in ’n skrum gebreek.

Vir dié stut was rugby speel van kleins af ’n droom, en die Springbokspan die einddoel. Tot in daardie stadium het hy vir die Leeus, Boland, SWD Arende en ook vir Wairarapa Bush in Nieu-Seeland uitgedraf.

Van die rugbyveld na ’n hospitaalbed

Chanel vertel hoe bitter moeilik dit vir haar was om te moes sien hoe hierdie groot, onafhanklike man eensklaps van ander afhanklik geword het. “Die man wat vir rugby geleef het, is binne sekondes van die rugbyveld na ’n hospitaalbed verplaas. Al ons planne en drome is sonder meer in groot onsekerheid gedompel.

“Die dokters het ons voorberei op die slegste scenario, en gesê dat hy waarskynlik nooit weer sou loop of sy hande normaal sou kon gebruik nie. Ons was jonk en het nie geweet hoe om sulke nuus te verwerk nie.”

Ná drie operasies is Heinrich na ’n Pretoriase rehabilitasiesentrum, wat in spinale koord-beserings spesialiseer, gestuur. Daar sou hy ses maande deurbring.

Chanel onthou hoe onkundig sy was: “Dit was ’n groot skok om in die rehabilitasiesentrum soveel mense te sien wat daardie dinge moes deurmaak. Ek het ook aanvanklik gedink Heinrich sou leer om op te staan en te loop, en dat ons dan met ons troubeplanning kon begin.”

LEES OOK: Porterville se miracle child: ‘Vir haar is dié soort sportprestasies ’n wonderwerk’

Heinrich vertel hoe moeilik die rehabilitasieproses was, veral ook omdat sy situasie eintlik toe eers vir hom ’n werklikheid geword het. “Dit was vir my baie rof. Daar was tye waarin ek gehuil en gevra het: ‘Here, hoekom?’”

En dan was daar ’n dag in die sentrum wat hom altyd sal bybly. Hy vertel: “Die man langs my was heeltemal verlam. Ek kon darem nog my hande en arms beweeg. Sy vrou het gereeld vir hom kom kuier. En toe, op ’n dag, het sy daar ingestap, haar trouring op sy bors neergesit en gesê dat sy dit nie kan hanteer nie.

“Toe het sy omgedraai en geloop. Ek het nie geweet hoe om te reageer nie, want ek het aan my verloofde gedink en gewonder …

“Ek onthou wel ek het vir hom gesê: ‘Al wat ons in hierdie situasie het, is Jesus. Ons sal dag ná dag ons volle vertroue in Hom moet plaas.’”

‘My vrou is my hero’

Heinrich se vrese oor sy verhouding was ongegrond. Chanel, wat slegs ’n maand voor die ongeluk aan hom verloof geraak het, het die afgelope 11 jaar bankvas by hom gestaan.

Hulle is op 7 Januarie 2017 getroud nadat hulle ’n Groot FM-kompetisie gewen het waarvoor Chanel se tannie hulle ingeskryf het. Hul inspirerende verhaal het gesorg dat hulle die kompetisie wen, en só is hul droomtroue gefinansier. Heinrich vertel: “Dit het ons bemoedig, omdat dit vir ons gewys het dat God vir ons deure oopmaak terwyl ons in geloof volhard.

“My vrou is my hero. Sy lê elke dag haar lewe neer, soos wat Jesus gedoen het. Sy is my arms en my bene.”

Vir byna ’n jaar ná die ongeluk kon Heinrich nie sy hande gebruik nie. Daarna het jare se rehabilitasie en fisioterapie gevolg, en ontelbare gebede. 

Die aanpassing was werklik moeilik. Chanel onthou: “Heinrich moes die liggaamlike uitdagings in die gesig staar, maar ek het gesien hoe alledaagse dinge verander. Jare lange vriendskappe het tot ’n einde gekom. En ek sê dit met liefde, want mense weet nie altyd hoe om so iets te hanteer nie.

“Dit het ook ons onderskeie families beïnvloed. Heinrich was my boetie se held, maar ná die ongeluk was hy vreesbevange om rugby te speel.”

Sy vertel ook hoe baie lesse hulle moes leer. Hulle het, byvoorbeeld, ’n hele paar jaar gewag voordat hulle Heinrich se kar ingerig het sodat hy dit kon bestuur. “Ons was bang dat as ons dit sou doen, dit ’n bewys sou wees dat ons geloof nie sterk genoeg is nie. Maar die Here het ons met wysheid gevul en ons het besef ons hoef nie aan te hou sukkel om ons geloof aan Hom of aan enigiemand anders te bewys nie.”

Ná meer as nege jaar se deursettingsvermoë, harde werk en oefening, kon Heinrich kort afstande met sy loopraam stap. “Elke tree was vir ons ’n herinnering aan God se getrouheid en genade.”

Maar twee jaar gelede het nóg ’n beproewing hulle getref: Heinrich kon eensklaps nie meer beweeg nie, en hy het besef dat daar groot fout is. Hy is toe met transversale miëlitis gediagnoseer, wat beteken sy immuunstelsel val sy rugmurg aan. Dit het ongelukkig permanente skade tot gevolg gehad en hy moes van nuuts af met rehabilitasie begin.

Chanel vertel: “Dit was buitengewoon moeilik. Dit het inderdaad gevoel asof ons weer terug is by die beginpunt.” 

’n Geskenk van God

“Maar hierdie keer sou die pad anders loop: Ons sou dit nie alleen aanpak nie. Ons sou die hele proses saam met ons seuntjie beleef en hom deel maak van die reis.”

Want intussen het God vir Chanel en Heinrich ’n wonderlike geskenk gegee – ’n eie seuntjie. Sy vertel: “Ná alles wat Heinrich se liggaam moes deurmaak, was ons nie seker wat die toekoms wat kinders betref vir ons sou inhou nie. Maar Lian is nie deur kunsmatige inseminasie of IVF verwek nie; hy was ’n natuurlike wonderwerk, ’n antwoord op gebed. 

“Vir ons is hy ’n daaglikse herinnering aan God wat die onmoontlike moontlik maak. Sy lewe is vir ons ’n bewys van God se genade en liefde. Lian bring soveel vreugde, hoop en lig in ons huis.”

Nog eens rehabilitasie, en nuwe groei

Weer eens het neuro-fisioterapie ’n deel van hul weeklikse roetine geword. Chanel sê. “Ons leer weer saam, vier weer die klein oorwinnings en vertrou God vir elke tree vorentoe. Hierdie tweede groot reis het ons opnuut daaraan  herinner dat God nie net daar is wanneer dinge maklik gaan nie; Hy is ook teenwoordig in die terugslae, in die trane en in die oomblikke waarin ons weer van nuuts af moet begin. Ons krag kom nie uit onsself nie, maar uit Hom wat ons elke dag dra.”

Heinrich en Chanel het te midde van al dié dinge besef dat hulle ’n keuse het: Hulle kan in hul pyn bly vassteek, of hulle kan God vertrou om iets moois daaruit te laat groei.

Hulle hou vas aan Hebreërs 11:1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Chanel vertel wat God net ná die ongeluk aan haar gesê het: “Dit gaan nie meer oor jou en Heinrich nie, maar oor mense wat moet sien.” Sy kon nie dié woorde verstaan nie, maar nou, jare later, verstaan sy. “Mense kom na ons toe en sê hulle móés vandag gesien het hoe ek vir Heinrich help. Of iemand lewer kommentaar op hoe hulle geraak word deur Heinrich se glimlag terwyl hy die moeilike treë aanpak.”

Rise Coffee

Heinrich het ná die ongeluk ’n passie vir koffie ontwikkel, en in 2019 het hy die geleentheid gekry om Rise Coffee tot stand te bring. Hulle vertel dit is nie bloot ’n sakeonderneming nie, maar deel van hul getuienis. “Selfs ná die grootste val sal jy weer opstaan wanneer God jou oprig,” sê Chanel.

Heinrich sê dat hulle met elke sak Rise Coffee wat hulle verkoop R2 aan die SA Players Fund skenk. “Op dié manier probeer ons ander spelers ondersteun wat met soortgelyke probleme as ons te kampe het.”

Die drie koffiemengsels wat hulle verkoop, het ook baie spesifieke name gekry: The Hero is na Chanel vernoem; The Brave is hoe Lian sy pappa beskou; The Tall verteenwoordig hul vaste geloof dat Heinrich eendag weer sal kan loop.

“Ek sou so graag my seuntjie wou optel,” sê Heinrich. “Ek sou so graag saam met hom wou bal gooi of speel.

“Ek hou vas aan die geloof dat God my tot volle genesing sal bring, ongeag of dit nou op hierdie aarde of op die nuwe aarde sal wees. Maar loop sal ek loop.”

*God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf. Jóú ondersteuning gaan ons help om ons getuienisvoetspoor te vergroot. Klik hier om te help.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

Kyk nou ►