Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘As jy maar net wil sien wat Ek in jou sien …’

Ek dink nie ek is die enigste ouer wat al vir kinders gevra het om iets te doen … net om hiérdie soort reaksie te kry nie: “Ek kan dit nie doen nie!” Of: “Ek sal dit nie regkry nie!”

Terwyl ek weet daardie taak is glad nie bo hul vuurmaakplek nie. Hulle sien net nie raak waartoe hulle in staat is nie.  Nou moet ek aanmoedig, aanhits, oorreed. Totdat hulle uiteindelik uitroep: “Haai, ek kán dit doen!”

Buite ons gemaksone

Wanneer die Here met Gideon praat, en Gideon verwoed begin keer, wil-wil ons glimlag. Hoe bekend klink dit nie! Lees maar Rigters 6:14-16: “Toe het die Here na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: ‘Gaan met die krag wat jy het en red Israel uit die mag van die Midianiete. Ek stuur jou!’ Maar Gideon antwoord Hom: ‘Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek Israel red? My familie is die swakste in Manasse, en ek is die geringste in my pa se huis.’ Die Here sê toe vir hom: ‘Ek is by jou …’”

Hoor jy? God stuur, en Gideon twyfel. God roep, en Gideon kyk na homself. Net soos my seuns. Net soos ek …

Want soms voel dit vir ons asof die Here iets van ons vra wat net te veel is, te groot, te moeilik. Te ver buite ons gemaksone. Ons dink: Ek is nie die regte een vir hierdie taak nie. Ek is nie bekwaam genoeg nie. Ek het nie genoeg ervaring nie, nie genoeg krag nie. Nie genoeg geloof nie.

LEES OOK: ‘Is Hy regtig ’n goeie God?’ – vrou se geloofspad van gebroke weduwee na aanbiddingsleier en pastoor

Daarom wag jy – vir meer sekerheid, beter woorde, groter geloof.

Spits dan jou ore, en hoor hoe Hy vir jou sê wat Hy vir Gideon gesê het: “Gaan met die krag wat jy het.” Begin daar waar jy jou nou bevind.

Het jy dié Skrifgedeelte al goed bekyk? Lees weer, en hoor: “Die Here het na Gideon toe gedraai …” Daar is iets persoonliks hierin. Die Here roep nie van ver af nie, en Hy kyk nie na Gideon se kwalifikasies nie; Hy kyk na Gideon. En Hy sien iets wat Gideon self nie kan raaksien nie.

Hy kyk na sy kind, met al dié se onsekerhede, twyfel, vrese, en verskonings. En dan sê Hy: “Gaan met die krag wat jy het.”

Lees dit nog ’n keer, en sien dat daar nie staan “gaan met die krag wat Ek eendag vir jou sal gee” nie. Ook nie “wag totdat jy sterker of beter toegerus is” nie. Toe die Here vir Gideon sê: “Gaan met die krag wat jy het,” was dit asof Hy sê: Ek weet wie Ek gemaak het. Ek weet waartoe jy in staat is, selfs al glo jy dit nog nie.

Die Here sien iets anders raak

Net soos wat my kinders nie altyd besef wat hulle in staat is om te doen nie, besef ons ook dikwels nie wat reeds in ons is nie. Ons sien ons tekortkominge raak, maar die Here sien iets anders raak: Hy sien sy skepsel. Hy sien ’n mens wat na sy beeld gemaak is. Hy sien potensiaal, vermoë, krag. Ons kyk vanuit ’n menslike perspektief – prestasie, kwalifikasie, sukses. Maar in God se oë lyk ons anders.

Ons sal waarskynlik nooit heeltemal gereed voel om gestuur te word nie. Ons sal selde dink ons is goed genoeg. En tog wys die Bybel dit oor en oor: Die Here kies dikwels juis dié wat swak lyk, dié wat twyfel, dié wat gebroke is. Nie omdat Hy nie beter opsies het nie, maar omdat Hy wil wys dat sy krag juis deur gewone mense werk. Dat sy krag in hulle swakheid volbring word.

‘Jy is Myne’

God kan énigeen gebruik. En wie sal jou vermoëns beter ken – jy, wat jouself deur jou mislukkings beoordeel, of jou Skepper wat jou gevorm het?

Wanneer Hy na ons kyk, herinner Hy ons hieraan: Jy is Myne. Jy is my geliefde seun, my geliefde dogter. Dit wat Ek in jou geplaas het, is nie per ongeluk daar nie. Gaan dan met die krag wat jy het. Nie meer nie; nie minder nie. Maar met dit wat reeds in jou is.

Tog hoor ons Hom nie goed nie. Ons leef so dikwels asof ons nie “genoeg” is nie. Ons hou terug, ons stel uit, ons vermy dit wat ons voel Hy van ons vra omdat ons bang is ons sal misluk. 

Is dit nie hier waar een van ons vernaamste foute lê nie? Dié dat ons ons eie oordeel oor onsself meer vertrou as God s’n?

Hoe sou dit wees as Hy vandag na jou toe draai en sê: “Gaan met die krag wat jy het. Ek stuur jou!” Hoe sou jy daardie taak aandurf as jy regtig glo dat jou krag in Hom genoeg is? As jy dit met ’n heilige moed aanpak – nie omdat jy selfversekerd voel nie, maar omdat jy vertrou dat Hy by jou is.

Wanneer my kinders uiteindelik die taak voltooi, glimlag hulle dikwels verbaas en sê: “Ek hét dit reggekry!” Ek wonder hoeveel keer glimlag God ook oor ons en dink: “As jy maar net wil sien wat Ek in jou sien …”

Bid asseblief saam met my:

“Here, draai na my toe. Help my om te sien wat U in my geplaas het. Herinner my daaraan dat my krag in U genoeg is. En gee my die moed om te gaan wanneer en waarheen U my stuur.”

  • Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►