’n Verjaardag is ’n geleentheid wat behoorlik gevier word, en waartydens geskenke ontvang word. Maar Laerskool Eversdal in die Kaapse noordelike voorstede het besluit om tydens hul verjaardagvieringe geskenke uit te deel.
Die skool se leuse is “Ons gee” – en met dié uitgangspunt het die Eversdal-skoolgemeenskap besluit om hul 50ste bestaansjaar op ’n besonderse manier te vier: ’n finansiële hupstoot aan 50 verdienstelike organisasies. Daarom het hulle baie moeite gedoen met hul jaarlikse fondsinsameling.
“Hierdie jaar is ons skool 50 jaar oud,” sê Joné Burger, een van die skool se hoofleiers, “en ons ‘gaan groot’! Ons skool se leuse herinner my daaraan dat jy moet gee eerder as ontvang.”
Die totale opbrengs van hul fondsinsameling was ’n volle R358 500, wat gelykop tussen die 50 begunstigdes verdeel is. Elke organisasie het dus R7 170 ontvang.

Die organisasies wat as begunstigdes aangewys is, doen almal goeie werk, hoewel uiteenlopend van aard. Daar is wel dié gemene deler: Elkeen maak ’n verskil in die lewe van kinders, gesinne en kwesbare gemeenskappe in Suid-Afrika.
Meer as geld
Volgens Salomina du Plessis, organiseerder van die fondsinsameling, het die projek uit die staanspoor oor meer as geld gegaan. “Ons het gereken dat Laerskool Eversdal se 50ste bestaansjaar meer as bloot ons eie vieringe moet behels; dit moet ook ’n geleentheid wees om ons leuse op ’n tasbare manier uit te leef.”
Die DAMUS-projek – na die Latyn vir “ons gee” en reeds in 1976 so genoem – behels ’n fondsinsameling wat afgesluit word met ’n speletjiesaand waarby die hele skoolgemeenskap betrek word. Jemma Lotter, ook ’n hoofleier by die skool, sê dat sy altyd die groter prentjie sal onthou, en weet dat jy met klein dade ’n groot verskil kan maak. “Ek sien altyd uit na DAMUS-aand, waar jy met jou maats kuier en lekker speletjies speel. Volgende jaar, wanneer ek in die hoërskool sal wees, sal ek DAMUS baie mis. Maar ek sal die waardes wat Eversdal my geleer het met trots uitleef. Ons maak al 50 jaar lank ’n verskil – en dit voel goed.”

Tydens die DAMUS-fondsinsamelingmaand het Laerskool Eversdal elke dag twee van die 50 begunstigde organisasies op die skool se sosiale media-platforms bekendgestel. Op dié manier het die projek nie net help geld insamel nie, maar ook buitestanders se aandag gevestig op die groot werk wat agter die skerms gedoen word. Verteenwoordigers van St Joseph’s Special School, een van dié organisasies, het vanjaar se DAMUS-aand bygewoon.
LEES OOK: Gestremde seun waarsku teen dwelms: ‘Moenie, asseblief! Dis te laat vir my, maar nie vir julle nie’
Salomina sê: “Dit was báie besonders om te kon sien hoe ons ouers en voogde, die onderwysers en die gemeenskap hierdie projek omarm het. Die geld wat ons aan die organisasies kon skenk, is baie belangrik. Maar ons wou ook vir hulle ’n platform gee. Ons wou hê ons skoolgemeenskap moes kennis maak met die mense en organisasies wat elke dag, dikwels stilweg, ’n enorme verskil in ander se lewe maak.”
’n Skool se nalatenskap
“Ons is besónder trots op wat ons skoolgemeenskap bereik het,” sê Gys Burger, Laerskool Eversdal se hoof. “Ons wil hê ons leerders moet verstaan dat sukses nie net gemeet word aan wat jy bereik nie, maar ook aan wat jy bereid is om vir ander te beteken. Ons hoop ons leerders sal eendag volwassenes wees wat waardes koester soos omgee, deernis, diensbaarheid en vrygewigheid.”

By Laerskool Eversdal is die skool se 50ste bestaansjaar dus nie bloot ’n viering van die afgelope vyf dekades se sukses nie; dis ook ’n herinnering daaraan dat ’n skool se nalatenskap veel verder strek as klaskamers, sportvelde en die skoolterrein.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















