Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Die Here het my met sy vlerke bedek’ – vrou wag vir doodskoot tydens aanval

Inge Whitehead van Kuruman in die Noord-Kaap vertel hoe sy die teenwoordigheid van die Heilige Gees tasbaar beleef het terwyl vier gewapende inbrekers op haar skiet.

Onlangs lees ek in ’n #liggetuienis hoe Andrew en Renate de Vries vertel dat God met Andrew “in sewes” praat. Onmiddellik het ek besef dat ek ook my storie moet vertel. Dis nou immers sewe jaar sedert die aanslag op my lewe.

Dit was die aand van 5 Julie 2018, ek onthou dit soos gister. Ek was alleen in ons dorpshuis. Ek woon saam met my ouers in Kuruman, en my familie was uit na my ouers se plaas vir ’n winterwegbreek. Ek wou eerder in die dorp agterbly, want Maggie, my 12-jarige schnauzertjie, het kanker gehad en ek wou naby die veearts wees. Ek is enkellopend, die jongste in ons gesin, en het twee ouer broers.

Daardie aand het ek alles vroeg toegesluit, die kaggelvuur aangesteek en voor die TV gaan sit. Maggie het by my kom lê, maar sy was deurentyd onrustig. In ’n stadium het sy van die bank afgespring, by die hondedeurtjie vasgesteek en erg begin blaf.

Sy het vir iets of iemand geskrik, ek het besef sy blaf nie sommer om dowe neute nie. 

Ek het my oudste broer Jason gebel, hy woon so vyf km van ons af. Ek het hom gesê ek vermoed daar is iemand op die werf en hom gevra om te kom kyk of alles reg is. Ons is geleer om altyd op so iets voorbereid te wees en daarom het ek my vuurwapen by my gehad.

Vier mans staan voor my

Terwyl ek eenkant op die bank gaan sit het sodat ek die twee glasdeure kon dophou, het ek ’n baie harde slag gehoor. Dit was, onmiskenbaar, glas wat breek.

Toe ek opkyk, het vier mans voor my gestaan. Ek het so groot geskrik dat ek my vuurwapen sommer twee keer oorgehaal het. In die hoop dat ek hulle sou afskrik, het ek twee waarskuwingskote afgevuur. Maar hulle het bly naderkom. En begin terugskiet.

Ek het dadelik besef dat ek, vrou-alleen, nie ’n kans staan teen vier groot mans nie. Ek onthou nog hoe ek vir myself gesê het: “Inge, vanaand het jy moeilikheid!”

Ek het onder die koffietafel ingeduik en aanhou skote afvuur. Ek wou hulle van my af weghou.

Toe het die onafwendbare gebeur: Ek het ’n groot slag teen my maag gevoel. Ek onthou hoe ek my hand op my maag gedruk het om vas te stel of ek bloei, want ek kon voel hoe warm dit was.


Deur die Here se genade het die patroon uit die skieter se vuurwapen nie genoeg slaankrag oorgehad nie, want dit is eers dwarsdeur die sitkamerbank, toe deur die tafel en toe teen my maag vas. Ek is wel in my arm gewond. My pistool het uit my hande geval en ek was weerloos. Al wat ek kon dink om te doen was om te maak of ek dood is.

Die inbrekers het toe by my kom staan en my vuurwapen opgetel. Ek kon slegs hul skoene sien en het probeer om my asem op te hou.

Ek was daarvan oortuig dat hulle my sou doodskiet. Terwyl my ore van al die skote gesuis het, het ek op die doodskoot gewag.

My twee helde

Al wat ek van die res van die gebeure onthou, was die oneindige kalmte wat oor my gespoel het. Die Here het vir my gesê dat al gaan ek deur ’n dal van doodskaduwee ek niks hoef te vrees nie, want Hy is by my. Die teenwoordigheid van die Heilige Gees was feitlik tasbaar en ek kon voel hoe iets my bedek, my as ’t ware “toegooi”.

Ek het eers veel later besef dat die Here my met sy vlerke bedek het. Inderdaad: Onder sy vleuels sal ons skuil!

Net hierna het ek Jason buite hoor roep. Ek kon natuurlik nie antwoord nie, nie met die boosdoeners wat toe steeds naby my gestaan het nie. Gelukkig het hulle hom ook gehoor en dadelik weggehardloop.

Jason en klein Maggie was my helde. Jason het vertel hoe hy net sy skoene aangetrek en sy vuurwapen gegryp het toe ek hom bel. Hy het op pad gebel om te hoor of ek nog veilig is, maar die oomblik toe ek “hallo” sê, is die glasdeure gebreek.

Al wat hy kon hoor, is hoe ek gil. Toe het die foon doodgegaan.

Maggie het gaan wegkruip; sy was dus veilig. Ek is gestabiliseer en na Kimberley-hospitaal geneem. Ek moes chirurgie ondergaan om die koeël te verwyder en my arm met penne te heg. Nadat ek weer tuis was, het Maggie my behoorlik opgepas. Sy is daarna nog ’n volle jaar vir my gespaar en het op 3 Augustus 2019 gesterf.

Een van die inbrekers is die volgende oggend in die veld gevind. Hy was gewond. Ek het hom by die polisiekantoor gaan uitken. Bowendien is sy DNS positief verbind met die plek waar hy aan ons heining gehaak het.

Maar daar het niks van die saak gekom nie. Ek het berading ontvang en het ongeveer ’n jaar lank saans op die alarm se geskril gewag en die sekuriteitskameras lê en dophou.

Ondertussen was daar ’n vier maande lange herstelpad voordat ek weer my arm voluit kon gebruik. Deesdae doen ek baie dinge wat ek destyds gedink het ek nooit weer alleen sou regkry nie. Die letsels, fisiek en sielkundig, sal ek seker altyd saam met my dra. Maar ek het besef ’n mens kan nie toelaat dat Satan jou vreugde en lewenslus steel nie.

‘Ek het opnuut besef wat belangrik is’

Soms kos dit so ’n traumatiese gebeurtenis om opnuut te besef hoe kosbaar die lewe is en wat regtig saak maak. Uiterlike skoonheid (én letsels) vergaan, maar dis die mooi in jou hart wat belangrik bly.

Ek is daarvan oortuig die Here het my klein schnauzertjie gebruik om my teen die onheil te waarsku. Kort ná die aanval is sy dan ook deur die Schnauzer Friends of South Africa vir haar dapperheid vereer.

My pa is intussen oorlede en ek woon steeds by my ma. Ek is selfversorgend en besit grondverskuiwingsmasjinerie wat ek aan groot maatskappye verhuur, grotendeels vir die bou van paaie.

Wanneer ek vandag op alles terugkyk, besef ek opnuut dat ons ’n wonderlike Vader dien. Ek weet Hy beplan nog groot dinge vir my. Sy genade is vir my genoeg.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►