“Ek het geweet slegte dinge gebeur, maar ek het nie gedink die slegste van die sleg sal met mý gebeur nie.” Só vertel Leandi Cottle (38), wat een noodlottige Maandagmiddag as ’n getroude vrou by die hospitaal ingestap het. En drie dae later as ’n weduwee uitgekom het. Dit was tien jaar gelede, en die begin van ’n lang pad, ’n geloofspad, wat haar lewe onherroeplik verander het. Vandag is Leandi gelukkig getroud, ’n ma, ’n pastoor en ’n aanbiddingsleier in Delmas. Hier is haar storie in haar eie woorde.
Ons was jonk getroud en smoorverlief op mekaar. Alphonso was die man van my drome, my sielsgenoot. Vir meer kon ek nie vra nie. Sy skielike hartaanval daardie oggend by die werk het ons almal onkant betrap. Soos die koma waarin hy later die dag verval het en waaruit hy nooit weer wakker geword het nie.
“Ek is baie lief vir jou,” was Alphonso se woorde daardie eerste, skrikwekkende dag langs sy hospitaalbed, toe ek, bang en onseker, hom moed ingepraat het. Min het ek geweet dat dit sy laaste woorde aan my sou wees.
Die dokters het ons gewaarsku en gesê: “Dinge lyk nie goed nie.” Alphonso se hart het onreëlmatig geklop. En later heeltemal ophou klop. “Hy is breindood,” het hulle gesê, maar ek wou dit nie glo nie.
Drie dae lank het ek, met alles in my, geveg vir sy lewe. Ek het onwrikbaar bly glo dat die Here hom sou genees. Die een neuroloog het my gevra: “Hoekom laat skakel jy nie die masjiene af nie?”
My vurige antwoord was: “Ek kan nie God speel oor Alphonso se lewe nie.”

“Maar hy is reeds dood,” het hy gesê.
Ek het teëgekap: “My God kan steeds ’n wonderwerk doen. Kom ons wag net eers.”
“Hoe lank het jou God nodig?” wou die neuroloog ewe sarkasties weet.
LEES OOK: Vyf jaar ná Zara se selfdood: ‘Jy is met ’n pyl geskiet – en dit bly seer’
Sulke soort opmerkings het die geloofsvuur in my net nog warmer laat brand.
Hy was my ‘happily ever after’
Toe Alphonso se hart eensklaps weer begin klop, het ek dadelik gedink: “Sien julle, ons wonderwerk is besig om te gebeur!” Ek was vas oortuig daarvan dat dié skielike wending ’n deel van ons getuienis sou word. Nog ’n groot oomblik waarin die Here op ’n bonatuurlike wyse genesing en herstel bring.
In daardie stadium het ek reeds ’n paar sulke oomblikke beleef. Op universiteit, nadat my ouerhuis deel van die land se egskeidingstatistiek geword het, het bipolêre depressie kom aanklop. En die Here het my op ’n bonatuurlike manier genees.

As dramastudent met ’n liefde vir sang, wou ek graag my graad in verhoogwerk en kabaret voltooi. Daardie droom het versplinter toe ek met ernstige skade aan my stembande gediagnoseer is en my stem sodoende “verloor” het.
Weer eens is ek op ’n bonatuurlike wyse genees en my stembande het herstel. Tot die dokter se groot verbasing. Om daarna ’n aanbiddingsleier in ons kerk te word, was deel van die wonderwerk.
Boonop was ek gelukkig getroud met ’n man wat die Here self vir my gestuur het. Hy was my “happily ever after”. Hoekom sou die Here dan toelaat dat dit van my af weggeruk word?
God weet beter
Tog het die onverklaarbare, die ondenkbare gebeur: Ons het vir genesing gevra, maar God het anders besluit. Op die derde dag het Alphonso se hart ophou klop, vir altyd. Daardie drie dae was toe eintlik genadetyd om behoorlik te kon afskeid neem.
Dit was egter ook drie dae waarin die saad van ’n dieper geloof, ’n nuwe perspektief en groter vertroue, in my gesaai is. Dit alles het meegehelp om my te vorm tot wie en wat ek vandag is.
Destyds het ek dit nie verstaan nie. My hele wêreld het inmekaargetuimel. Die seer van sy dood het my asem weggeslaan. Ek was verslae. Stukkend. Gebroke. Leeg.
Die pyn het as ’t ware die lewe uit my uit gedruk. Dit het my begrip van die Here uitgedaag, en ek het my afgevra: Is Hy regtig ’n goeie God? Wil ek só ’n God dien?
Die geestelike groei wat sedert my universiteitsjare plaasgevind het, het skielik tot stilstand gekom. Eintlik was ek steeds ’n “baba-Christen”; daar was nog so baie om te leer …
Ek wou nie weer in depressie terugval nie; ek het geweet ek het hulp nodig. Maar toe my liewe ma voorstel dat ek ’n geestelike berader gaan spreek, was ek glad nie lus nie. Dit was mý smart. Die rouproses was mý heiligdom. Ek wou dit koester en vir myself hou.
Uiteindelik het ek tog ingestem, teen my sin.
‘Gaan jy ook bitter doodgaan?’
Ek kan nie veel van die beradingsessie onthou nie, behalwe dat die berader getuig het oor hoe haar eie ma haar man (hul pa) op ’n jong ouderdom aan die dood moes afstaan. En hoe haar ma, baie jare later, as ’n ou, bitter vrou gesterf het. Sy kon nie eens vreugde vind in haar kinders se gelukkige huwelikslewe nie.
Eintlik was haar ma kwaad omdat dieselfde soort geluk haar nie beskore was nie. Sy het toegelaat dat bitterheid in haar hart wortelskiet en alles oorgroei.
Die berader se vraag aan my was: “Leandi, is jy bereid om ook só dood te gaan, so bitter?”
Dié woorde het my geruk, want die seer en die bitterheid wou my in daardie stadium lewendig verslind.
Maar ek het besef dat ek ’n keuse het, en dit het ’n nuwe doelgerigtheid in my laat opstaan. Ek kon kies om óf in die wêreld terug te val, óf om God te dien.
Ek het besluit dat ek van toe af voluit vir die Here sou werk. Dat ek alles vir Hom sou gee. As die lewe dan so kort is, wou ek dat my lewe ’n verskil bring, ’n impak maak.
Dit is waarom ek in die teologie gaan studeer het, en vandag in die bediening staan.
Ek moes sterf in myself
Van hier af het my getuienis verander van “my storie” na “Jesus se storie”. My lewe het nie meer oor my gegaan nie, maar oor Hom.
Wat het dan verander? Voor Alphonso se dood het ek ’n wêreldse idee van God gehad. Ons hou mos van Romeine 8:28, waar Paulus sê dat die Here alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.
Maar wat is ons definisie van “goed”? En stem dit ooreen met God s’n?
Vir die meeste mense is “goed” gelyk aan gemak. Maar God se bedoeling met “goed” is om meer soos Hy te lyk. Daarom wonder ek hoe ons lewe sal verander as ons elke oggend opstaan en vra: In wat moet ek vandag sterf om meer soos Jesus te lyk, sodat iemand anders Hom in my kan raaksien?
Ons vra ook graag vir die vrug van die Gees – liefde, vrede, vreugde, geduld, sagmoedigheid – maar wanneer ons die moeilike pad moet stap wat hierdie eienskappe voortbring, het ons gróót vrae en beleef hewige wroegings.
Die feit is: Daardie vrug gaan nie ’n werklikheid word as ons nie in onsself sterf en meer soos Jesus word nie.
Mense sê ook dikwels: “Toemaar, Hy sal jou nie deur iets laat gaan wat jy nie kan hanteer nie.”
Ek stem nie daarmee saam nie. Want as ’n geliefde sterf en jy kan dit self hanteer, hoekom het jy dan ’n Vertrooster nodig? As jy ’n kankerdiagnose moet aanhoor en dis maar reg so met jou, hoekom het jy dan ’n genesende God nodig?
Ek het besef dat die Here nie wraaksugtig is nie; Hy bring nie slegte dinge op ons pad om ons te straf nie. Maar dit wat Hy met die “sleg” doen, is so mooi. En dit het my liefde vir Hom oorweldigend gemaak.
’n Tweede kans op liefde
Ná Alphonso se dood het die Here vir my ’n vriend gestuur, Schalk. Hy was ’n skouer om op te huil. Iemand wat my wou bystaan sonder dat ek daarvoor gevra het. ’n Mens wat my brose menswees gerespekteer het, sonder bymotiewe. ’n Man wat nie geïntimideer is deur my groot liefde vir Alphonso nie.
Mettertyd het ons vriendskap in ’n diep liefde ontwikkel. En vir ’n tweede keer het die Here my met ’n sielsgenoot geseën. ’n Droomman.
Ons is nou nege jaar lank gelukkig getroud en het twee pragtige kinders, Caleb (6) en Liefkeh (2). Schalk het my lief soos die Here sy bruid liefhet. Ek voel gekoester. En ek kan my voluit in my bediening uitleef, want ek het weer eens ’n man wat vir my bid, wat my liefhet en wat my bystaan.
Reg aan die begin van ons huwelikslewe het Schalk, sonder dat ek daarvoor gevra het, ’n lewensgrootte foto van Alphonso in die gang opgehang. Toe ek hom daaroor vra, het hy net geantwoord: “Alphonsie was deel van jou lewe, en ons kinders sal eendag weet hoe goed hy vir hulle mamma was.”
Vandag kan ek getuig: Wanneer ons Jesus in ons seer innooi, maak Hy daarvan die mooiste mooi. Uit my bitter pyn het daar hoop gegroei. Uit my grootste hartseer het daar blydskap gekom. En as die Here dit vir mý kon doen, kan Hy dit vir jou ook doen.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.






















