’n Paar dae gelede ry ek en my seuntjie verby ’n informele nedersetting. Hy sit stil en kyk na die sinkplate, die houtstrukture en die smal voetpaadjies tussen die huise. Toe vra hy: “Mamma, hoekom bou die mense hul eie huise?”
Ek het nie dadelik ’n antwoord vir hom gehad nie. Want hoe vertel ’n mens aan ’n kind dat miljoene Suid-Afrikaners steeds sonder behoorlike behuising leef terwyl ander in luuksheid woon? Hoe verduidelik jy dat ons een van die mees ongelyke samelewings ter wêreld is?
Die profete se ongemaklike boodskap
Ek wonder soms wat die Ou-Testamentiese profete sou sê as hulle vandag saam met ons deur Suid-Afrika sou ry en in sommige buurte vertoef. Ek vermoed Amos sou nie baie lank stilgebly het nie. Jesaja ook nie. En Miga beslis nie. Hulle sou waarskynlik oor geregtigheid gepraat het en niks oor allerlei ekonomiese beleidsrigtings te sê gehad het nie.
Die wêreld waarin hulle geleef het, verskil in baie opsigte van ons s’n, maar die menslike hart het nie verander nie. Destyds was daar konings, magtige families en ’n politieke elite wat hul eie belange beskerm het terwyl die armes al hoe swaarder gekry het.
Die profete was nooit gemaklik met die sosiale ongelykheid van hul tyd nie. Hulle het dwarsdeur die maklike verskonings gekyk en deur die politieke propaganda gesien. Hulle het die mooi toesprake aangehoor vir wat dit was. Hulle het deurentyd gevra: Hoe gaan dit met die mense? Hoe is dit met die weduwees gesteld, die kinders, die arbeiders, die gestremdes, die vreemdelinge?
LEES OOK: Hondehelde: ’n terapiehond, ’n beskermengel en ’n kankerversorger
Amos se woorde bly vandag nog relevant: “… omdat hulle regverdiges vir geld verkoop en behoeftiges vir ’n paar sandale. Hulle trap op die stof van die aarde, op die koppe van armes; en stoot weerloses uit die pad” (Amos 2:6-7).
Amos waarsku teen mense wat die armes vertrap. Jesaja veroordeel leiers wat geregtigheid vir persoonlike gewin verruil. Miga konfronteer dié wat mag het en wat dit gebruik om hulleself te bevoordeel.
Dit is waarom die destydse profete se boodskap vandag nog relevant is. Nie omdat hulle politieke aktiviste was nie, maar omdat hulle God se hart verstaan het.
Maar presies hier raak hul boodskap nogal ongemaklik: Hulle sê nie bloot wat God van ons leiers verwag nie; hulle sê wat God van óns verwag. Hoor dan vir Miga: “Wat vra die Here van jou anders as om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys, en nederig die pad saam met jou God te loop?” (Miga 6:8).
En eintlik is Miga se verwoording van God se geregtigheid baie eenvoudig. Kom ons kyk daarna:
Om reg te laat geskied
Dit beteken dat ons nooit mag vrede maak met onreg bloot omdat dit ons nie direk raak nie. Dit beteken om te vra wat ons kan doen met die invloed, geld, kennis en geleenthede wat aan ons toevertrou is.
Om liefde en trou te bewys
Geregtigheid sonder liefde is dikwels ’n harde saak. Dis moontlik om teen onreg standpunt in te neem en terselfdertyd nooit die mens agter die probleem raak te sien nie. Die profete se oproep is nie om die armes bloot jammer te kry nie, maar om hul waardigheid te erken.
Die profete het geweet dat ware godsdiens nie net aanbidding, offers bring en mooi geloofstaal inhou nie. Dat godsdiens veral ook die deernisvolle behandeling van ander behels.
Om nederig saam met God te loop
Nederigheid herinner ons daaraan dat ons nie die middelpunt van die verhaal is nie. Dat geregtigheid nie begin wanneer ander verander nie, maar wanneer ons onsself eerlik ondersoek en toelaat dat God ons hart opnuut verander.
Wat my egter die meeste tref van al die profete, is dat hulle nie net kritiek gelewer het nie; hulle het ook hoop gebring. Hulle kon die samelewing se gebrokenheid helder sien, maar kon hulle terselfdertyd ’n ander toekoms verbeel. Hulle het geglo dat geregtigheid moontlik is. Dat leierskap met integriteit moontlik is. Dat ’n samelewing waar die kwesbares beskerm word moontlik is.
Sinisme is geen antwoord nie
En dit is dalk dié uitdaging vir ons tyd. Ja, dis maklik om sinies te word, om te dink korrupsie is onafwendbaar en dat selfverryking nou maar eenmaal deel van politiek is. Dat niks ooit sal verander nie.
Die profete het egter geweier om sinisme as wysheid te aanvaar. Hulle herinner ons daaraan dat God steeds geregtigheid eis. Dat Hy die armes se noodkrete hoor. Dat Hy mense roep om die waarheid te praat wanneer leuens al hoe makliker word.
En miskien is Miga se vraag vandag net so relevant soos dit eeue gelede was: Wat vra die Here van ons?
Dis duidelik dat dit nie stilte in die aangesig van onreg is nie, en nie die beskerming van die korrupte vooraanstaandes nie. Dis nie lojaliteit aan ’n politieke party ten koste van lojaliteit aan die waarheid nie.
Hier moet ons langer vertoef …
Toe my seuntjie my vra hoekom sommige mense hul eie huise moet bou, het ek nie ’n eenvoudige antwoord gehad nie. En miskien is dit ’n vraag wat ek nie te vinnig moet probeer beantwoord nie, maar een waarby ons almal langer moet vertoef.
Want solank sommige mense gemaklik leef terwyl ander net probeer om te oorleef, bly Miga se woorde ’n aanklag én ’n uitnodiging. Dis nie om die hele wêreld eensklaps reg te maak nie, maar om reg te laat geskied, om liefde en trou te bewys, en om nederig die pad saam met ons God te loop.
Wie kan dit misverstaan? En wie kan dit ignoreer?
- Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.





















