*Hooffoto van Annamarie en haar tweede man André Kruger met wie sy vandag gelukkig getroud is.
As iemand my op my troudag vertel het wat die daaropvolgende paar jaar sou plaasvind, sou ek dit nooit geglo het nie.
Alles het halsoorkop gebeur: In minder as ’n jaar het ons verlief geraak, en verloof. Ons het getrou en swanger geraak. Maar soos in die fliek Enough het ek al die gevaartekens gemis.
Aanvanklik het dit goed gegaan, maar reeds tydens my swangerskap het die buite-egtelike verhoudings begin. Ons eersteling is ’n jaar ná ons troue gebore, en ek en my baba was dikwels aan ons eie genade oorgelaat terwyl my man “gewerk” het.
Die alkoholmisbruik het net erger geword – totdat hy een aand sy hand vir my gelig het. Ek het die volgende oggend se “jammer” aanvaar, maar van toe af het die intensiteit en die frekwensie van die mishandeling toegeneem.
Sommige dae kon ek nie werk toe gaan nie; ek het maar gebel en gekla oor ’n omgekrapte maag. Dan het ek by die huis gebly totdat daar geen merke of ander sigbare tekens meer was nie.
Saans, terwyl ek so mishandel is, het die twee kinders stilletjies in een bed geklim en gelê en luister na wat in die kamer langsaan aan ’t gebeur was. Ek het dit nie geweet nie. Die bure, het ek ook later verneem, het in die donker in hul kombuis gestaan en luister, te bang om in te gryp.
Dit was egter juis in daardie tye dat ek God se teenwoordigheid beleef het. Wanneer ek snags wakker gelê het, gewag het dat hy huis toe kom, het ek begin bid. Wanneer ek die voertuig in die straat hoor aankom het, het ek met ’n hart vol vrees gepleit dat God my en my kinders moet beskerm.
Ure later het die man, dikwels uitgeput, op die bed neergesak en aan die slaap geraak. Maar ek kon nie slaap nie, my liggaam was te seer en my hart was vol pyn. Ek was egter ook dankbaar, want ek het geweet die Here het ons deur nog ’n nag gedra. Hy het my gebede beantwoord.
‘Jy begin glo jý is die probleem’
Die jare het aangestap. Almal was versigtig vir hom. En die beheer, manipulering en geweld het my wêreld verskraal tot my werk, en die volkome isolasie by die huis.
Mense vra dikwels waarom ’n vrou by so ’n man bly. Die waarheid is dat mishandeling nie net jou liggaam aantas nie, maar ook jou selfvertroue. Jy begin glo jý is die probleem. En jy bly hoop dat die beloftes van verandering tog dié keer waar sal word. Jy leef tussen vrees, skuld en hoop.
Vandag begryp ek dat dit deel van die siklus van mishandeling was.

Die oomblik van waarheid het vir my aangebreek toe ’n familielid gevra het: “As die kinders eendag groot is en hulle vra jou waarom jy hulle en jouself in daardie situasie gehou het, wat gaan jy antwoord?”
Dit het my diep geraak. Baie vroue reken dan juis hulle bly ter wille van die kinders. Maar, het ek toe besef, dalk is dit die grootste fout wat jy kan maak.
LEES OOK: 20 jaar ná tragedie: ‘Ek het hulpeloos toegekyk hoe hy my drie kinders vermoor’
Een nag het alles net te veel geword, en ek het wakker gebly en planne gemaak. Vroeër het iemand by die werk’n artikel oor hoe om ’n interdik teen gesinsgeweld te bekom oor my tafel in die kantoor geskuif. En daardie nag het ek besluit dat ek tot aksie sou oorgaan.
Teen daardie tyd was ek ’n senuweewrak en het antidepressante gebruik. My kinders het gely: Die oudste, toe so sewe jaar oud, was stil en soms emosioneel. Die jongste, toe drie, was onrustig en huilerig wanneer ek hom soggens by die kleuterskool gaan aflaai.
Toe ons uiteindelik uit daardie situasie kon ontsnap, het ons drie in ’n kothuis ingetrek. Dit was klein, maar daar was vrede. Ons het nie baie besittings gehad nie en finansieel gesproke het dit swaar gegaan.
Maar vir die eerste keer in baie jare kon ons vryelik asemhaal. Wat ’n voorreg was dit om in ons huisie in te stap sonder enige vrees oor wat die aand sou voorlê. Ons drie het gesing: “This little light of mine, I’m gonna let it shine …” Ons het gedans, slaaptydstories gelees en rustig en veilig aan die slaap geraak.
Ek het weer begin leef.
Jou identiteit word nie deur mishandeling bepaal nie
Ek het ontdek dat genesing nie oornag plaasvind nie. Sommige oggende het ek steeds angstig wakker geword. En soms het allerlei vrae en skuldgevoelens my oorval.
Maar elke keer het die Here my weer opgetel. Hy het my geleer dat my identiteit nie deur mishandeling bepaal word nie, maar deur wie ek in Christus is. Stadig maar seker het Hy die stukkende plekke in my hart begin herstel.
Ons het begin om Vrydagaande na ’n kleingroepbyeenkoms van ons kerk te gaan. Ek onthou hoe ek daardie eerste keer straataf gery en die straatligte gesien het. Die gevoel van vryheid, van om veilig tussen ander mense te wees, was ’n genade-geskenk.
Daar was wel ook moeiliker dae, en ek het eendag moedeloos voor die Here gaan sit en gevra vir iets om aan vas te hou, ’n belofte uit sy Woord. Hy het my na Jesaja 61 gelei, waar onder meer geskryf staan: “Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder … hulle sal die eeue-oue puinhope opbou … verwoeste stede weer opbou.”
Ek het vrede gevind en geweet dat die Here steeds ’n plan met my lewe het. Ek het bly bid, en die Here het my na Jesaja 55:12 gelei: “Julle sal met blydskap uittrek en in vrede gelei word.”
Daardie woorde was soos ’n anker aan my hart. Ek het geweet die Here belowe nie net ’n einde aan my swaarkry nie, maar ook ’n nuwe begin vir my en my kinders.
Wanneer ek nou op alles terugkyk en sien hoe die Here my gelei en geleer en beskerm het, kan ek nie ophou om Hom te loof en te eer nie. Hy het my nooit gelos nie. En ek het besef dat as jy jou vertroue in Hom stel en glo dat Hy is wie Hy sê Hy is, sal jy nooit teleurgesteld wees nie. Hy is ’n waarmaker van sy woord.
Hy het my die voorreg gegee om nou met ’n wonderlike man André Kruger (sien hooffoto) getroud te wees, iemand wat Hom liefhet, wat my met respek behandel en wat saam met my dien. Ek het baie jare lank gedink ek sou nooit weer iemand anders kan vertrou nie, maar God het ook daardie wond genees.
Ek het geleer dat Hy nooit die mishandeling goedgekeur het nie. En Hy was nooit afwesig nie; Hy was saam met my in die donkerste nagte. Hy het my nie veroordeel omdat ek bang was nie. Hy het my stap vir stap uit die donker gelei.
‘Al leef jy in vrees, is daar hoop’
Aan die begin van 2025 het ek my bediening as ’n Christelike traumaberader formeel betree toe ek by ons kerk se beraderspan aangesluit het. Sedertdien kan ek iets van Christus se liefde met stukkende vroue deel en saam met hulle die pad na herstel en genesing stap. Ek is besig om my studie in berading te voltooi en ek vertrou die Here dat ek aanstaande jaar my graad sal verwerf, en dalk selfs ’n addisionele jaar se studie aanpak.
Ek sien hoe die legkaartstukkies die een ná die ander in mekaar pas. Ek staan in verwondering voor die Here se almag. Hy het hoop en troos aan my gegee, en ek wil graag ’n instrument in sy hande wees om dieselfde soort hoop en troos aan ander vroue te bring. Aan sy liefde is daar geen einde nie!
As daar ’n vrou is wat vandag hier lees en wat steeds in vrees lewe, wil ek hê jy moet weet dat ek, soos baie ander vroue in jou posisie, jou gevoelens verstaan. Ons weet daar is mense in jou omgewing wat jou nie sal glo as jy hulle alles vertel nie. Ons weet ook hoe dit voel om bang te wees vir môre.
Maar ek wil jou verseker: Daar is hoop. Jy hoef nie hierdie pad alleen te stap nie. God sien jou. En daar is mense wat jou wil help. Jy is meer werd as wat jy vandag dink en glo. Luister na Jesus se woorde in Matteus 10:29-31, en weet hoeveel jy vir Hom werd is.
Toe ek jonger was, het ek nooit kon dink dat God op ’n dag my verhaal sou gebruik om aan ander vroue hoop te gee nie. Ek dank Hom dat Hy dit doen. Hy het my gewys hoe hy herstel en genees. Hoe hy nuut begin bou. Alle eer aan Hom!
Annemarie gee raad aan vroue in soortgelyke omstandighede:
- Jy is nie skuldig nie en jy is nie alleen nie. Mishandeling – fisiek, emosioneel, verbaal, finansieel of geestelik – is nooit jou skuld nie.
- Skep ’n veiligheidsplan. Hou noodnommers, sleutels, medikasie, afskrifte van belangrike dokumente en ’n noodtas op ’n diskrete plek. Reël vooraf vir ’n veilige skuilplek by ’n vertroueling of ’n skuiling.
- Soek beskerming en regsadvies. ’n Interdik/beskermingsbevel kan jou en jou kinders se veiligheid drasties verbeter. Doen navraag by die plaaslike landdroshof, SAPD, maatskaplike dienste of ’n regsberader oor die proses en die vereistes.
- Dokumenteer alles. Skryf datums neer, en voorvalle, dreigemente en beserings. Neem foto’s waar moontlik, bewaar mediese verslae en kommunikasie. Dit sal jou help met die regsprosesse.
- Bou ’n ondersteuningsnetwerk. Vertrou iemand met die waarheid – ’n vriendin, ’n familielid, ’n leier by die kerk, ’n berader, ’n onderwyser. Isolasie is ’n werktuig van misbruik; gemeenskap is ’n werktuig van genesing.
- Sorg vir jou kinders se emosionele welsyn. Praat eerlik met hulle, en op ’n ouderdomsgepaste manier. Reël berading vir hulle, en skep bepaalde roetines wat hul gevoel van veiligheid versterk. Kinders herstel beter wanneer daar minstens een betroubare volwassene in hul omgewing is.
- Roep professionele hulp in. Trauma-bemiddeling en pastorale-/kliniese berading help jou om skaamte, skuld en vrees te verwerk, om jou oor grense te leer, en om jou te leer om weer te vertrou. Genesing is moontlik, maar dit verg tyd en vereis meestal begeleiding.
- Anker jou hart. Hou vas aan God se Woord en sy beloftes. Bid saam met mense wat vir jou kan en wil intree. Koester dit wat jou siel stil maak – gebed, musiek, die natuur, die byhou van ’n joernaal, enige soort beweging.
- Gee klein, haalbare treë. Jy hoef nie alles in een dag reg te maak nie; elke goeie besluit is vooruitgang. Vier jou oorwinnings, al is dit hoe klein.
- Hoop is meer as ’n gevoel; dis ’n rigting. Jou verhaal kán omgedraai word. Vrede in jou huis en jou hart is nie ’n luukse nie; dis jou reg.
- As jy in direkte gevaar verkeer, verlaat die situasie dadelik indien dit vir jou moontlik is. Skakel noodhelpers. In Suid-Afrika is dit 10111 (SAPD); 112 vanaf ’n selfoon; of die GBV-opsporingslyn 0800 428 428.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















