Zandré Botha se groot stryd het begin toe haar tweejarige seuntjie met ’n aggressiewe soort bloedkanker gediagnoseer is. Sy het aan God se goedheid vasgeklou terwyl alles om haar wou meegee. Toe kom daar ’n sinistere wending …
“My seun Danté was maar twee jaar oud toe hy met akute miëloïed-leukemie (AML) gediagnoseer is.”
Só vertel dr Zandré Botha, wat haar op alternatiewe geneeskunde toelê. Sy vervolg: “My kind se kans op oorlewing was, volgens die medici wat hom behandel het, slegs 5%. Hospitaalbesoeke, allerlei behandelings en daaglikse inspuitings het deel van ons bestaan geword.”
Terwyl Danté teen dié aggressiewe soort bloedkanker geveg het, het Zandré se huwelik verbrokkel. Sy was toe grotendeels alleen verantwoordelik vir haar kind se sorg en sy kon nie haar praktyk behoorlik bedryf nie. Die finansiële druk het toegeneem, en haar aandag moes by haar kind se behandeling bly.
“Jou lewe kan uitmekaar val,” sê sy, “maar jy los tog nie jou jong kindjie alleen in ’n hospitaal nie …”
LEES OOK: ‘Die Here het my met sy vlerke bedek’ – vrou wag vir doodskoot tydens aanval
Omdat hulle so min tuis was, het inbrake ’n probleem geword. Maar Zandré kon dit nie bekostig om na ’n ander blyplek te verhuis nie. In dié tyd het ’n kennis uit haar skooldae haar op sosiale media opgespoor, en hy het aangebied om ekstra slotte aan die huis se buitedeure aan te bring. Hy het gesê sy kon hom betaal wanneer dit vir haar moontlik is.
Uitkoms – of nie …
Dis ’n soort uitkoms, het Zandré gedink. Hier is ’n goeie mens wat wil help. Ook haar vriende het in haar dankbaarheid gedeel.
Die weldoener wou egter meer van haar hê as wat sy bereid was om te gee. Nadat Zandré dit duidelik gemaak het dat sy nie in ’n verhouding met hom belangstel nie, het sy houding verander. Én sy gedrag teenoor haar. Hy het haar begin intimideer, en later gedreig dat hy haar familielede die een ná die ander sou doodmaak as sy nie aan sy eise voldoen nie.
Heeltemal stukkend
Zandré vertel: “Ek was ongeveer vier maande lank sy gyselaar. In dié tyd het hy my verkrag en op die ergste manier denkbaar mishandel.
“Ek het by die Here gepleit: ‘Here, asseblief, net U kan ons red. Net U kan my en my kind uit dié man se kloue verlos.’
“Ek het nie geweet hoe om van hom af weg te kom nie. Ek kon nie sommer iemand bel en vertel wat besig is om te gebeur nie; die man was te gevaarlik!”
Intussen het sy elke dag aan moontlike planne probeer dink om sy houvas op haar te verbreek. “Ek het begin deur vir hom te sê dat sy optrede nie met God se wil strook nie.

“Maar hy het my elke dag vertel hoe sleg ek is. En ek het my later deur sy oë gesien. Ek het myself afgebreek en later self geglo dat ek nie goed genoeg is nie, en dit gesê.”
Op ’n dag het die man skielik besluit dat Zandré reg is. Dat sy ’n slegte mens is, en nie die regte vrou vir hom nie.
“Toe hy sê dat hy weggaan, was ek báie verlig. Dit was egter ’n leuen. Hy het nêrens heen gegaan nie.
“En ek moes maak of ek bly is, terwyl ek binne-in heeltemal stukkend was.”
Enkele weke later het die man weer sy goed gepak. Zandré het steeds bly
voorgee, en hom gesmeek om tog nie weg te gaan nie. Hy het egter sy goed in sy
vragmotor gelaai en gery.
Maar die nagmerrie was, helaas, nog nie verby nie …
‘Moenie my mamma seermaak nie!’
Danté is weer in die hospitaal opgeneem. En sy ma was deurentyd by hom. Sy vertel: “Toe hy ná ’n ruk ontslaan is, was ons gedaan en het by die huis sommer in die bed neergeval. Ek het gebid en oor en oor net gesê: ‘Jehovah Shammah, oftewel God is teenwoordig’.
“En met hierdie woorde op my lippe het ek aan die slaap geraak.
“Toe ek in die middel van die nag wakker skrik, dit was seker so tweeuur, het daardie man langs my bed gestaan. Die vrees wat jou in sulke oomblikke beetpak, maak jou lam. Ek het net geweet hy het teruggekom om my dood te maak.
“Hy het my aangesê om op te staan – en toe het hy probeer om my te verwurg. Ek het my bewussyn verloor. Nadat ek bygekom het, was my mond vol bloed; ek het amper dwarsdeur my tong gebyt.”

“Ek het gehoor hoe Danté sê: ‘Mamma! Moenie my mamma seermaak nie!’ En ek het probeer om by my kind uit te kom. Ek het hom teen my vasgedruk, ek wou nie hê hy moes ook seerkry nie.”
Op ’n engel se skoot
“Die man het ’n vuurwapen teen my kop gedruk en gesê ek moet op my knieë gaan staan en my laaste gebed bid. Ek onthou dat die Heilige Gees my beveel het om dit nie te doen nie. En toe het ek gesê, my stem vol gesag: ‘Ek gaan nie bid nie, want ek sterf nie vanaand nie.’”
“Hy het die sneller getrek – en die pistool het net ’n klikgeluid gemaak.
“Daarop het hy ’n kussing gegryp, die pistool se loop daarin gedruk en die sneller getrek. Die skoot het afgegaan. Hy het verbaas na die wapen gekyk en begin vloek, aanhoudend. Toe het hy dit weer teen my kop gedruk en die sneller getrek. Weer het die skoot nie afgegaan nie.
“Hy het dit weer probeer, en weer en weer. Seker tien keer. Niks het gebeur nie. Ek het vir Danté vasgehou en hom probeer wegskuif, weg van die pistool se loop.
“Oplaas het die man die wapen weggesit, na my gekyk en gesê: ‘Daar is iets groters as ek in dié kamer. Jy is nou veilig.’
“Hoe vreemd was dit nie! ’n Aanvaller wat jou pas probeer vermoor het, sê vir jou jy is veilig …”
Hierna het hy op die vlug geslaan. En Zandré het haar na die naaste polisiekantoor gehaas.
Zandré is tot vandag toe daarvan oortuig dat God daardie nag ingegryp het. Sy vertel dat sy later ook besef het dat daar inderdaad “iets groters” in die kamer teenwoordig was. “Ek kon, byvoorbeeld, nooit verstaan hoekom Danté teen die bed se koppenent bly sit het nadat ek hom daarheen geskuif het wanneer die man die sneller getrek het nie. Die Heilige Gees het my later gewys dat daar ’n engel was, en dat ek, toe ek Danté daarheen geskuif het, hom op die engel se skoot neergesit het.”
Die wonderbaarlike afloop
Die aanvaller is in hegtenis geneem en is tronk toe. Hy is ook amptelik as ’n psigopaat geklassifiseer.
Later het Zandré gehoor hoe dié man se kinderjare verloop het, van die trauma en ernstige mishandeling wat hy moes deurmaak. Dié nuus het haar diep geraak. “God se liefde is so groot,” sê sy. “Al het hy my so bitter seergemaak, kan ek nou aan hom dink as ’n mens vir wie God liefhet.”
’n Vriendin het Zandré aan ’n pastoor met ’n gevangenisbediening voorgestel en hy het aan Zandré gesê dat hy haar getuienis met ’n aantal gevangenes wil deel. Daarop het hy ’n groot uitreikgeleentheid gereël waaraan meer as duisend manlike gevangenes deelgeneem het. En daardie dag het meer as duisend mans hul lewe vir die Here gegee.
Die aanvaller het homself later om die lewe gebring. Zandré vertel hoe hartseer dit haar gemaak het toe sy dit hoor. “Ek dink dit is hoe God moet voel wanneer een van sy skepsels nie tot inkeer kom nie. Hy wil tog nie hê dat één siel verlore gaan nie.”
Zandré woon tans in Krugersdorp, sy is weer getroud en besit haar eie praktyk.
Danté is ná ’n vier jaar lange stryd teen AML volkome genees. Sy ma vertel: “Die mediese personeel was absoluut verstom oor sy herstel, veral omdat die prognose nie baie goed was nie.
“Die pad na herstel was nie maklik nie,” sê sy. “Maar my geloof het my deur die ondenkbare gedra, en ek weet hierdie verhaal sal vir iemand anders hoop bring.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.










































