Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘My boetie se laaste dae voor sy dood het die hemel se werklikheid vir my bevestig’ – sangeres deel vandag landswyd sy getuienis

Die laaste dae voor Joshua Smith se dood het vir sy suster, die sangeres Chané B, die werklikheid van die hemel bevestig.

“Ek het toe geweet iets is besig om te gebeur,” sê sy vandag. “Ek kon dit nie verduidelik nie, maar dit was asof God my voorberei het.”

Sy praat met oortuiging oor die werklikheid van die hemel, van Jesus se liefde, en van die hoop wat selfs die dood nie kan wegneem nie. Hierdie geloofsoortuiging is nie gebore uit ’n teologiese debat of ’n preek nie; dis gevorm deur die lewe en sterwe van haar broer Joshua, wat aan spierdistrofie gely het.

“Joshua se ervaring van Jesus in die hospitaal het ons hele familie se lewe verander,” sê sy.

‘Hy het iets van Jesus uitgestraal’

Joshua het jare lank met spierdistrofie geleef, ’n aftakelende siekte waardeur die spiere geleidelik verswak. Namate sy siekte progressief vererger het, het dit vir hom al hoe moeiliker geword om gewone daaglikse take te verrig. Dit was vir sy ma, Franzette Herbst, en vir die res van die familie hartverskeurend om te sien hoe die siekte stadig maar seker sy liggaam afbreek.

“Daar was baie uitdagings en bitter moeilike dae,” vertel Chané. “Maar wat my altyd opgeval het, was sy geloof. Hy het nooit sy liefde vir Jesus verloor nie. Selfs wanneer sy liggaam hom in die steek gelaat het, het sy gees sterk gebly.”

Joshua het ’n besonderse vermoë gehad om mense gerus te stel en hoop te gee, selfs wanneer hy swaargekry het. “Hy het iets van Jesus uitgestraal,” sê Chané. “Almal het dit raakgesien. Daar was ’n vrede in hom wat nie van hierdie wêreld is nie.”

Gereelde drome

In 2025 het Chané na Amerika gereis vir opnames. Dit was ’n opwindende tyd in haar lewe. Sy was besig om nuwe musiek te skryf en het gevoel sy leef die roeping uit wat God haar gegee het.

LEES OOK: ‘Ek het die hemel ervaar,’ vertel vrou wat byna aan Covid-19 sterf

Maar te midde van die opnames het iets begin gebeur wat sy nie kon verklaar nie: “Ek het gereeld oor Joshua gedroom,” vertel sy. In dié drome het sy haar broer gesien terwyl hy hemel toe gaan.

“Dit was nie gewone drome nie; daar was ’n dringendheid daaraan.” Kort daarna het sy ’n boodskap van haar ouers in Suid-Afrika ontvang: Joshua is ernstig siek.

“Toe ek dié tyding kry, het iets in my net geweet ek moes na hom toe gaan. En ek het onmiddellik begin reëlings tref.”

Tydens die lang reis terug Suid-Afrika toe het sy aanhou bid, gepleit vir ’n wonderwerk. “Ek het geglo God kan hom genees. Ek het die hele ent gebid. Ek wou net by hom uitkom.”

Die blomme wat nooit verwelk nie

Terwyl Joshua in die hospitaal was, het hy iets beleef wat die familie nooit sal vergeet nie. Kort voor sy dood het hy hulle vertel van ‘n droom waarin hy die hemel gesien het.

“Hy het vertel van ’n wondermooi vallei. Alles was vol lewe, lig en vrede.”

Daar was ’n uitgestrekte veld vol blomme. “Hy het gesê die kleure was mooier as enigiets wat ons ken. En die blomme het nooit verwelk nie.”

Chané sê daardie blomme het vir haar ’n diep betekenis gekry. “Dit was vir my soos ’n prentjie van die ewigheid. Alles op aarde verwelk en gaan verby, maar dit wat God vir sy kinders berei het, bly vir ewig.”

Joshua het met groot sekerheid oor die droom gepraat. “Dit was asof hy reeds geweet het waarheen hy op pad was,” vertel sy suster.

Een van die roerendste oomblikke saam met Joshua het in sy laaste ure op hierdie aarde afgespeel. Hy was reeds bewusteloos en het skaars op sy omgewing gereageer. Tog het daar ’n merkwaardige vrede in die hospitaalkamer geheers.

“Ons kon dit voel,” vertel Chané. “Dis moeilik om te beskryf, maar dit was asof God se teenwoordigheid die kamer gevul het.”

Joshua het begin mompel, so asof hy met iemand praat. Daar was niemand anders teenwoordig nie. Toe het sy ma sag gevra: “Joshua, kan jy Jesus sien?”

Eensklaps het hy stilgebly, en toe knik hy sy kop. Daarna het hy verby sy ma gekyk, na iets of iemand agter haar wat niemand anders kon sien nie. “Daar was geen vrees nie. Geen angs nie. Geen worsteling nie. Net vrede.” Dit was ’n heilige oomblik vir die familie. “Dit was asof Jesus daar was om hom te verwelkom.”

’n Bediening word gebore

’n Week nadat Chané in Suid-Afrika aangekom het, het Joshua op die ouderdom van 26 gesterf. Dié verlies het ’n verwoestende uitwerking op haar lewe gehad. “Hy was my broer. Hy was my vriend. Daar was ’n enorme leemte.”

Te midde van die hartseer het sy begin terugdink aan die drome wat sy in Amerika gehad het. “En skielik het alles sin gemaak. Ek het besef God was besig om my voor te berei.

“Ek het besef die hemel is werklik. Jesus is werklik. En die dood is nie die einde vir mense wat aan Hom behoort nie. Ek glo vandag, meer as ooit, dat Jesus by ons is in ons moeilikste oomblikke.”

Joshua se afsterwe was nie die einde van sy verhaal nie. Chané en haar familie het besluit dat Joshua se getuienis nie by ’n graf sou eindig nie. “Ons het geweet ons moet voortbou op dit wat God in en deur sy lewe gedoen het.” Daarop het hulle ‘n skolebediening genaamd Joshua Ministry begin wat jong mense regoor Suid-Afrika bereik.

Wat as ’n eenvoudige eerbetoon begin het, het vinnig gegroei. Vandag het dié bediening reeds meer as 30 skole besoek en duisende jong mense betrek. “Ons praat met hulle oor Jesus, oor identiteit, oor hoop en oor die werklikheid van die ewigheid.”

Hulle sien hoe jong mense hul hart vir die Here gee. “Ons het al soveel wonderlike dinge beleef: Van jonges wat nuwe hoop kry; van leerders wat hul lewe aan Jesus oorgee; van skoolkinders wat ontdek dat hulle waarde het.”

‘God bring lewe’

Vir Chané, wat saam met haar man Eduan Beeselaar in Robertson woon, is dit die mooiste deel van Joshua se nalatenskap. “Wat die vyand as pyn bedoel het, het God gebruik om lewe te bring.”

Wanneer Chané vandag aan haar broer dink, dink sy steeds aan die blomme wat hy in sy droom gesien het. Blomme wat nooit verwelk nie, wat nooit doodgaan nie. “Daardie beeld bly by my,” sê sy. “Dit herinner my daaraan dat hierdie lewe nie alles is nie. En ek weet ek en Joshua sal mekaar weer sien.”

Joshua se lewe het geëindig, maar sy invloed leef voort. Want deur sy getuienis ontdek mense steeds die werklikheid van Jesus. In sy verhaal vind hulle hoop.

Kyk na Koos Kruger van Bloemfontein se vertelling van hoe hy die hemel besoek het.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
LiGland Kyk nou ►