‘n Goeie ouer stel gesonde grense in plek, sodat kinders weet wat aanvaarbare gedrag is. Boonop laat reëls kinders veilig voel. In hierdie artikel het LiG vyf huisreëls neergepen – ‘n praktiese manier om kinders veilig te laat voel, maar ook om julle huishouding ‘n plek van (meestal) vrede en liefde te maak.
Ja, kinders gaan die grense toets. En huisreëls is nie ‘n klinkklare manier om jou kinders in hul spoor te laat trap nie. Dit is wel daar om hulle te begelei in die proses van grootword, sodat hulle uiteindelik gesonde, standvastige grootmense kan word.
Goeie huisreëls bevorder goeie waardes
Gewoonlik weerspieël huisreëls ‘n gesin se waardes. Die rede vir ‘n spesifieke reël is dikwels gegrond in wat ‘n gesin as belangrik ag. As liefde en respek vir die gesin ‘n kernwaarde is, dan moet ‘n reël dit bevorder.
Dit is ook belangrik dat die huisreëls vir almal geld – selfs vir ma en pa. Indien julle Christelike beginsels as julle kernwaardes ag, sal die onderstaande vyf reëls handig te pas kom. Gesels en onderhandel met jou kinders daaroor, en maak dit van toepassing op julle gesin se situasie.
Huisreël 1: Ons kyk na ons goed
Kinders wat van jongs af geleer word om besittings op te pas, sal hierdie verantwoordelike eienaarskap later in die lewe ook goed kan toepas. Dié soort houding word ook gekweek teenoor ander belangrike hulpbronne soos water en kos – ons mors nie daarmee nie.
God het, toe Hy die mens geskape het, vir ons die opdrag gegee om die aarde te bewerk en dit op te pas. As een van julle huisreëls is dat besittings opgepas word, sluit dit wonderlik aan by dié opdrag van God.
Huisreël 2: Ons behandel mekaar met respek
Toe die dissipels vir Jesus gevra het wat God die heel graagste wil hê dat ons moet doen, het Hy gesê dat ons mekaar moet liefhê. Respek spruit uit daardie liefde vir mense, en is ‘n huisreël in lyn met God se hart. Dit is die manier waarop ons met mekaar en van mekaar praat. Dit is die manier waarop ons ander mense in ag neem om hulle behoeftes raak te sien.
In ‘n huisgesin word daardie respek heel dikwels eers deur die ouers gemodelleer, en só sien kinders hoe dit gedoen word. Ongelukkig sien hulle natuurlik ook disrespek raak. As respek een van jou huisreëls is, moet jy as ouer jou uiterste bes doen om dit aan alle mense en veral jou gesinsmense te betoon.
Jesus se goue reël was dat ons aan ander mense moet doen wat ons graag aan onsself gedoen wil hê. Om mekaar met respek te behandel is dus ‘n wonderlike manier om hierdie goue reël toe te pas.
Huisreël 3: Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles
Ons mag balle gooi, ons mag hardloop, ons mag hard lag en ons mag oor toiletdinge praat. Maar al hierdie dinge gebeur op ‘n spesifieke tyd of plek.
Alle kinders toets graag die grense, en wanneer ons gedurig “nee” sê kan kinders voel dat hulle alles belet word en uit frustrasie net nóg meer ongehoorsaam raak. Met hierdie huisreël kan jy daardie gedurige “nee’s” en “moenies” omseil.
Ons mag balle gooi, maar ons doen dit buite. Ons mag hardloop, maar nie in die huis nie – eerder buite. Ons mag hard lag by die huis, en nie in die kerk nie. Ons mag oor toiletdinge praat, maar nie in die openbaar of in geselskap nie.
Is dit nie die wysheid van Salomo om jou kind te leer dat elke ding ‘n tyd en ‘n plek het nie?
Huisreël 4: Ons luister na Ma en Pa
Hierdie huisreël handel oor gesag. As Christene glo ons dat gesag deur God gegee word. Hy is die Hoof van ons huisgesin, en Hy het vir Pa en Ma gesag oor die kinders gegee. Die klem is hier op Goddelike gesag – liefdevol, regverdig en met genade.
Met hierdie huisreël speel die ouers se gedrag ‘n baie groot rol in die voorbeeld wat ons vir die kinders stel.
Ma, voer jy Pa se opdragte uit wanneer hy iets van jou versoek, of gaan jy hom gedurig teë? Pa, gee jy vir Ma kans om haar sê te sê en haar opinie te lug? Ons kinders hou fyn dop hoe ons as ouerpaar mekaar behandel. En dít is dan die gedrag wat hulle teenoor Ma en Pa handhaaf …
As ons Goddelike gesag goed verstaan, besef ons dat God die gesin met ‘n spesifieke gesagstruktuur gemaak het. As ons dié soort gesag toepas, bring dit ‘n groot seën vir die hele gesin.
Huisreël 5: Ons is lief vir Jesus en volg die Bybel
Een van die wonderlikste dinge van ouerskap is dat ons ons geloof met ons kinders kan deel. Om Jesus as hulle Verlosser te kies, is immers die heel belangrikste besluit wat hulle ooit sal neem.
Ons elkeen het egter ‘n sondige natuur, en daarom is ons afhanklik van God se hulp en die Bybel se riglyne. As jy as ouer self erns maak daarmee om God te leer ken, om Hom te dien in alles wat jy doen en vir sy eer te leef, sal jou kinders dit baie maklik vind om ook só te leef.
Ons volg vir Jesus en probeer van harte sy opdragte soos liefde vir mekaar, onselfsugtigheid en vergewensgesindheid toepas. En omdat ons Hom dien, weet ons dat Hy ook vergewe en genade betoon. Dít alles is deel van die huisreël waar ons vir Jesus lief het en die Bybel volg.
Lees gerus ook ons artikel oor die rol wat jy speel in jou kind se ontwikkeling.