Marietjie Boshoff (54) se toewyding aan haar gestremde seun is grensloos. “Hy bly my kind,” sê sy deurentyd.
Die 32-jarige Nico is ná jare se dwelmmisbruik volledig afhanklik van haar. Hy is in 2024, as gevolg van dié misbruik, met toksiese geïnduseerde leuko-enkefalopatie gediagnoseer. Vanweë die skade aan sy senuweestelsel en ’n verlies aan breinfunksie is hy permanent gestrem, fisiek én kognitief.
“Sy verhaal het ’n lang aanloop,” vertel Marietjie. “Nico was die eerste kleinkind in ons familie. Sy grootouers het hom baie bederf, veral my man se ouers. Nico was meer op die plaas by sy oupa Thys en ouma Babs as by ons huis. Daar het ’n baie hegte band tussen hulle ontstaan.”
In 2006, toe Nico 13 jaar oud was, is sy geliefde oupa in ’n plaasaanval vermoor. Sy ouma is erg beseer. Dit het Nico emosioneel geknou. Die SAPD het ’n berader beskikbaar gestel, maar Nico wou nie saamwerk nie. Hy het hom heeltemal afgesonder en kon die gebeure glad nie verwerk nie.
Aggressie, leuens, en ’n persoonlikheidsverandering
“Aan die begin van die nuwe skooljaar het die sweer oopgebars. Hy was baie aggressief en gereeld in ’n bakleiery betrokke. In die middel van sy graad 10-jaar het die aggressie heeltemal handuit geruk.
“Ons het besluit om hom by ’n kleiner skool in te skryf waar hy hopelik meer individuele aandag sou ontvang. Hoewel dit toe beter gegaan het, het Nico baie dinge vir ons weggesteek. En ten spyte van die aanvanklike beter uitslae het die aggressie weer kop uitgesteek.”

In graad 11, tydens ’n belangrike eksamen, het Marietjie besluit dat Ritalin die aangewese hulpmiddel is om sy konsentrasie te verbeter. In daardie stadium het sy soms deurnag gewerk om Nico met sy agterstand te probeer help.
Dit het gelyk asof die Ritalin doeltreffend was. Maar eintlik was dit bloot die spreekwoordelike stilte voor die storm.
“Die dag toe Nico sy groot eksamen moes skryf, het ek ’n oproep van die onderwyseres gekry. Sy het gesê dat Nico nie by die skool opgedaag het nie.
“Hy het toe wel later daar aangekom. Maar ons het nie ’n idee gehad dat hy dwelms gebruik het nie. Hy het gaandeweg ’n persoonlikheidsverandering ondergaan. Hy het ook baie gewig verloor.
“Ek sê altyd dat ’n verslaafde se ma oornag in ’n speurder verander. Ek het sy kamer gereeld deursoek en het allerlei pype en stukkies foelie daar gevind. Maar om hom te laat toets, was nie maklik nie. Hy wou eenvoudig nie saamwerk nie.
“Hy het minstens 12 jaar lank dwelms gebruik. Toe hy so opsigtelik verslaaf was, het ek deurentyd probeer om die dwelms op te spoor. Maar ek moes magteloos toekyk hoe hy agteruitgaan, hoe hy bly gewig verloor. Ek het elke dag gesien hoe ek my kind stelselmatig verloor. My hart het gebreek.”

Inplantings, wat hom tydens sy dwelmgebruik bitter siek sou maak, het nie gehelp nie. Ook nie Methadone, wat dikwels in so ’n situasie gebruik word, het ’n verskil gemaak nie. “Eintlik,” sê Marietjie, “was die gebruik van Methadone ’n reusefout. Dit het hom presies dieselfde gevoel as dwelms gegee, en kort voor lank het hy ook daarna gesmag.”
’n Meesterlike manipuleerder
“In ’n stadium was Nico een en ’n half jaar lank ‘skoon’. In dié tyd het hy verloof geraak. Ek het die nuwe verloofde voorberei op die feit dat sy Nico nooit sou kon rehabiliteer nie.
“Elke keer as hy teruggeval het, het hy ons vermy. As ons hom gekontak het, het hy ons verwyt oor ons aandeel in sy verslawing. Baie gou het hy ’n meesterlike manipuleerder geword.
“Uiteindelik het sy verloofde hom verlaat; sy het nie langer kans gesien nie.”
Marietjie vertel dat Nico nooit by hulle gesteel het om sy verslawing te voed nie. “Hy het genoeg geld verdien om dit self te kon doen. Hy het egter nooit geld vir enigiets anders gehad nie; alles is aan dwelms uitgegee. Dwelms was sy fokus, sy prioriteit.”
Omdat Nico dikwels laat by die werk opgedaag het, en soms glad nie, het hy uiteindelik die werk verloor.
Hy is terug na sy ouerhuis. Dit was nie vir Marietjie of haar man Nico sr (58) maklik nie. Trouens, elke dag was ’n uitdaging.
Oplaas het hulle besluit om hom na ’n rehabilitasiesentrum te stuur. Daar is toe gereël dat hy by die Bread of Life-sentrum in Sabie opgeneem word. Die sentrum het daarop aangedring dat Nico eers moes “skoon” kom. Dit was ’n baie stresvolle tyd omdat Nico enigiets onder die son sou doen om nie van sy dwelmgebruik afstand te doen nie. Hy het letterlik oor mure gespring om by ’n verskaffer uit te kom. Daarby het van die werkers hom gehelp om dit in die hande te kry. Dit was hierdie soort verraad, sê Marietjie, wat hulle baie seergemaak het.
Einde ten laaste wou Marietjie en Nico sr ’n hofbevel bekom om te verseker dat hul seun na die sentrum toe sou gaan. Die “meesterlike manipuleerder” het hulle egter daarvan oortuig dat sulke drastiese optrede nie nodig sou wees nie.
By die rehabilitasiesentrum is al die reëls aan hulle voorgelê, ook dié oor die verbod op kommunikasie. Die ouers was oneindig verlig. Uiteindelik kon hulle, al was dit voorlopig, afstand kry van die situasie.
’n Slinkse plan
“Maar twee weke later ontvang ons ’n oproep van Bread of Life om te sê hulle is bewus daarvan dat Nico elektriese heinings kan diens. Hulle het toe gevra of ons die nodige gereedskap aan hom sou stuur, sowel as sy horlosie.

“Min het hulle, en ons, geweet dat die horlosie ’n kompas gehad het wat hom sou help om in die regte rigting te vlug. En die gereedskap is aangewend om die elektrisiteit te ontkoppel sodat hy deur die heining kon ontsnap.”
Bread of Life het Nico die volgende dag opgespoor, maar dié keer het hy geweier om heropgeneem te word. Omdat sy ouers hulle vroeër laat oortuig het dat ’n hofbevel onnodig is, was hul hande afgekap.
“Ons wou regtig nie weer vir Nico huis toe neem nie,” vertel sy ma. “Hy het hom egter goed gedra en het selfs weer begin werk. Maar dit was nie lank nie of hy is daar ontslaan. Ek het dadelik die ergste vermoed, en dit wás toe so: Nico het positief getoets vir heroïengebruik.
“Sy aggressie het weer opgevlam en hy het eendag ’n mes in die kombuis gegooi wat my rakelings gemis het. Hy het nie meer saans huis toe gekom nie. Hy het doodeenvoudig nie omgegee nie. Hy was maer en baie bleek.”
Onheilspellende simptome, en ’n diagnose
Marietjie vertel verder: “Ons het opgemerk dat Nico onduidelik praat, maar dit aan die dwelmgebruik toegeskryf. Hy was ook onvas op sy voete.
“’n Dwelmtoets het egter uitgewys dat hy ‘skoon’ was. Daarop het Nico ingestem om dokter toe te gaan, waarna ’n CT-skandering gedoen is. Ons is na ’n neuroloog verwys.
“Hy was 30 jaar oud toe hy met erge breinskade gediagnoseer is. In daardie stadium was hy nog mobiel. Hy het egter vertraagde onttrekking ervaar en ons het ’n volle tien dae lank nie geweet of hy dit sou oorleef nie.”
Nico kon nie meer sluk nie, en hy het so erg verstik dat ’n abses in sy longe gevorm het en hy geopereer moes word. Hy was meer in die hospitaal as by die huis. Marietjie het deurentyd by sy bed gewaak.
“Ons het jare lank vir ons kind gebid. Die Here het vir Nico in ’n droom bevestig dat hy eendag weer sou loop. En sedert die einde van 2025 was daar ’n positiewe wending. Nico is nou meer gefokus en hy kommunikeer meer met my, weliswaar op ’n beperkte manier.”
Marietjie se dae is lank, en haar toewyding ongeëwenaard. Sy sê sy sal nooit opgee nie. Sy en Nico waarsku gereeld teen die gebruik van dwelmmiddels op haar Facebookblad. Nico het onlangs die volgende in ’n video-opname gesê: “As jy net een keer probeer, is jy verslaaf. Moenie, asseblief! Dis te laat vir my, maar nie vir julle nie.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















