Die afgelope tyd praat almal oor die brandstofprys; niemand weet waar dit gaan eindig nie! Baie mense op Facebook deel ander lande se brandstofpryse en vra dan hoekom ons so baie vir brandstof moet betaal … Iemand sê net gister dat Botswana se brandstofprys die helfte van ons s’n is.
Ek gooi nou die dag brandstof in my kar by die naaste Engen-vulstasie, en ek sien die volgende woorde wat teen die brandstofpomp geplak is: “Please hand in your keys to the petrol assistant. Sorry for any inconvenience due to others stealing petrol.” Ek vra toe vir die petroljoggie wat die storie is, en hy vertel vir my dat mense hulle voertuie vol brandstof maak en dan wegjaag sonder om te betaal. Ek glo dit gebeur omdat brandstof nou so duur is.
Die werklikheid dat Suid-Afrika in chaos gedompel is, skok my. En hier verwys ek nie net na die brandstofprys nie, maar ook na die drastiese toename in transitorooftogte, die dreigende grondgrype, plaasmoorde, en so kan ek aangaan. Suid-Afrika skroei en brand!
Geweld is egter nie iets wat onlangs eers kop uitgesteek of toegeneem het nie. As ek aan die Ou Testament en die wreedaardigheid van sekere gevegte dink, besef ek dat geweld nog altyd daar was. Die verhaal van Saul wat vir Dawid wou doodmaak, kom by my op. En die makabere verhaal in Levitikus 19 – gaan lees dit gerus; dit tref jou met ’n hamer tussen die oë.
Ek verstaan nie alles wat in hierdie land of in die wêreld of selfs in my buurt gebeur nie. Ek vra dikwels vir die Here om vir my die pad te wys. Maar onlangs het ek my gebed verander deur vir God te vra dat ek myself eerder in Hom sal verloor, want as ek verlore is ín Hom, dan is ek eintlik … gevind. Ek verstaan nie hoe God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet nie, en hoekom sekere dinge gebeur en ander nie, maar ek berus daarby dat Hy ’n plan vir sy wêreld het.
God het nie ’n vervaldatum nie, al glo baie mense dat Hy nie in Suid-Afrika (of in die wêreld) te vind is nie. Hulle sê hulle sien God nêrens nie. Dit glo ek nie. Toe ek die week aan die hoë brandstofprys dink, het ek ook gedink aan die hoë prys wat Jesus vir my en jou aan ’n vloekhout betaal het. Aan daardie kruis is ons verlos sodat ons kan leef! Toe ek dít besef, het die brandstofprys my nie meer so baie ontstel nie. Die God wat nog altyd gesorg het, sal steeds sorg. Die Here Jesus sal vir Suid-Afrika ook uitkoms bied.
Hy wat tyd gemaak het vir blindes, stommes, dooies, prostitute, skelms – Hy is steeds in beheer en die Outeur van die lewe. Ek glo dit.
Ek glo ook dat ons as gelowiges moet vasklou aan die lewende woorde wat God spreek: lewe, hoop, vertroue, genesing, uitkoms. Ek hoop jy kan dit saam met my uitroep.
- Dr Nico Smit is ’n leraar en kliniese berader by Dalpark-gemeente aan die Oos-Rand, waar hy verantwoordelik is vir die pastorale versorging. Hy is ook ‘n skrywer – bestel sy boek Ek weet dit alte goed hier.