Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Dis ’n verlies wat nie einde het nie’ – kliniese sielkundige oor haar kind se selfdood

Ansie Gous, ’n kliniese sielkundige in Roodepoort, was verslae toe haar 16-jarige dogter aan selfdood gesterf het. En dít nadat dit gelyk het asof haar erge depressie aan ’t verbeter was. Maar ná jare het haar hartseer uiteindelik vrede geword, haar woede genade en haar pyn liefde.

“Ek het die donker nag in geloop om die son te sien opkom. Ek het met die Here geworstel oor ‘hoekom?’ Ek het nie verstaan nie.”

Só beskryf Ansie Gous (73) die eerste nag nadat haar 16-jarige dogter aan selfdood gesterf het.

Daardie nag het die gebroke ma wel iets ervaar wat haar ’n flentertjie vrede besorg het. “Dít het by my opgekom: Wat ek wel verstaan, is dat ek die Here en my naaste en myself moet liefhê – en dit is al wat ek hoef te verstaan. Die bevestiging hiervan het aan my ’n stukkie vrede gegee.

“Skielik het die môrester verskyn, groter en helderder as wat ek dit nog ooit gesien het. Onmiddellik het ek Christus se woorde in Openbaring 22:16 onthou: ‘Ek is … die helder môrester.’ Ook dit het vrede gebring. ’n Vrede vol van die belofte dat die Here ons hierdeur sou lei en dat dit met ons beter sou gaan.”

‘Dié keer was dit my eie kind’

Janie was Ansie se jongste dogter, een van vier kinders. Ansie se familie het aan albei ouers se kant ’n geskiedenis van depressie.

LEES OOK: Vyf jaar ná Zara se selfdood: ‘Jy is met ’n pyl geskiet – en dit bly seer’

Janie se depressie is deur ’n paar faktore gesneller, onder meer: Sy was in die Gautengse span vir ritmiese gimnastiek, maar sy het ’n kniebesering opgedoen en moes die sport vaarwel toeroep. Dit het haar liggaamsbou beïnvloed. Haar borsmaat het vergroot en sy het toe ook ’n abses in een van haar borste ontwikkel. Dit was vir haar baie sleg.

Sy het in dié tyd ook ’n vriend in ’n motorongeluk verloor. Daarby het een van haar beste vriende ’n hoofbesering in ’n rugbywedstryd opgedoen.

Al dié gebeure het groot ontsteltenis by Janie tot gevolg gehad. “Janie het baie vinnig depressief geword,” vertel haar ma. “Ek kon die tekens gou identifiseer aangesien ek ’n kliniese sielkundige is. Lusteloosheid, geïrriteerdheid, depressiewe gevoelens, huilerigheid en ’n ongekende moegheid het as ’t ware Janie se lewe oorgeneem.

“Ons het haar later uit die skool gehaal, en sy was ook ’n week lank in die hospitaal. Sy is deurentyd deur sowel ’n psigiater as ’n sielkundige behandel, en sy het voorgeskrewe medikasie gebruik.

“Maar Janie het aan ’n weerstandige depressie gely en het toe reeds ’n derde reeks antidepressante gebruik.

“Een aand het sy op my skoot kom sit en haar gevoelens met my gedeel. Twee ure lank. Dit was vir my baie swaar om te sien hoe my kind ly. Al was dit vanweë my beroep nie vir my vreemde gedrag nie, was dit dié keer my eie kind.

“Janie was altesaam vyf weke lank uit die skool. Skielik, ’n week voor haar dood, het sy besluit om haar huiswerk in te haal. Sy het ook beter voorgekom. Ek het die gevoel gekry dat die depressie besig was om te lig. In daardie stadium was die opflikkering egter te wyte aan haar besluit op selfdood.

“Ons het haar ses weke lank opgepas, letterlik 24 uur per dag, omdat sy ’n selfdood-risiko was. Toe sy uiteindelik wel daaraan gesterf het, was ek verslae. Ek was so oortuig daarvan dat die depressie gedraai het …

“Daardie nag kon ek nie slaap nie. Ek het geveg met die wete dat ons almal vir haar gebid het. Sy het ook vir haarself gebid. Hoe kón dit dan met ons gebeur?”

Woede teenoor God, én …

Ansie vertel hoe dikwels sy vir God kwaad was. Haar en Janie se gunsteling-Bybelvers was 1 Korintiërs 10:13, wat onder meer só lui: “Die Here sal jou nie bo jou kragte versoek nie.” Janie het voor haar dood aan haar ma gesê dat sy wel bo haar kragte versoek word …

In Janie se joernaal het Ansie later gelees dat sy ’n teken by God gesoek het om haar besluit op selfdood te bevestig of nie. Volgens Ansie is ’n depressiewe mens soms irrasioneel. Sy sien dit dikwels in haar praktyk.

Ná Janie se dood was Ansie ook kwaad vir haar. Sy het immers beloof dat sy nie haar eie lewe sou neem nie. “Ek was ook woedend vir myself dat ek nie die sogenaamde ‘beterskap’ gesien het vir wat dit was nie.

Kyk ook na die LiG Getuig-podcast van Stephan Malherbe wat sy pad deel nadat sy dogter vyf jaar gelede selfdood gepleeg het.

“My brein het probeer sin maak van hierdie pynlike gebeure. Dis maar ’n onderhandelingsfase waarin jy probeer dink wat jy kon gedoen het om die tragedie te voorkom. Dit is een van rou se simptome. Dit verteenwoordig ’n behoefte om die pyn om te keer.”

Almal drenkelinge

“Om ’n kind te verloor is ’n verlies wat nie ’n einde het nie. Jy word voortdurend gekonfronteer met gedagtes oor hoe jou kind nou sou lyk. Jy verloor ook ’n belangrike deel van jou toekoms. Eensklaps was ek nie meer ’n ouer van vier kinders nie.

“In daardie tyd het ek my praktyk gesluit. Ek was onseker oor my identiteit. Wie was ek nou?

“Ek het ’n sielkundige gaan spreek wat my met my skuldgevoelens gehelp het. In stede van ’n gevoel dat ek Janie gefaal het, is die ander kant van die munt beklemtoon, naamlik dit wat ek wel vir haar gedoen het toe sy nog geleef het.”

Ansie vertel dat dié ellendige gebeure die hele gesin geraak het. “Ná ’n kind se dood is almal drenkelinge, ook die sibbe. Met etenstyd het die kinders elkeen ’n eie rigting ingeslaan om sodoende Janie se leë stoel te vermy.

“Dit het later gevoel asof ek my gesin verloor het. My kinders het ook hul ouers verloor omdat ek en my man Henk in ons pyn verdrink het. Kinders vrees dat hul ouers nie die smart sal oorleef nie.

“Soms voel hulle ook dat daar ’n klein afgod van die oorledene gemaak word. Hulle word voortdurend met pyn gekonfronteer, ander mense s’n en ook hul eie.

“In die jare ná Janie se dood kon ek my pasiënte se seer beter begryp vanweë my kind se reis. My raad aan familie en vriende is altyd om in sulke omstandighede ook aan die sibbe aandag te gee en hulle te ondersteun.”

Die kwilt wat eers ná sewe jaar voltooi is

“Ek het geweet ek wil nie bitter wees nie. Janie se selfdood en ons rou oor haar moes met mekaar geïntegreer word. Ek wou nie toelaat dat my identiteit geleë moes wees in die feit dat ek die ma is van ’n dogter wat haar eie lewe geneem het nie.

“Daarom het ek verskeie positiewe projekte aangepak om haar mee te onthou. Ek het, byvoorbeeld, ’n roostuin voor haar kamervenster geplant. Toe ons later verhuis, is die rose in ons voortuin oorgeplant. Met haar 21ste verjaardag is nog ’n roostuin geskep. Ek snoei die rose altyd op haar verjaardag. Dit is baie terapeuties.

“Ek het ’n kwilt gemaak uit haar klere. Ek het die aand toe dit haar matriekafskeid sou wees met die kwilt begin. Toe ek haar klere begin stukkend knip, het dit gevoel of ek my hart verder versnipper. Ek het egter geweet dat sy daardie klere nooit weer sou dra nie en dat dié soort transformasie helend sou wees.

“Dit het sewe jaar geduur om die kwilt te voltooi. Soms het ek vir lang tye nie daaraan gewerk nie, net om dit dan weer nader te trek en verwoed daarmee voort te gaan. Ek het foto’s van Janie asook briefies wat sy geskryf het laat uitdruk en dit in die kwilt gevoeg. Ook die kruis is daar, sowel as die kosbare môrester.

“Uiteindelik moes my hartseer vrede word, my woede genade en my pyn liefde.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►