Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Niemand is voorbereid op so ’n wrede aanval nie, maar God het ons krag gegee’

Renata de Vries (50) se lewe het op 10 Desember 2021 plotseling in ʼn nagmerrie verander. Koelenhof Wynkelder naby Stellenbosch het op daardie dag hul jaarlikse braai vir die werkers gehou, en minute nadat haar man Andrew (50) die seën op die ete gevra het, is hy met ʼn mes aangeval. Hy is op sy rug, skouers en in sy gesig gesteek.

Renata vertel: “Ek was enkele meters daarvandaan besig om liggies op ʼn krans te monteer nadat die Here aan my gesê het om ʼn ‘kring van lig’ in my huis op te hang. Ek het reeds die liggies gehad en het Andrew gevra om vir my ʼn krans van wingerdtakke te maak. Ek het ook op daardie dag dié boodskap uit die Johannes-evangelie ontvang: ‘Ek is die lig van die wêreld.’”

Renate se man Andrew het sy merkwaardige getuienis in die God se krag in my krisis-ateljee kom deel.

“Ek was nie bewus van dit wat ’n entjie van my af gebeur het nie. Skielik het my suster Liezel aangehardloop gekom en gesê dat ‘Swaertjie’, soos sy hom noem, seergekry het. In daardie stadium het hulle gedink dat iets op hom geval het. Sy het my aangesê om handdoeke te bring voordat ons die bakkie met Andrew daarin gevolg het. Ons het die spoedgrens geïgnoreer ten einde so gou moontlik by die hospitaal te kom.”

‘ʼn Veldbrand gebede’

Tydens die rit het Renata deurlopend gebid soos die Heilige Gees haar gelei het. Sy onthou dat sy gebid het vir “the replacement of Andrew’s blood with the blood of Jesus”. Dat sy woorde gebruik het soos “break the spirit of death”. Tussendeur het sy ʼn paar lede van hul gebedsgroep op Stellenbosch gekontak. En, soos sy dit stel, “ʼn veldbrand gebede het gevolg”.

Die hospitaalpersoneel wou Renata aanvanklik nie by Andrew toelaat nie. Hulle het gedink sy beserings is te grusaam om te aanskou; sy moes hom liefs nie sien nie. Omdat sy tong middeldeur gesny is en sy mond ook erg deurgeloop het, sou hy in elk geval nie met haar kon kommunikeer nie.

Andrew het kort ná die aanval sy getuienis oor dié gebeure met LiG gedeel. Hy is 15 keer deur sy aanvaller gesteek, het hy vertel. Dié man het, volgens hom, oë soos die duiwel s’n gehad. “Maar iewers in my geestesoog het ek gesien hoe die Vader goue vuurwerke aan my wys, hoe dit hemel toe skiet. Ek het besef dat dit baie, baie smeekgebede van medegelowiges is waarin gevra is dat my lewe gespaar word,” het Andrew destyds getuig.

Renata het op en af deur die hospitaal se gange gestap terwyl sy hardop gebid het. Sy het kort-kort by die ongevalle-afdeling ingeglip om vir haar man te bid en hom te bemoedig. Voordat hy teater toe is, het die dokters haar geroep en sy het weer vir Andrew gebid. Sy het ook vir hom gesê: “Andrew, ons moet vergewe.” Hy het geknik en sy het geweet hy het reeds sy aanvaller vergewe.

“Ons gesin het sedert 2011 elke oggend nagmaal gehou en die spreekwoordelike geestelike wapenrusting aangetrek. Ons glo dat Andrew daardeur beskerm is; hy is oral raakgesteek – behalwe in sy bors.”

LEES OOK: ‘Die hemel was oop vir my kind’ – vrou vind vrede ná man en kind se dood, én ’n beroerte

Later dié dag het ander familielede en etlike vriende by die hospitaal aangekom. Te midde hiervan het Renata stilte gesoek. Sy wou alleen wees, sy wou in God se teenwoordigheid wees. Hier het sy groot troos gevind.

Daardie eerste nag kon sy nie slaap nie. Sy kon ook nie meer bid nie. Al wat sy kon uitroep, was: ”Jesus! Jesus! Jesus!” Sy het ook ʼn boodskap ontvang dat hulle die plek moet skoonmaak waar die aanval plaasgevind het.

Sy en een van Andrew se goeie vriende het saam besluit hoe die skoonmaakproses hanteer moes word. Hulle het wyn uitgegiet waar Andrew aangeval is. Hulle het op ramshorings geblaas en aanbiddingsliedere gesing.

Renata vertel: “Die dag ná die aanval het die dokter my gekontak met die nuus dat ek en die kinders vir Andrew kan besoek. Carlo (22), Anika (19) en Andro (16) wou bitter graag by hom wees. Ek het die kinders voorberei op wat hulle te wagte moes wees. Ten spyte hiervan het al drie in trane uitgebars toe hulle hom sien.

“Onmiddellik het die monitors gewys dat Andrew se hartklop versnel en sy bloeddruk die hoogte ingeskiet het. Toe die hospitaalsuster hom vra of die kuier vir hom te veel is, het hy net sy kop geknik.”

Maar daardie Sondag is die ventilator verwyder en die gesin is uiteindelik herenig. Die kinders was baie bly om te sien dat hul pa aan ’t herstel was.

ʼn Klippie wat kringe maak

Renata het in hierdie tyd ook ʼn visioen gehad van ʼn klippie wat in die water val en kringe maak. God se boodskap aan haar was dat sy dit wat met Andrew gebeur het aan ander moes vertel. Sy het groepe geskep wat die boodskap kon verder dra.

Sy vertel: “Ek het twee keer per dag die boodskap opgedateer en telkens relevante inligting bygevoeg. Die mense wat dit ontvang het, het groot belangstelling in Andrew se vordering getoon. Van hulle het gevra dat ek elke dag gebedsversoeke moet aanstuur.

“Andrew se herstel was ʼn wonderwerk. Slegs sewe dae ná die aanval het hy uit die hospitaal gestap. Die gelowiges het ʼn laer om ons gesin getrek. Ons is met die mooiste blomme geseën. En met kos wat deur vriende aangedra is, asook deur talle mense wat ons minder goed geken het.”

‘Ek leef in oorwinning’

Die hekwag by Koelenhof, Stimela, is ook ernstig verwond. Die aanvaller het hom so erg in die gesig gesteek dat hy byna sy oor verloor het. Ook hy het goed herstel. Dit was ʼn vreugdevolle dag toe Andrew en Stimela kon bladskud nadat albei van hul beserings herstel het. Stimela werk steeds by Koelenhof Wynkelder.

Renata vertel dat die aanvaller ʼn tydelike werker by die kelder was. Sy onthou haar ontmoeting met hom: Sy was besig om rose uit te knip toe hierdie jong man die snoeisels met ʼn kruiwa kom haal het. Sy het hom gegroet en sy naam gevra. Hy het sy naam gesê, en gesê wat dit beteken – “remember”. Hy het bygevoeg dat sy ma hom geleer het om nooit die verlede te vergeet nie.

Renata sê sy het hieroor aanvanklik onrustig gevoel, maar later dié gevoelens opsy geskuif. Die man is uiteindelik tot 19 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Renata sê: “Ek is jammer vir hom. Ek bid dat hy die Here op sy reis sal ontmoet. Ons het hom vergewe.”

Andrew kon met sy tuiskoms nie sy regterarm gebruik nie. “Hy was soos ʼn baba,” onthou Renata. Sy moes hom aantrek en selfs sy kos vir hom fyner sny. Dit was vir haar ʼn voorreg, vertel sy. Tog het sy soms gewens dat hy nie veterskoene dra nie, en nie ʼn belt nie …

Andrew het ook emosionele skade opgedoen. Hy het, onder meer, erge nagmerries beleef. “Niemand is voorbereid op so ʼn voorval nie,” vertel hy. “Dit voel altyd asof sulke dinge ver van jou en jou geliefdes af is. Maar ek het gekies tussen slagofferskap en oorwinnaar wees. En deur God se genade leef ek in oorwinning.”

‘In volle afhanklikheid’

Renata vertel sy het deurentyd op God vertrou.“Ek het nog altyd geglo dat my lewe in die Here se hand is. Hy is my eerste liefde. Sedert die dag van my bekering het Filippense 4:13 vir my groot betekenis ingehou. Daar skryf Paulus: ‘Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.’

“Ek glo ook dat die Here niks oor jou pad sal bring wat jy nie kan hanteer nie. God gee sy kinders die krag om sulke dinge te oorkom. Dit was in daardie traumatiese tyd ook so. Waar ek swak was, was die Here sterk. Ek het Hom elke oggend gevra om my staande te hou. Ek het in volle afhanklikheid van my Skepper geleef.

“Omdat ek nie geweet het waarop die krisis afstuur nie, het ek my aan God se bonatuurlike krag onderwerp. En ek het deurgaans gevoel dat Hy my as ’t ware ‘bo’ die situasie geplaas het. Ek het nooit moeg gevoel of geïrriteerd geword nie. Ek het op ʼn hoë geestelike vlak beweeg.”

Renata sê die aanval op Andrew het ʼn groot impak op hul gesin gemaak. “Die aanval en wat daarop gevolg het, het ons vir seker ook nader aan mekaar gebring. Die feit dat almal terapie ondergaan het, het ons gouer laat genees. Die aanval was ook nooit ʼn taboe-onderwerp in ons huis nie. Elkeen het wel ʼn eie proses deurloop om die gebeure te verwerk.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►