Sy moes haar man begrawe, haar kinders ondersteun en vier keer toekyk hoe die Breederivier haar geliefde familieplaas verswelg. Daar was dae vol moedeloosheid en dae vol trane, en dae waarop sy nie herwaarts of derwaarts geweet het nie. Maar telkens, wanneer haar krag min was, het mense, ook vreemdelinge, opgedaag om haar te help.
“Die afgelope drie jaar het my geleer dat die lewe jou soms op jou knieë dwing, dat jy nie altyd verstaan hoekom dinge gebeur soos dit gebeur nie. Maar dan, wanneer jy te moeg is om te loop, stuur God mense oor jou pad om jou te dra.”
Cindy du Toit (47), boervrou op die familieplaas Goudmyn naby Robertson in die Wes-Kaap, gesels met LiG oor al die uitdagings en ontberings die afgelope drie jaar. Sy vertel hoe dit haar geloof getoets het, maar dit ook versterk het. Buiten die vier vloede wat hul plaas getref het, het sy ook haar man Kosie in daardie tyd aan die dood afgestaan.
Hierdie ma van Francois (19), Walt (16) en Kayli (14) moes sterk staan ter wille van haar kinders. Veral die vierde vloed het hulle sleg seergemaak, toe die Breederivier in Mei 2026 hul hele plaas met al die geboue oorstroom het.
‘Hoe kon alles op een slag gebeur?’
Cindy vertel dat sy 17 jaar lank dolgelukkig getroud was met Kosie. Hy het die gemengde boerdery op die plaas behartig, terwyl sy die gastehuis-onderneming, Goudmyn River Chalets, op die plaas hanteer het.

Drie jaar gelede is Kosie (toe 48) met kolonkanker gediagnoseer, waarna hy chemoterapie ontvang het. Niemand het egter geweet van sy allergie vir die 5FU-middel wat in die chemoterapie-mengsel teenwoordig was nie. Drie weke later, op 12 Junie 2023, het hy gesterf.
Eensklaps het al die verantwoordelikheid van die boerdery, die gastehuis en die kinders op Cindy se skouers beland. In daardie tyd moes die angorabokke gedip en geskeer word, en 200 ooie moes lam.
“Die kinders het my nodig gehad,” vertel sy. “Ek moes elke dag eenvoudig opstaan en doen wat gedoen moes word. Gelukkig het ek wonderlike vriendinne wat altyd bereid was om te help.”
Die eerste vloed het die plaas op 14 Junie 2023 getref, slegs twee dae ná Kosie se dood.
Hulle het destyds ’n vloedlynbepaling laat doen sodat hulle op die regte plekke kon laat bou, juis omdat die plaas aan die Breederivier grens. Die kampeerterrein is egter in die vloed beskadig en hulle het kragpunte en pompe by die gastehuis en die kampeerterrein verloor. Genadiglik het die versekering uitbetaal.

Cindy sê sy kan nie veel onthou van die eerste drie maande ná haar man se dood nie. “Ek weet net ek was aanvanklik baie kwaad vir die Here. Ek kon nie verstaan dat alles op een slag met my moes gebeur nie.
“Ek het gesukkel om te bid. Dit het maande geduur voordat ek weer gemaklik genoeg daarmee was om kerk toe te gaan. My geloof was nie weg nie, maar ek het baie vrae gehad. En ek moes op my eie manier daardeur werk.”
Ook die kinders het elk op ’n eie manier gerou, vertel hul ma. “Ek kon net hul ma wees, by hulle wees en vir hulle ’n veilige huis gee.”
Gelukkig het die buurman, ’n goeie vriend, aangebied om die grond op Goudmyn te huur en verder te boer. Dit het darem van die druk verlig. Later sou Cindy ook die bokke verkoop ten einde meer aandag aan die kinders en haar gastehuis-onderneming te gee.
Die tweede en derde vloed
Drie maande later het ’n tweede vloed hulle getref. Weer eens is die kampeerterrein oorstroom en weer eens het hulle al die kragpunte en pompe verloor. Daar het boonop baie sand agtergebly wat hulle met die hand moes wegskep om die grasperk te probeer red.
Ná hierdie vloed het die versekeringsmaatskappy vloedskade by Cindy se polis uitgesluit.
Dié keer het sy gesukkel om sterk te wees. “Wanneer ek alleen was, het die trane gevloei. Ek het dikwels in die stort gehuil waar niemand my kon sien nie. Ek het ook geleer om nie te ver vooruit te dink nie.”

Op 12 Julie 2024 het die derde vloed gekom. “Dit was erger as die eerste twee vloede saam. Die water het tot op die gastehuise se onderskeie stoepe en die ablusieblok gekom. Weer het ons kragpunte en pompe verloor. Groot dele van die grond het weggespoel en daar was gate so groot soos ’n swembad.
“Emosioneel gesproke was ek toe wel sterker, hoewel dit baie erg was om vrou-alleen weer al die besluite te moes neem.”
‘Dit het gevoel asof ons alles verloor het’
En toe tref die vierde vloed hulle op 12 Mei vanjaar. Dit was die ergste vloed in 100 jaar in daardie geweste.
Die gastehuise, haar pa se huis, haar eie huis, die werkershuise, die kampeerterrein en die ablusieblok is oorstroom. Alles was onder water. “Dit was ’n verskriklike gesig. Dit het gevoel asof ons alles verloor het. Ek is letterlik net met ’n skoon stel onderklere en ’n tandeborsel by die huis uit.
“Ons huis is ongeveer 140 meter van die Breederivier. Toe ek die deur oopmaak en die chaos sien, het ek gewonder of dit nie dalk veiliger sou wees om iewers anders te gaan woon nie. Ek het glad nie geweet waar om te begin nie.
“Die huis is ongeveer 80 jaar oud en het kleimure. Alles was vol modder, alles was gevlek en het gestink.
“Maar ek het ook besef ons kan nie net opgee nie. Goudmyn is ons huis, ons hart. Ek kon nie sommer net wegstap nie.”
Cindy onthou hoe moeg sy was. Sy was elke dag in haar waterstewels, met modder reg om haar. Sy kon nie veel besittings red nie en baie van hul klere is gevlek.
“Ek was dié keer nie regtig kwaad vir God nie, maar ek het baie gehuil. Ek is gewoonlik nie ’n baie emosionele mens nie en kan my emosies goed beheer. Maar die trane het net gekom.”
Die engele wat deur God gestuur is
Deur die genade was daar baie mense, ook vreemdelinge, wat kom help het. Wat bloot daar opgedaag het. Wat kos gebring het, bêreplek aangebied het en gehelp het om die geboue skoon te maak.
“Toe stuur God nóg engele,” vertel sy. “Een oggend het vyf voertuie by ons stilgehou. Dit was vreemde mense. Op die voertuie was die woorde uit 2 Korintiërs 5:7 aangebring: For we walk by faith and not by sight.
“’n Man en sy span het aan die werk gespring. Ek het werklik gevoel dat God hulle oor my pad gestuur het. Sonder vrae het hulle daar opgedaag, en sonder betaling het hulle gewerk.”
Op 16 September vanjaar, toe Cindy by Chalet 3 uitstap nadat hulle daar gewerk het, het sy ’n reënboog gesien wat oor die plaas gestrek het. Sy vertel: “Ek glo met my hele hart dat dit God se belofte aan my was dat alles weer herstel sou word. Dit was ’n besonderse oomblik, waarin Hy gewys het dat Hy die pad saam met ons stap ongeag hoe moeilik dit word.”
Die kampeerterrein lyk steeds baie sleg, daar moes nuwe bome aangeplant word en daar is nog werk wat aan die ablusieblok gedoen moet word. Nogtans, vertel Cindy, het die chalets op 24 September vanjaar weer die eerste gaste gehuisves.
En 171 dae ná die vloed kon Cindy weer in haar eie huis intrek. Op Saterdag 31 Oktober was die mure steeds nat en dit kon slegs halfpad geverf word. Maar dis weer ’n huis.
“Ek hanteer alles nou een dag op ’n slag. En ek kan nie wag vir die groot Desember-kuier saam met die familie nie.
“Goudmyn is ons hart se plek. Dis ons familie se ‘happy place’ waar herinneringe sal voortleef. Waar tot laatnag om die tafel gekuier word en die gelag weer deur die nat mure sal weergalm.
“Een dag op ’n slag is genoeg. Opgee is nie ’n opsie nie.”
*God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf. Jóú ondersteuning gaan ons help om ons getuienisvoetspoor te vergroot. Klik hier om te help.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.























